Ondersoek na ongewenste verhoudinge
Ondersoek na ongewenste verhoudinge

Ondersoek na ongewenste verhoudinge

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



Intieme verhoudinge tussen onderwysers en leerlinge kom algemeen in veral plattelandse skole in Namibië voor. Terselfdertyd is ouers, onderwysers en skoolhoofde hiervan bewus, maar 'n kultuur van geheimhouding daarvan het ontstaan omdat geen stappe teen die betrokke onderwysers gedoen word nie.

Die DTA van Namibië se lid wat na onderwysaangeleenthede omsien, me. Elma Dienda, het dit as “kommerwekkend” beskryf en verwys na 'n voorval waarin 'n 56-jarige onderwyser, mnr. Moses Shingo, na bewering die borste van 'n graad 9-leerling betas het. Shingo se verweer was glo dat hy wou vasstel of sy swanger is.

“Selfs al was die meisie swanger, is dit die plig van die skoolsielkundige of -terapeut om te bepaal of dit wel die geval is en haar van die nodige raad te bedien. Dit is nié die plig van die manlike onderwyser om haar privaatheid binne te dring deur haar borste te betas en haar sodoende seksueel aan te rand nié.”

Die feit dat die onderwyser bloot 'n boete ontvang en onmiddellik na die skool teruggekeer het, is volgens Dienda'n duidelike teken dat “nóg die howe nóg die skoolstelsel” voorvalle van seksuele aanranding van leerlinge deur onderwysers met die erns hanteer wat dit verdien.

“Wanneer onderwysers wat hieraan skuldig bevind word, toegelaat word om onmiddellik na die klaskamer terug te keer, watter uitwerking het dit op ander leerlinge wat deur dieselfde onderwyser onderrig word?”

Volgens haar is daar reeds genoeg struikelblokke tot onderrig dat leerlinge nie ook onder 'n “konstante vrees” vir seksuele teistering en aanranding deur hul onderwysers moet leef nie.

Dienda het voorts gesê dit skep wantroue en ongesonde verhoudinge­ tussen leerlinge en onderwysers en kan ook verkeerdelik die indruk skep dat seksuele verhoudinge met toestemming tussen leerlinge en onderwysers toelaatbaar is.

Volgens Dienda is die gepaste optrede dikwels te laat en word die meisie gedwing om weens 'n swan­g­erskap die skool te verlaat. Sy het verwys na Namibië se vele wette en beleidsrigtings om weerlose kinders te beskerm, maar volgens haar lê die probleem by die toepassing hiervan. Dienda het 'n beroep gedoen op die kinderadvokaat wat kragtens die Kindersorg en Beskermingswet (2015) in die kantoor van die ombudsman gesetel is, om die Shingo-voorval, sowel as ander ongeoorloofde verhoudinge tussen leerlinge en onderwysers te ondersoek.

“Dit is veral nodig in plattelandse gebiede en met die doel om die gepaste stappe te doen wat 'n sterk boodskap aan potensiële oortreders uitstuur om 'n herhaling hiervan te voorkom.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!