Onderwys - Die duur prys van korrupsie
Onderwys - Die duur prys van korrupsie

Onderwys - Die duur prys van korrupsie

Dani Booysen
Godfrey Kleinhans

Geen onderwysstelsel is geisoleerd teen korrupsie nie. Oortredings soos omkopery, nepotisme, onregverdige bevoordeling, onreëlmatige aanstellings van personeel en toelatings van leerlinge, die onreëlmatige toekenning van tenders (byvoorbeeld vir die lewering van handboeke en voedsel), die wanaanwending van fondse en toerusting, diefstal en ongemotiveerde afwesigheid kan ook in opvoeding plaasvind.

Ek onthou voorbeelde hiervan nog goed uit my onderwysjare.

In die tagtigerjare het die skool waar ek hoof was na ‘n nuwe perseel verkuif. Die skool is ook van nuwe meubels en toerusting voorsien aangesien die ou perseel deur ‘n nuutgestigte junior sekondêre skool betrek sou word.

Die prys van ‘n elektriese stuk gereedskap vir die houtwerkkamer was vir my baie hoog; eintlik buitensporig. Navrae het my gelei na die onderwyskantoor, die verskaffer en die verskaffer se moedermaatskappy in Suid-Afrika - sonder enige sukses.

In die neëntigerjare, net na onafhanklikheid, het ‘n vleuelklavier eenvoudig spoorloos uit Keetmanshoop se openbare biblioteek verdwyn. Ek kan nie onthou dat die voorval ooit by die polisie aangemeld is nie.

Ook in die jare neëntig is ‘n “spookskool” in Suid-Afrika gestig. Die rekords het getoon daar was ‘n skool met klaskamers en al die nodige fisieke fasiliteite; leerlinge, onderwysers en skoolarbeiders. Rekeninge is betaal en salaristjeks is aan die sogenaamde personeel uitgereik, maar daar was geen skool nie.

Ons is ook vertroud met die destydse spookonderwyser-petalje in Namibië.

'n Staaltjie wat my bybly, is een wat ‘n onderwyser van die Noord-Kaap my vertel het. Hy is êrens uit die omgewing van Upington, maar het na ‘n paar jaar in die onderwys ‘n pos in Johannesburg aanvaar. In sy registerklas was ‘n dogter wat nie juis volgens belofte presteer het nie.

Een dag het ‘n luukse kar by die skool opgedaag. Een van die insittendes het uitgeklim, na sy klaskamer geloop en ‘n koevert met geld op sy tafel geplaas met die opdrag: "Sy moet slaag." Hy het daai skool so gou moontlik verlaat.

Enige vorm van korrupsie het ‘n geweldige negatiewe uitwerking - ook in die onderwys. Dit veroorsaak 'n verlaging van kwaliteit en koste-effektiwiteit, vermorsing en wanbesteding van skaars bronne en swak dienslewering.

Die hooffunksie van ‘n eksamendirektoraat is om te verseker dat assessering en sertfisering binne die raamwerk van neergelegde standaarde geskied. Hierdie standaarde is vervat in beleid wat dieselfde afdwingbaarheid as wetgewing het.

Die handhawing van hierdie voorskrifte is van kritieke belang vir die behoud van die integriteit van die assessering- en sertifiseringsprosesse. Natuurlik is die prosesse en verbandhoudende take legio en die personeel groot.

So ‘n groot onderneming is nooit gevrywaar van swak plekke nie. Die oorsake kan insluip by die totstandkoming, die bepaling van beleid en werkswyses of tydens die aanstelling en aanwysing ven personeel.

Wanneer foute insluip of korrupsie plaasvind, moet die ministerie dit "lokaliseer". Die ministerie se fokus behoort nie die identifisering van die misdadigers te wees nie, maar eerder die identifiseing van die krake in die stelsel. Die gate moet gestop word en die integriteit van die stelsel moet weer in ere herstel word.

Dit sal tyd benodig. Daarom maak die besluit sin om eksamens in vakke waarin vraestelle gesteel is in die nuwe jaar te herhaal. Ek stem saam met die standpunt dat uitslae in vakke wat reeds geskryf is sertifikate waardeloos sou maak. Inteendeel, Cambridge Internasionaal kan sonder meer dan bande met Namibië opskort - skade wat selfs langer sal neem om te herstel.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!