• Tuisblad
  • Sake
  • OBK het belê by Abraaj-groep wat wil likwideer
OBK het belu00ea by Abraaj-groep wat wil likwideer
OBK het belu00ea by Abraaj-groep wat wil likwideer

OBK het belê by Abraaj-groep wat wil likwideer

Die firma het die afgelope maande onder druk gekom van sommige van die beleggers in sy fondse soos die Bill Gates-stigting wat beweer hy het die geld wanaangewend.
Nellie Brand-Jonker

Suid-Afrika se Openbare Beleggingskorporasie (OBK) het ook in ’n fonds van die Abraaj-groep van die Midde Ooste belê wat Donderdag aangekondig het hy doen aansoek om likwidasie.

Die Abraaj-groep wat sy hoofkantoor in Dubai het, het fondse gestig waarin beleggers geld kon plaas en daarmee het hy weer beleggings gedoen.

Die OBK het tot einde Maart verlede jaar namens die Staatsdienspensioenfonds (GEPF) nagenoeg R399 miljoen in die private-ekwiteitsfonds Abraaj Africa Fund III belê, toon sy jaarverslag.

Dit is nie bekend of die OBK in die afgelope jaar nog belê het nie.

Vrae is aan die OBK gestuur om te bepaal hoe die likwidasie van die groep sy beleggings gaan raak, maar hy het nie betyds gereageer nie.

Libstar

Die bekendste belegging van Abraaj in Suid-Afrika is in die voedselvervaardiger Libstar wat in Mei genoteer het.

Die OBK het in sy jongste jaarverslag gesê hy het in Desember 2014 namens die GEPF in ’n konsortium deelgeneem wat deur die batebestuurder van die groep Abraaj Investment Management Limited (AIML) gelei is om ’n kapitaalbelegging te doen om 19,7% van Libstar te bekom.

Abraaj het met Libstar se notering in Mei ’n groot deel van sy aandele verkoop, maar dit is nie bekend hoeveel die OBK verkoop het nie.

Die GEPF het die belegging in Libstar einde Maart verlede jaar as R1,3 miljard getoon.

Abraaj het Donderdag aangekondig sy beheermaatskappy wat in die Kaaiman-eilande geregistreer is, het aansoek om likwidasie gedoen.

Dit kan een van die private-ekwiteitsbedryf se grootste ineenstortings wees, het die Wall Street Journal berig.

Arif Naqvi (57), ’n Pakistanse sakeman, het Abraaj in 2002 in Dubai gestig.

Hy het vroeër die jaar amper US$14 miljard (in die huidige wisselkoers amper R187,2 miljard) bestuur en het ’n kantoor in Johannesburg gehad.

Die firma het egter die afgelope maande onder druk gekom van sommige van die beleggers in sy fondse soos die Bill Gates-stigting wat beweer hy het die geld wanaangewend.

Twee skuldeisers wat geld geleen het aan die groep beweer honderde miljoen dollar word aan hulle geskuld.

Aansoek

In ’n verklaring het Abraaj-groep gesê die aansoek is gebring om die regte van alle belangegroepe te beskerm terwyl die likwidateurs en die maatskappy ’n ooreenkoms oor sy verpligtinge kan bereik.

Die aansoek is glo gebring om sy skuldeisers voor te spring.

Die aanstelling van voorlopige likwidateurs sal ’n “moratorium plaas op alle ongesekureerde eise teen die maatskappy” sodat hy kans kry om ’n voorstel aan krediteure te maak.

Na die klagtes van die beleggers vroeër het Abraaj vir KPMG aangestel om ondersoek in te stel. KPMG het die maatskappy vrygespreek en gesê die regte prosedures is gevolg.

Die ondersoek het egter die beleggers se besorgdheid verdiep weens ’n waargenome botsing van belange.

Deloitte is in Februarie aangestel om twee fondse te oudit en het intussen bevestig beleggers se geld is tussen die gesondheidsorgfonds en nog ’n fonds verskuif.

Die ouditfirma het verlede week aan krediteure gesê senior bestuur moet vir swak beheer oor die geld geblameer word.

Deloitte sê hy het nie bewyse gevind dat die geld verduister is nie.

Abraaj was bekend vir sy kwistige partytjies soos ’n private konsert deur Tina Turner in Dubai. –Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!