Ons taal
Groot diens
Hallo Ma
Ek gebruik nou hierdie week om vir ’n check-up te gaan: dis papsmere (wat ’n woord), mammogramme, been-digtheidstoetse en wat nog. Ma, was ek nou ’n mouterkar kon ek sê dat ek vir ’n groot diens ingaan. Ek weet presies watter stuk van my lyf die valves sou kon wees, en die exhaust laat ook niks aan die verbeelding oor nie. Chris stel voor dat carburator vir longe sal werk, en radiator vir die blaas.
Maar die mammogram: wat sal mens jou boesems noem? Ek nader toe my Bredasdorp-skool se reünie-groep vir hulp. Marina sê toe ons kan gerus van die headlights praat, en dat ons headlights hoeka nou permanent op dim is. Thys vra toe wat van bumpers? (Maar Ma, wat van die onderbedeeldes? Dan was hulle al teen dié tyd mos totale wrakke!) Roza het te vertelle dat sy ’n tweeling geken het wat bo verdienste goed bedeeld was. Die een se bynaam was Hoeter en die ander een, Toeter. Sannie Jordaan sê dat ons waaipers nou outomaties is, en alles weg-waaip wat ons nie wil sien of hoor nie.
Ma, toe raak die manne wakker. Francois doen aan die hand dat die ouerwordende skelet ’n mens se diff is, en dat die ou modelle se headlights op dim is en dat hulle diwwe hang. Jacobus sê toe sedig dat hy weet watter deel van sy lyf die choke sal wees, maar dat hy liewer nie sal sê nie. En dit is op daardie oomblik dat ek toe by myself dink dat my starter ook beter dae geken het. En toe kry ek moed, en besluit om uit te vind wat ’n self-starter is. Dis seker ’n handige ding op hierdie ouderdom.
Askiestog Ma. Jou 56-model.
NS: Ma, as kind was ek opreg geskok as Pa van die pistons gepraat het. Ma, ek dink dít is waar die assosiasie tussen die menslike liggaam en ’n mouterkar my begin pla het.
Dr. Chrisna Beuke-Muir
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
[email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie