Onderwysers staak vandag
Onderwysers staak vandag

Onderwysers staak vandag

Hofinterdik misluk ter elfder ure
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw - Die dringende aansoek teen die onderwysstaking wat deur die regering gebring is, is gisteraand deur regter Thomas Masuku van die hand gewys.

Die staking gaan dus vandag voort.
Die verrigtinge het in ’n stampvol arbeidshof geskied, maar daar was geen skare van belanghebbendes buite die hof te bespeur nie. Gisteraand ná die uitspraak het lede van die Namibië Nasionale Onderwysersunie (Nantu) buite die hof gedans.

Senior advokaat Andrew Corbett wat namens die eerste minister, die openbare diens-kommissie en die minister van onderwys optree, was eerste aan die beurt om sy betoë te lewer.

Corbett het aangevoer dat die aansoek ’n saak van nasionale belang is omdat die gevolge van ’n staking deur meer as 19 000 onderwysers baie verder as die grense van die nywerheidsoptrede self strek. Dit beïnvloed ook onskuldige en kwesbare leerlinge.­ Die regering het ’n plig om leerlinge­ teen enige bedreiging van hul opvoedkundige bevordering asook hul fisieke veiligheid te beskerm, het hy in sy hoofde van argument gesê.

Corbett het beklemtoon dat die dringende aansoek nie ten doel het om Nantu die reg te ontneem om te staak nie. “Wat die regering nie aanvaar nie, is dat onskuldige partye tot die aksie, die 707 873 leerlinge in Namibiese skole waarvan 115 875 leerlinge­ in graad 10 en 12 is wat eksamens skryf, as ’n troefkaart in onderhandelinge gebruik word,” het hy in argument aangevoer.

Hy het verder gesê die doel van die aansoek is nie om die staking onbepaald tot stilstand te bring nie, maar om dit vir ’n billike periode te vertraag sodat die regering, insluitend die Namibiese polisie, die nodige stappe kan doen om te verseker dat skole normaal kan funksioneer en eksamens onder toesig en in ’n veilige omgewing geskryf kan word. Die regering kan onmoontlik binne sewe dae gebeurlikheidsplanne ingestel hê. Die minister van onderwys voorsien dat 60 dae nodig sal wees om reëlings­ te tref sodat skole minimaal ontwrig word.
Corbett het voorts gesê die toekoms van graad 12-leerlinge is ’n belangrike oorweging in die staking. Indien skole sluit, sal leerlinge wat universiteitstoelating gekry het plekke op universiteit asook studiebeurse moet opgee, wat hul toekoms erg sal benadeel. Die moontlikheid dat Namibië akkreditasie vir die Cambridge internasionale eksamens mag verloor indien toesighouding nie behoorlik geskied nie, is ’n groot kommer. Só ’n verlies sal onmeetbare skade aan die status en geloofwaardigheid van Namibië se sekondêre skoolkwalifikasies berokken.
Senior advokaat Raymond Heath­cote het namens Nantu aangevoer dat die aansoekers die onmoontlike van die hof verwag, naamlik om ’n interdik oor ’n wettige staking toe te staan. Hy het aangevoer dat die regering na die land se kinders kan omsien deur onderwysers behoorlik te betaal.
In sy betoog het Heathcote aangevoer die aansoek is ’n slenter om die staking tot die vakansie uit te stel. Indien onderwysers gedurende die skoolvakansie staak, sal hulle nie geregtig op betaling wees nie.
Hy het verder gesê die regering se prentjie van verdoemenis en somberheid is ongegrond. Hy het aangevoer daar is onderwysers wat kon­trakte aangegaan het om vraestelle te merk en dat daar ook voldoende nie-stakende onderwysers is wat toesig oor eksamens kan hou. Heathcote is van mening dat die hele eksamenproses nie noemenswaardig deur die staking beïnvloed sal word nie. Hy het ook genoem daar moet ’n dwingende rede wees om te glo dat die veiligheid van mense en eiendom in die gedrang sal kom voordat die staking gestop behoort te word. In sy hoofde van argument beskryf Heathcote die aansoek as “ligsinnig” en het die hof versoek om dit met koste van die hand te wys.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!