Omaheke se geldsake duister
Omaheke se geldsake duister

Omaheke se geldsake duister

Die streek se hoofbeampte lê die blaam vir die boekhou-chaos voor haar eie werknemers se deur.
Augetto Graig
Augetto Graig



Die Omahekestreekraad is van 'n konsultant se boekhoudienste afhanklik, wat hulle maandeliks meer as N$160 000 kos.

Dié bedrag sluit nie verblyf en etes in, wat ook verskaf moet word nie.

Volgens die hoof- streekbeampte, me. Maria Vaendwanawa, kan dit nie anders nie.

“As ek nie daai konsultante het nie, sal niks gedoen word nie,” sê sy.

Vaendwana het Maandag voor die Nasionale Raad se staande komitee op openbare rekeninge en die ekonomie rekenskap van haar streek se finansiële rekords gegee.

Vrae is op die ouditeur-generaal se jaarverslag oor die Omahekestreek se boekjaar tot 23 Maart 2016 gebaseer.

In die verslag sê die ouditeur-generaal se kantoor die Omahekestreek het in daai jaar meer as N$4,2 miljoen vir boekhoudienste betaal, ten spyte van 'n interne boekhouspan op die kantoor se betaalstaat.

Selfs BTW-terugbetalings is volgens die verslag deur nog 'n eksterne diensverskaffer teen 'n koste van meer as N$400 000 behartig.

Die uitgerekte vraag-en-antwoord-sessie is deur mnr. Phillip Shikongo, die komitee se adjunkvoorsitter, gelei en het 'n donker prentjie van die droogtegeteisterde streek se geldsake geskets.

Boonop het die regering 'n verbod op die gebruik van konsultasiedienste van Mei af ingestel.

Die raadslede mnre. Joseph Mupetami, Gerhard Shiimi, Cornelius Kanguatjivi en John Likando het vrae gestel oor vermiste miljoene, dokumente wat voete gekry het, herhaalde betalings aan diensverskaffers en die vaardighede van die raad se finansiële werknemers.

Vaendwanawa het erken: “Ek het 'n ernstige probleem.”

Oor die raad se finansiële afdeling het sy gesê: “Ek het 'n afdeling wat jare al misluk.”

Volgens haar word meer as 35 bankrekeninge, wat aan die raad behoort, se boekhouding eenvoudig nie gedoen nie.

Bankrekonsiliasie bly gedurig in die slag weens haar werknemers se gesloer, sê sy.

Vier werknemers van die finansiële afdeling, wat die sessie bygewoon het, het aangevoer die gesloer is vanweë hul werklading en verwarring wat deur die konsultante veroorsaak word.

Hulle beweer Vaendwanawa het nog nooit hul griewe aangehoor nie.

Sy sê die interne boekhouers se ingesteldheid is een van weerstand teen verbetering of selfs sabotasie.

Sy sê boekhou by die streekraad is soms tot soveel as 'n jaar agterstallig en sperdatums word nie altyd nagekom nie.

Boonop weier die interne boekhouers om aan opleiding en kapasiteitsbou deel te neem sodat die konsultante se dienste nie benodig word nie, het sy gesê.

“Die verhouding tussen my en my span is iets wat ek nie kan beskryf nie,” het sy gesê.

“Dit is nie goed as jou mense in finansies se houding en gedrag nie aanvaarbaar is nie. Hierdie nieprestasie is ook 'n kultuur, maar hulle moet onthou die mislukking van die persoon bo begin by die persoon onder,” het sy gesê.

Vaendwanawa het daarop aangedring dat die konsultante nodig was om bedrog by die streekraad te voorkom.

“Ek het die kontantkoei getem,” het sy gesê en genoem geld en dokumente het verdwyn.

Sy het in 2017 'n versteekte dokument opgespoor wat met Build Together-geld verband hou, het sy gesê.

Dié is volgens Vaendwanawa nou agter slot en grendel in 'n kluis in haar kantoor.

Baie ander onreëlmatighede is met die IGBS-konsultante se hulp ontbloot, wat die Pastel Evolution-boekhoustelsel geïmplementeer het, het sy gesê.

Ongerymdhede is reeds in die 2014-'15-boekjaar aangemeld en weerstand is toe al opgemerk teen die elektroniese stelsel, wat minder ruimte vir bedrog bied.

Die betrokke ouditverslag is deur die ouditeur-generaal se kantoor met vrywaring uitgereik weens onder meer verskille van meer as N$33 miljoen op die ontwikkelingsrekening waarvoor nie rekenskap gegee kan word nie.

Die gesamentlike fondsrekening toon 'n verskil van meer as N$28 miljoen.

Rekords van meer as N$15,7 miljoen word vermis, terwyl verskille van meer as N$916 000 by betaalbare rekeninge ontdek is, en meer as N$352 000 se diensverskafferbetalings is oorverklaar.

Beswaar is gemaak oor 'n verskil van N$32 miljoen op die raad se kontantvloeistaat.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!