Ons koffie maar aan. . .
Yandi du Plessis
Ek is ’n koffiemens. Uit en uit. ’n Koffieverslaafde en ’n koffiesnob, altwee in een. Die hoofrede hoekom ek altyd as ’n student platsak was, was die “kwaliteit”-koffie wat ek móés hê. Ek sit steeds nie my mond aan Ricoffy of Frisco nie. Ek klink seker soos een van daardie mense wat hulle wyn snuif en geure van beesmis in die 1950-Merlot optel. Daar is niks fout hiermee nie, maar soos jy agterkom weet ek absoluut niks van wyn nie. Myne kom in ’n 5 liter-boks, genoeg om (hopelik) die hele maand te hou. Ek is ook nou nie een van daardie jappies wat in vervoering raak oor “artisanal” koffie of ’n “venti upside down half-caf breve cappuccino” (dit is ’n regte ding!) nie. Maar, soos in die geval van whiskey, kan ek werklik die verskil tussen die namaaksels en régte koffie proe.
Oom Jan Spies het gesê: “Die enigste ding wat beter is as die eerste koppie koffie in die oggend, is die tweede koppie koffie.”
Ek stem heelhartig saam met oom Jan. Ek kry nie my persoonlikheid of uitgebreide woordeskat aan die gang voor my tweede koppie soggens nie. Voor dán kom die Neandertal in my na vore, wat net primitiewe oergeluide kan maak. Ek troos my egter daaraan dat ek definitief nie die enigste een is nie. As mens kyk hoeveel memes daar oor die onderwerp is, is ’n huishouding sonder ten minste een persoon wat eers lewe kry ná sy eerste kafeïeninspuiting dalk die uitsondering.
Ek het die vrymoedigheid geneem om ’n paar koffiememes wat vir ’n gesinskoerant geskik is in Afrikaans te vertaal. Dit bly nog steeds snaaks: Ek het nie ’n inspirerende aanhaling nodig nie, ek het koffie nodig; Waarskuwing: Hoogs onstabiel sonder ten minste een koppie koffie!; Mag jou koffie voor die werklikheid inskop; My oggendkoffie laat my voel asof my lewe in orde is. Dit is nie. Maar dit voel so; Natuurlik maak grootte saak – niemand wil ’n klein koppie koffie hê nie; en Ek geniet altyd ’n gebalanseerde ontbyt van koffie en nog koffie.
Die boeregemeenskap het oor die algemeen ’n liefde vir ’n koppie moerkoffie, ofte wel boeretroos. Ek hou van dié woord. Boeretroos. ’n Lojale koffiemens sal op ’n snikhete somermiddag nié “nee” sê as iemand aanbied om ’n pot op te sit nie. Gepraat van ’n pot koffie: Jy kan net sowel vir die res van die huis vra of hulle ook koffie wil hê as jy die ketel opsit, want die geluid van ’n ketel wat aangesit word, is net soos die klokkie vir Pavlov se honde.
Ek dink selfs teedrinkers kan erken dat daar min reuke soos dié van varsgemaalde koffiebone is. Kafeïen is sonder twyfel verslawend, maar ek verkies om die glas as half vol te sien. Dit kon altyd ’n ander (meer ernstige) verslawing gewees het. Ek kon dit al regkry om van ses koppies ’n dag na vier af te gaan. Dit is ’n groot mylpaal vir my. My liewe moeder is egter baie bekommerd oor dié gewoonte en het haar bes al probeer om my te oortuig om meer tee drink, maar dit is nogal moeilik vir iemand wat jare lank sê tee is vir oumense en siek mense. Met die koue front onlangs, sou dit in elk geval onmoontlik wees om my lewensessens op te gee. As ek nié deur die dag in die bed kan lê en Netflix kyk nie, wil ek ten minste my boeretroos inkry. My ouers kon my altyd erger byname as “Koffiepot” gee…
Ek dink meeste mense voel pap, hetsy dit weens fisieke inspanning of emosionele spanning is oor dinge in ons land op die koffie is. “Ons koffie maar aan,” is ’n gesegde waarop ek onlangs afgekom het. Dit beteken basies “ons sukkel maar aan”. So, kom ons koffie maar aan terwyl sake op die koffie is. Dié kan ons darem nog op Vrydae en oor naweke koop.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie