Om te boikot of nie
Om te boikot of nie

Om te boikot of nie

Denver Kisting
Die uitvoerende direkteur van inligting en kommunikasietegnologie, mnr. Mbeuta Ua-Ndjarakana, sê afgelope Woensdag Namibiërs het nie die gewoonte om vir koue pampoen te skrik nie.

Ons leef reeds die afgelope 30 jaar deur vigs en staan syns insiens steeds sterk.

Derhalwe, sê hy, moet ons nie ’n coronavirusuitbreking toelaat om ons planne om 30 jaar se onafhanklikheid te vier, te demp nie.

Selfs al daag geeneen van die 32 genooide staatshoofde op nie, daar sál gevier word, sê hy.

Dis ons land. Dis ons onafhanklikwording. Dis ons 30 jaar. Dis ons partytjie.

Maar ’n hardnekkige vraag die afgelope weke is of ’n mens die feesvieringe moet boikot al dan nie.

Die jeugliga van die amptelike opposisie, die Popular Democratic Movement (PDM), sê hulle gaan nie Saterdag 21 Maart 2020 op Onafhanklikheidstadion deurbring nie.

Hul president sê ’n mens vier mos nie jou verjaardag wanneer jy siek is nie.

Namibië is wat hom betref nie gesond nie.

Die Landless People’s Movement (LPM) se jongelinge neurie dieselfde deuntjie.

Hulle sal elders wees, sê hulle.

Hulle sal onder meer gratis sanitêre doekies uitdeel.

Ek sal daai dag in die stadion wees.

Ja, ek weet, ek verdien dikwels my bruinbrood en grondboontjiebotter deur agter die president aan te hardloop.

Maar ek en my huis – ons sal ons land dien.

As joernalis is ek (on)gelukkig terdeë bewus van hoe siek ons land plek-plek is.

Ek besef korrupsie se byt is soos dié van ’n brandsiek hond met lewensgevaarlike tande. Of is dit ’n vis?

Ek besef danksy my eie leë beursie, brandstoftenk en koskas ons ekonomiese ellende vat geen k*k van enige kabouter nie.

Ondanks mooi broodjies oor ’n vaartbelynde aanlyn stelsel en oorgenoeg groenboekievoorraad, wag ek nou al langer as twee maande vir my nuwe paspoort.

Ja, ek weet vanweë corona en my leë beursie kán ek nêrens reis nie, maar steeds.

Die Land van die Dapperes is geen Kanaän nie – die melk is suur en die heuning is gesteel. En die polisie trek skouers op.

Maar ek stem saam met die man wat nie volgende Saterdag as staatshoof ingehuldig word nie.

Die onafhanklike tandarts se eenversgesang lui dat dié Namibië ál is wat ons het.

Die man wat (na verwagting) wel volgende Saterdag ingesweer word, sê in dié Huis – ons enigste – moet niemand onwelkom laat voel word nie.

Daarmee stem ek ook saam.

As gay man voel ek dikwels tog onwelkom en dat dié Namibië, wat ál is wat ons het, nie genoeg is nie.

Maar ons het moer baie om voor dankbaar te wees.

Dit is so dat baie ontluikende demokrasieë kort ná hul onafhanklikwording die pad byster geword het.

Dit is so dat ons 30 jaar se vrede en bestendigheid geniet – iets wat ons as vanselfsprekend aanvaar.

Dit is so dat van ons darem nog ’n werkie het – selfs een waarvan ons hou en waarmee ons ’n klippie of twee uit die skoene van ons minder bevoorregte geliefdes kan haal.

En wat veral ’n voldonge feit is is dat ons álmal ’n verantwoordelikheid het om die Namibië waarvan ons individueel en gesamentlik droom ’n werklikheid te maak.

Vinger wys en blaamsverskuiwing dien geen opbouende doel nie.

Wat jy ook al volgende Saterdag doen, moet dít nooit vergeet nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!