Onder 18-rugbyspan vervang drie spelers
Die Namibiërs open hul toernooi teen die Goue Leeus Platteland.
Andrew Poolman - Agri Kollege van Grootfontein het drie rugbyspelers as laat plaasvervangers verskaf in die plek van drie wat uit die Namibiese o.18-rugbyspan moes onttrek.
Die Namibiërs vertrek Vrydagoggend na Bloemfontein, waar die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (Saru) se o.18 Akademieweek volgende week by Grey Kollege begin.
Namibië se openingswedstryd is Dinsdagoggend teen die Goue Leeus Platteland. Vir speeldag twee (Donderdag 4 Julie) is aansoek gedoen om vir Kenia te ontmoet, hoewel die Oos-Afrikane blykbaar nie hul opwagting gaan maak nie.
Die laaste wedstryd twee dae later behoort soos tradisioneel teen Zimbabwe te wees.
Uit die aanvanklike span wat ná die proewe saamgestel is, het drie gekose spelers intussen onttrek.
Windhoek Gimnasium se skrumskakel Jahno du Plessis loop die rugbyweek mis om op sy studies te fokus, terwyl sy skoolmaat Ethan Rittmann (flank) asook Windhoek Hoërskool se veelsydige agterspeler Stuart Moller hulle beide vanweë harsingskudding moes onttrek wat tydens premierliga-wedstryde opgedoen is.
'n Drietal spelers van Agri Kollege, wie se eerste span in die Momentum o.19B-liga meeding, is as plaasvervangers nader geroep, naamlik die skrumskakel Christopher Deck, veelsydige agterspeler Ian Grobler en flank Gilles Jahs.
Die o.18 Akademieweek is sedert verlede jaar die hoogtepunt vir Namibië se skolespelers, nadat SWA/Namibië vanaf 1964 tot 2017 aan die Cravenweek deelgeneem het.
By verlede jaar se Akademieweek het die Namibiërs goed begin deur die Rooi Valke en vir Griekwas te klop, maar het op die laaste speeldag met 7-26 teen Zimbabwe in die stof gebyt.
LAASTE AFRONDING
Mnr. Ainsley Daniels, wat net soos verlede jaar die hoofafrigter is, sê die meerderheid van die span kom uit skole wat reeds 'n paar wedstryde in die Momentum o.19 premierliga gespeel het.
Sy span het Maandag in Windhoek vir hul finale paar oefendae byeen gekom en sal dus nie vooraf opwarmwedstryde speel nie, met moontlike beserings een van die beweegredes.
“Die Leeus-span is blykbaar nogal sterk in hul agttal. Ons het goeie spoed in ons agterlyn, maar ons weet ons sal eers voorlangs die regte grondslag moet lê om vanaf aan te val,” sê Daniels.
Die o.18-span het gister borgskappe van Standard Bank en AVI (Anglo Vaal Industries) ontvang.
Namens Standard Bank het mnr. Isack Hamata uitrusting oorhandig, terwyl AVI se skenking uit klerasie asook 'n geskenkpak met onder meer deodorantmiddels, lyfroom en stortseep aan elke toerlid oorhandig het.
WITRIVIER
Binnesenter Waldre Kotze het Dinsdag al die punte aangeteken vir die Namibiese laerskolespan wat in Witrivier sy tweede wedstryd by die o.13 Cravenweek verloor het.
Kotze, van Windhoek Gimnasium, het 'n drie gedruk, verdoel en ook met 'n strafdoel geslaag toe Namibië met 10-26 teen die Griffons die knie moes buig. Die Noord-Vrystaters het vier drieë gedruk waarvan drie verdoel is en was rustyd met 14-3 voor.
Die o.13's het Maandagoggend veel beter gespeel as wat hul verloortelling van 7-27 teen die Vrystaat aandui.
Die stut Nicholas van der Colff se drie, verdoel deur Kotze, het die eerste helfte op 12-7 in die Vrystaat se guns te staan gebring, hoewel die 22 punte sonder antwoord daarna eerder 'n geval was dat die Vrystaters hul geleenthede beter aangegryp het.
• By die Grant Khomo-week, ook op Witrivier, het Namibië se o.16-rugbyspan gister naelskraap met 20-23 teen die Iqhawe Impi's verloor.
Laasgenoemde is 'n ontwikkelingspan wat vir die eerste maal hier deelneem, gekies na afloop van die SA Iqhawe-week vir o.15-spelers uit skole wat nie tradisioneel rugby speel nie.
Beide spanne het drie keer gaan druk, met die Namibiese pogings wat deur die flank Keanan Januarie, senter Owen Hawanga en reserwe-voorspeler Herman Coetzee afgerond is. Denver Beukes (plaasvervanger-agterspeler) se doelskop en vleuel Ethan Koopman se strafdoel was hul ander vyf punte.
Die o.16-span se eerste wedstryd was 'n oorwinning Maandag met 29-6 teen die Grens Platteland. Die vier Namibiese driedrukkers was vleuels Denver Beukes en Jason Beukes, senter Owen Hawanga en reserwe-heelagter Naude Krone. Ethan Koopman se nege skoppunte het drie doelskoppe ingesluit.
• Vandag sluit die Namibiese o.13-span om 17:00 teen Zimbabwe af, terwyl die o.16's se nie-amptelike “toets” ter afsluiting teen Zimbabwe môre voorlê.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie