Ontleders sê oor Zuma
Plaaslike kenners is dit eens: Dis 'n blye tyding Zuma se doppie blyk uiteindelik geklink te wees.
Jo-Maré Duddy en Denver Kisting
Mnr. Jacob Zuma se vervanging as president van Suid-Afrika – ongeag wanneer – is goeie nuus vir die Namibiese ekonomie, meen plaaslike ontleders.
Die rand, waaraan die Namibiese dollar gekoppel is, sal waarskynlik herstel. 'n Sterker rand beteken goedkoper invoere en dus laer inflasie vir Namibië, sê mnr. Eric van Zyl, hoof van navorsing by IJG Securities, en me. Indileni Nanghonga, junior ontleder by Simonis Storm.
Namibië voer meer in as wat dit uitvoer en goedkoper invoere sal help om die druk op die land se handelsbalans te verlig, sê Nanghonga.
'Hernude optimisme'
Met Zuma se vertrek is daar 'n algemene gees van hernude optimisme vir beter regering en ekonomiese toestande in beide Suid-Afrika en die streek, sê sy. Die verwagte opbloei in ekonomiese aktiwiteit en groei in die algemeen sal in die medium termyn 'n hupstoot vir verdienste uit die poel van die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (Sacu) beteken, meen Nanghonga. Sowat 39% van die regering se inkomste kom uit dié poel.
Van Zyl sê laer inflasie kan laer rentekoerse vir Suid-Afrikaners en Namibiërs inhou “mits die Suid-Afrikaanse Reserwebank toegelaat word om koerse te verlaag”.
Suid-Afrika se monetêre beleid word tans deur Moody's se dreigende afgradering van randskuld beperk. Sou dit voorkom kon word, sal ruimte vir rentekoersverligting geskep word, sê hy.
“'n Verdere verlaging van rentekoerse in Suid-Afrika sal die Bank of Namibia (BoN) ook in staat stel om verligting te bied,” aldus Van Zyl.
Nanghonga sê Suid-Afrika word in die algemeen as die poort tot Suider-Afrika en Afrika beskou.
“Positiewe verwikkelinge sal 'n goeie boodskap aan buitelandse beleggers stuur en ons kan meer direkte buitelandse beleggings verwag,” sê sy.
Politieke siening
Volgens die politieke ontleder prof. Nico Horn is daar geen manier waarop Zuma die NUK-ultimatum – óf hy bedank óf 'n mosie van wantroue is sy voorland – gaan oorleef nie.
“Ek dink hy mag uiteindelik bedank. Skynbaar wou hy aangebly het tot ná die Afrika-Unie-byeenkoms (oor 'n paar weke), maar aanvanklik wou hy vir drie maande aanbly. Ek dink die ANC-leierskap vertrou hom nie. Hulle weet nie of hy by sy woord sal hou nie.”
Die NUK is die hoogste besluitnemingsliggaam in die ANC.
“As ek vir Zuma reg lees, hoewel hy nie eintlik 'n leesbare persoon is nie, speel hy nou al sy kaarte wat daar nog is. Maar selfs al het hy nog 'n klomp ondersteuners, gaan hulle nou van die skip af spring omdat hul eie politieke loopbaan nou ook op die spel is. Selfs die ouens wat uit die trog gevreet het, weet dis nou verby.”
Horn het teen die ooroptimisme gemaan wat hy by sowel Suid-Afrikaners asook Namibiërs bespeur “omdat die verrotting baie diep gegaan het”.
“Dis nie asof die hele ANC nou skielik 'n klomp engele gaan word nie,” sê hy.
Wat weliswaar gáán gebeur, sê Horn, is selfs die magtige Gupta-familie se vuur sal geblus wees wanneer Zuma waai.
Daarnaas is die hoop Ramaphosa sal weens sy ekonomiese vaardighede en vermoëns die benarde Suid-Afrikaanse ekonomie kan regruk.
“Zuma se besluite het die ekonomie dikwels groot skade berokken,” sê hy.
'Baie ander Zumas'
In reaksie op die oënskynlike einde van die Zuma-era sê die plaaslike vuurvreterjeugaktivis, mnr. Job Amupanda: “Daar is baie ander Jacob Zumas in die ANC en hulle sal baie meer moet doen as om net vir Jacob Zuma te verwyder. Die ANC veg om asem te haal. Die veronderstelling is dat Zuma se verwydering 'n strategie is om hul suurstof terug te kry. Dit (die plan) sal egter te kort skiet.”
Amupanda het nie gister doekies omgedraai toe hy om kommentaar genader is oor die nasionale uitvoerende komitee (NUK) van die African National Congress (ANC) wat president Zuma herroep het nie.
Volgens hom is Zuma egter “'n kanniedood met baie lewens”.
Was dit nie vir die nuwe ANC-president, mnr. Cyril Ramaphosa, se onlangse naelskraapoorwinning nie, was Zuma nie in die pad gesteek nie, meen Amupanda.
Hy is ook van mening Zuma se bewind was 'n weerspieëling van hoe “interessant en abnormaal Suid-Afrikaanse politiek is”.
“Jacob Zuma het nie aan die basiese vereistes voldoen om 'n president te wees nie, maar hy wás die president. Dit spreek van 'n interessante dinamika van die ANC wat toenemend agteruitgaan,” sê hy.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie