Onderwys u2013 Kies jou leiers uiters sorgsaam
Onderwys u2013 Kies jou leiers uiters sorgsaam

Onderwys – Kies jou leiers uiters sorgsaam

Dani Booysen
Godfrey Kleinhans - Stemgeregtigde Namibiërs maak hul gereed om vir die partye en kandidate van hul keuses in volgende maand se streeks- en plaaslike verkiesings te stem.

Soos in die verlede sal sommige stemgeregtigdes tevrede wees met aangewese kandidate terwyl hulle in ander gevalle sal vra: Wat het hy of sy die afgelope vyf jaar gedoen of vermag?

Stelsels en tradisies het so in Namibië ontwikkel dat hierdie vraag selde of ooit deur die partyleierskap beantwoord word.

Wat bly pla, is dat streeks- en plaaslike politici nie juis die leiding neem in onderwysgemeenskappe nie.

Hulle figureer nie juis prominent wanneer skole swak presteer en wanneer kriminaliteit op skoolgronde die dagblaaie haal nie. Daar is nie veel van ‘n geraas oor klaskamer- en onderwysertekorte, ontoelaatbare seksuele verhoudings, vroeë skoolverlating, tienerswangerskappe en die miskenning van kinderregte nie.

Gemeenskappe het ‘n werklike behoefte aan burgerlike leierskap (civic leadership). Burgerlike leiers neem later in baie gevalle die rolle van politici aan.

Ek het al daarop gewys dat onderwys en politiek nie te skei is nie.

Die hoofdoel van die onderwyssektor is die voortdurende verbetering van ons samelewing. Die staat operasionaliseer die stelsel om dít moontlik te maak.

Ouers raak betrokke by hierdie proses deur hul kinders skool toe stuur asook deur deel te word van al die aktiwiteite van onderwysgemeenskappe. Hieraan word jaarliks geweldige groot bedrae belasting- en privaat geld bestee.

In die lig hiervan moet onderwysgemeenskappe vra wat kandidate in belang van onderwys gedoen het, alvorens hulle afsit na die stemlokaal.

Omdat leiers ons gaan verteenwoordig, moet ons hulle identifiseer voor hulle verkies word.

Leiers moet voortdurend hul vaardighede, kennis en tyd (soms ook materiële vermoë) ten bate van onderwysgemeenskappe aanwend. Die wagwoord is burgerlike betrokkenheid.

Hoe bepaal ‘n mens of ‘n leier aan hierdie vereiste voldoen?

Sulke streeks- en plaaslike leiers staan altyd gereed om skole te help soek na oplossings vir probleemsituasies en sal hul invloed gebruik om druk op beleidmakers en besluitnemers uit te oefen om aandag aan hierdie uitdagings te skenk. Hulle sal bewustheid onder lede van skoolgemeenskappe kweek om bedag te wees op moontlike probleme wat skoolsake kan ontspoor of versuur.

Ontwikkeling is vir hierdie leiers uiters belangrik: ontwikkeling van onderwyspersoneel sowel as skoolbates soos sportfasiliteite en biblioteke.

Hulle sal deur navorsing en gesprekvoering op hoogte bly van wat in skole behoort aan te gaan en wat wel gebeur.

Effektiewe streeks- en plaaslike leiers is by uitstek agente van verandering (change agents).

Sommige mense sal dalk argumenteer die desentraliseringsproses is steeds in die delegeringsfase vasgevang en plaaslike politici se volgehoue betrokkenheid is nie nodig is nie. Hierdie leiers is egter deel van onderwysgemeenskappe en moenie verwag wetgewing moet hul pligte teenoor hul gemeenskappe uitstippel en afdwing nie.

Voornemende leiers wat dit nie besef nie behoort hulself nie verkiesbaar te stel nie.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!