Oefengroep hervat ondanks leë seisoen
Die Namibiese rugbyspan sal geen toetswedstryde vanjaar speel nie.
Andrew Poolman – Die Namibië Rugby-unie het reeds vrede gemaak met die werklikheid dat geen internasionale of toetsrugby vir die res van die jaar gespeel sal word nie.
Vir die nasionale oefengroep is die provinsiale SuperSport Uitdaagreeks en die Wêreldrugby Nasiebekertoernooi (normaalweg in Juniemaand) reeds van die baan en al Rugby Afrika se kontinentale kompetisies vir 2020 ook gekanselleer. Laasgenoemde reeks sou vanjaar tot twaalf lande vergroot gewees het en Namibië sou die verdediging van sy Afrika-titel laas naweek met 'n tuiswedstryd teen Zambië afgeskop het.
Die Rugby-unie (NRU) se president, mnr. Corrie Mensah, sê selfs vir die gedagte om enige wedstryde gedurende die gebruiklike November-vensterperiode vir internasionale rugby te reël, bestaan daar geen hoop nie.
“Selfs onder normale omstandighede (sonder die verwoestende nadraai van die Covid-19-pandemie en die onvoorspelbare vooruitsigte) sou ons teen hierdie tyd reeds met reëlings moes begin het om enige toer gedurende November te laat gebeur,” sê hy.
Tot nou bestaan steeds geen waarborg dat rugby op enige vlak vanjaar in die land gespeel gaan word nie.
Die nasionale afrigter, mnr. Johan Diergaardt, sê ingevolge die nasionale regulasies se heropening van gimnasiums sal die aangewese oefengroep vandag hul eerste oefensessies in die gimnasium by die Hage Geingob-stadion hê.
“In hierdie stadium beplan ons ook maar net dag tot dag, of week vir week soos die regering bepaal. As wetsgehoorsame burgers laat ons ons deur hul bepalings lei.
“Die gimnasiumprogram is die eerste stap om ons spelers onder hierdie abnormale omstandighede in 'n posisie te plaas om rugby te kan speel. Indien klubrugby later realiseer, sal die spelers daarvoor vrygestel word en ons program sal daarby aanpas.
“Daar is nie oral in die land gimnasiums nie, maar ons het een beskikbaar en is voornemens om dit positief te gebruik om die land se rugby te bevorder. Op die oomblik is dit maar almal wêreldwyd se uitgangspunt – om in Januarie of wanneer rugby ook al normaliseer, daarvoor gereed te wees.”
Sover dit klubrugby betref, bly die vooruitsigte steeds onseker.
In 'n NRU-nuusbrief aan die klubs het Mensah gesê die strewe is dat sodra klubs die groen lig kry om oefeninge te hervat, binne drie daarna wedstryde “in 'n soort ligaprogram” gespeel kan word.
“Meer besonderhede sal dadelik gekommunikeer word sodra ons meer duidelikheid van die regering kry.”
• Op administratiewe vlak word uitgewys dat die soeke na bekwame kandidate steeds aan die gang is om die geadverteerde posisie as uitvoerende hoof van die NRU te vul.
Die Rugby-unie sal ook sy algemene jaarvergadering op 27 Junie hou, by 'n venue wat later bevestig sal word. Geen ander agendapunte sal bygevoeg word nie, behalwe wysigings aan die grondwet waarop die Sportkommissie aangedring het.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie