Old Boys oorleef op Walvisbaai

Kwesbare kolfwerk is die naweek weer eens ontbloot met kleinerige totale aan die orde van die dag.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Die geluk was aan die kant van WHS Old Boys toe hy Saterdag op die Sparta-veld op Walvisbaai met 22 lopies teen die MR24/7 Welwitschias aan die wenkant was.

Dié uitslag besorg die Windhoekers voorlopig die alleenvoorsprong in Krieket Namibië se premierliga vir eendagkrieket (50 boulbeurte).

WHS sou waarskynlik kwesbaar gevoel het ná afloop van hul ondergemiddelde kolftotaal van 133 almal uit, waarin die kusspan se belowende draaibouler Mauritius Ngupita uitgeblink het deur ses kolwers te laat terugstap (6/15 in 8 boulbeurte, twee leeg).

Die Windhoekers se twee grootste kanonne met die kolf het hierdie keer beide misluk. Die nasionale kaptein Gerhard Erasmus is vir net 2 uitgevang en die nasionale rekordhouer Craig Williams moes vir 19 lopies terugstap (52 balle, drie viere).

Die kolfpoging kon inderdaad 'n groter fiasko gewees het as Old Boys se onlangse aanwins uit KwaZulu-­Natal, Riaan Minnie, nie as aanvangskolwer vasgeskop het met 'n oordeelkundige vyftigtal nie. Minnie het 55 lopies van 57 balle behaal, met ses viere en 'n ses.

Die ineenstorting van die WHS-kolflys was skouspelagtig, met Ngupita se draaiballe wat die grootste skade aangerig het. Vanaf 91/3 (met Minnie se vertrek) en 100/4 (toe Williams uit is) het die Windhoekers verbrokkel tot 133 almal uit.

Die aanvangsbouler Matthew Stander het ook goed gevaar vir die tuisspan met 2/19 in vyf boulbeurte. Die veteraan Gerrie Snyman se boulwerk is ook met die grootste respek behandel (0/8 in 4 bb).

Die kusspan se jaagtog na dié klein wenteiken het egter op 111 almal uit te kort geskiet.

Die Welwitschias, ná hul derde nederlaag, sal gewis 'n paar vrae moet vra oor wat geword het van die momentum wat hulle aan die begin van die liga met vier opeenvolgende oorwinnings opgebou het.

Hoewel Craig Williams nie met die kolf presteer het nie, was sy medium­boulwerk deurdringend, soos sy vier paaltjies getuig (4/21 in 10 bb). Net so het Gerhard Erasmus ook as bouler vergoed met 2/22 in 10 bb, terwyl Vernon Cloete giftig teen die stertkolwers was (3/9 in 4.3 boulbeurte).

Die Welwitschias se Gerrie Snyman het as nommer vier sy span uit die moeilikheid probeer kolf (32 van 51 balle, 2x4 2x6), maar uiteindelik was dit net hy en die kaptein Shalako Groenewald (23 van 29 balle, 2x4) wat dubbelsyfers kon behaal.

In die afwesigheid van die gereelde kaptein Lauritz Haccou het die toporde van Mias Strauss (7), Steve Winborn (0), Marco Malan (2), Matthew de Gouveia (3) en Nian Grobler (3) gewis nie met genoeg lopies vorendag gekom nie.

TIGERS ROL OOR UNITED

As die verdedigende kampioenspan klou CCD Tigers darem nog aan sy vierde posisie op die puntelys, nadat hy soos verwag die oorhand gekry het in sy tuiswedstryd teen die sukkelende Trustco United.

Die arme Filistyne is steeds wenloos en hul soveelste swak kolftotaal (80 almal uit) boesem min vertroue in vir hul oorblywende wedstryde.

Trek die CCD-boulers se ge­samentlike 18 wydlopers af, en die gesukkel van United se topkolwers, wat op papier nie na 'n hopelose kombinasie lyk nie, word nog meer teleurstellend.

Trouens, United se swak begin (8/1 en 8/2) was sonder enige lopies van die kolf af, met nulletjies vir Hendrik van der Walt en Tino Chiwara.

Die voormalige nasionale o.19-sterre Eben van Wyk (1) en Lo-han Louwrens (2) kon ook nie staande bly nie en die ervare staatmaker Darren van Dyk is vir 2 uitgevang.

Net een United-kolwer het hoegenaamd die mas opgekom, naamlik Danie van Schoor op nommer vyf, wat enduit staande gebly het vir 36 nie uit nie van 83 balle, met net 'n enkele grenshou, vir die span se enigste dubbelsyfers.

CCD Tigers se bouleenheid sal afgesien van die wydlopers tevrede voel met hul dag se werk. Ben Shikongo (2/16 in 8 bb) en Elton Ambambi (4/20 in 10) het as aanvangspaar beide vroeg deurgebreek, terwyl Ramon Wilmot later met sy draaiers doeltreffend was (2/16 in 7). Mika Mutumbe, Nicol Loftie-Eaton en Pikky ya France het ook weinig lopies afgestaan.

Die United-boulers het uiteraard geen kans gestaan om só min op die telbord te verdedig nie. Die enigste paaltjie het op 70/1 geval, toe Stephen Baard (30 van 42 balle, 3x4 1x6) deur Lo-han Louwrens van Darren van Dyk se boulwerk uitgevang is.

Baard se aanvangsvennoot Ramon Wilmot was nie uit nie op 37 (59 balle, 2x4 1x6), terwyl dit vir Nicol Loftie-Eaton ook net kortstondig nodig was om in te stap (6* van drie balle, 1x4).

• Komende Saterdag is 'n afnaweek in die premierliga. Die twee wed­stryde op 15 Februarie is die Welwitschias se besoek aan United, asook CCD se tuiswedstryd teen sy buurklub Samsung FNB Wanderers.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!