Onderwys - Power en middelmatig
Onderwys - Power en middelmatig

Onderwys - Power en middelmatig

Dani Booysen
In sy artikel getiteld "Nasionale introspeksie" in die rubriek "Invalshoek" het Rudi Koekemoer die afgelope Maandag die viskwota­skandaal wat voor die verkiesing op 27 November die openbare media gehaal het onder die loep geneem.

Hy voer aan korrupsie is nie 'n vreemde verskynsel in Namibië nie en verwys onder meer na die skandale by die Maatskaplike Voorsorgkommissie (SSC), die nasionale pensioenfonds vir staatsamptenare (GIPF), die SME-bank, by die nasionale spoorweë en die nasionale lughawe-owerheid (NAC). Natuurlik sou die Fishrot-skandaal baie meer aandag lok.

Dit het net voor die verkiesing 'n bruikbare stok in die hande van die opposisiepartye geplaas om die regerende party by te kom. Koekemoer - en ons - het alle redes om te vra waarom daar nou eers opgetree word teen die beweerde oortreders.

Hierdie is 'n vraag waarmee ek in die algemeen al lankal worstel. Waarom word daar dikwels met so baie vraagstukke so lank gesloer?

Vroëer hierdie jaar het ek in een van my artikels geskryf oor voortydige skoolverlating.

Jaarliks voorsien die ministerie van onderwys, kuns en kultuur die Namibiese gemeenskap van volledige onderwysdata. Inligting soos vervat in 'n berig in Republikein van 9 Desember is dus niks nuut nie. Hiervolgens het meer as 44 000 kinders in 2017 die skool verlaat en meer as 125 000 moes die graad herhaal waarin hulle was.

Wat wel positief is, is dat baie aandag gegee word aan die verskynsel van voortydige skoolverlating. Behalwe dat dit uiters nadelig vir die land se ekonomie is, bevorder dit ook armoede.

In die berig noem die direkteur van beplanning en ontwikkeling van die ministerie dat 'n ondersoek na die verskynsel van stapel gestuur is. Net soos Rudi Koekemoer sou ek wou weet waarom daar klaarblyklik nog nie 'n grondige ondersoek na die verskynsel gedoen is nie. 'n Mens kan net vertrou dat die ministerie naas 'n kwantitatiewe ondersoek ook sal kyk na die werklike redes op voetsoolvlak hoekom leerlinge die skool verlaat.

Een komponent van vroegtydige skoolverlating is tienerswangerskappe. 'n Groot aantal meisies beland jaarliks in hierdie penarie - die goeie voorligtingsprogramme en positiewe voorskrifte oor hoe die skole hierdie situasies moet hanteer ten spyt.

Die data in die berig, ontleen aan die Namibiese Persagentskap (Nampa), is twee jaar oud en die direkteur noem dat die elektroniese inligtingstelsel vir onderwysbestuur (Emis) eers in Januarie 2020 volledig operasioneel sal wees. Aan die stelsel word reeds dekades gewerk. Nog 'n voorbeeld van sloerdery en 'n gebrek aan beleggings waar dit regtig 'n verskil kan maak.

Die meeste skole se graad 10- en 12-eksamenuitslae van die afgelope klompie jare het van gemiddeld tot uiters power gewissel.

'n Mens verneem van streekkonferensies en beplanningsvergaderings waar ernstig onderneem word om op die vorige jaar te verbeter. My vraag is: Wanneer gaan 'n grondige navorsingsprojek plaasvind om die redes vir hierdie patetiese prentjie te vind? In die artikel "Die kreef mag nie gewoond raak" het ek die gevaar geopper dat swak prestasie en middelmatigheid wat te lank voortduur deel van ons onderwyskultuur kan word.

Wat Koekemoer oor korrupsie sê, is beslis ook van toepassing op ons opvoeding- en onderwysstelsels. Waarom word daar so lank gesloer voordat die werklike redes vir hierdie skeefgetrekte situasies gesoek en gevind word? Is dit in sekere mense of sekere groepe se belang dat ons nooit moet weet nie, of is volstruispolitiek die beste uitweg?

Ek dink dit was Mahatma Gandhi wat gesê het" ”Your actions become your habits. Your habits become your values. Your values become your destiny.”

Dit verg 'n reusepoging om los te breek uit die bose kringloop van swak prestasie en middelmatigheid. Dit is moontlik, maar dit benodig die nodige politieke wil en ysere dissipline.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!