Oorlogspook bly loop
Verlede week se voorval onder die Ruacana-kraglyn bewys opnuut ondanks Namibië se versekerings onder 'n internasionale verdrag bly die gevare van onontdekte ploftoestelle steeds springlewendig.
Elvira Hattingh
Drie Suid-Afrikaansvervaardigde R2M2-teenpersoneellandmyne is die afgelope Woensdag deur die springstofeenheid van die Namibiese polisie in die Ruacana-kiesafdeling onder die NamPower-kraglyn onskadelik gestel deur dit onder beheerde omstandighede te laat ontplof.
Die myne is die Saterdag daarvoor suid van die Ruacana-kragstasie onder die 330 kV-transmissielyn ontdek terwyl 'n Tsumeb-gebaseerde kontrakteur herstelwerk aan die lyn gedoen het. Die plaaslike bevolking het volgens beskikbare inligting die werkspan se aandag op moontlike gevare gevestig.
Insp. Lineekela Shikongo, polisiewoordvoerder vir die Omusatistreek, en mnr. Tangeni Kambangula, NamPower se bestuurder vir korporatiewe kommunikasie, het die voorval Vrydag bevestig.
“Ruacana is een van die gebiede waar oorlog gevoer is en inwoners word aangeraai om, sodra hulle op so iets afkom, dit onmiddellik by die naaste polisiekantoor aan te meld en nie daaraan te raak nie,” het Shikongo gesê. Niemand is beseer nie en geen eiendom is beskadig nie.
Die kontrakteurs wou weens kontraktuele verpligtinge nie kommentaar lewer nie.
LANDMYNKONVENSIE
Namibië is 'n ondertekenaar van 1997 se internasionale verdrag teen landmyne. Volgens die land se verslae is opruimingswerk teen 2001 afgehandel, maar die Landmynmonitor, 'n internasionale verslag, erken daar is steeds myne en ander ploftoestelle in die land.
Tydens die oorgangsperiode in aanloop tot onafhanklikheid het die Suid-Afrikaanse weermag, Untag en 'n plaaslike onderneming dele van die land vir landmyne gevee. Teen Januarie 2001 het die Amerikaanse onderneming Ronco 5 000 landmyne en 1 300 ploftoestelle vernietig.
Vanaf Januarie 2006 tot Junie 2007 het die Namibiese polisie meer as 11 000 ploftoestelle en 17 myne gevind.
Volgens die internasionale verdrag moes Namibië teen Maart 2009 landmynvry gewees het. Volgens die Landmynmonitor is geen verslae sedert 2009 deur Namibië ingedien nie. In Desember 2009 het die land aangevoer hy voldoen aan alle vereistes van die verdrag.
In dieselfde jaar het die ministerie van die omgewing en toerisme egter 'n noemenswaardige landmynprobleem in die Bwabwata Nasionale Park gerapporteer.
RUACANA-LYN
Volgens die Duitse organisasie Mense teen Landmyne (Menschen Gegen Minen, MgM) is landmyne onder 409 kragmaste tussen Ruacana en die Werda-hek geplant om die sabotasie van die kraglyn te verhoed.
MgM het in 1999 met nuwe tegnologie landmyne onder die Ruacana-kraglyn verwyder. Die organisasie se verslag sê aanvanklike verwyderingspogings het probleme vererger omdat stootskrapers gebruik is om grond onder die kragmaste op hope te stoot. “Die Suid-Afrikaanse regering het destyds 'n kaart oorhandig wat aandui waar landmyne begrawe is. MgM was van mening dit sou baie eenvoudiger wees om die myne te voet onskadelik te stel, wat nie meer moontlik was nie,” lui 'n artikel op hul webwerf.
R2M2-myne is volgens die webwerf Nolandmines wyd in Suider-Afrika gebruik. Dit het 'n plastiekomhulsel en weens die beperkte aantal metaalonderdele word dit nie altyd deur mynverklikkers opgespoor nie.
Vanaf 2012 tot 2016 is wêreldwyd meer as 1 miljoen teenpersoneelmyne vernietig. In 2016 het teenpersoneelmyne die meeste slagoffers (8 605) sedert 1999 (9 228) geëis. Die meeste slagoffers is burgerlikes en kinders.
DIE WÊRELD EN NAMIBIË
Onlangse, gerapporteerde voorvalle in Namibië sluit in die ontdekking van 'n Sowjet-teentenklandmyn tussen Oshigambo en Eenhana in Januarie 2016. In Augustus 2017 is ploftoestelle opnuut in die Zambezistreek vernietig.
In April 2015 het 'n vrou en dogter gesterf toe 'n ploftoestel by die Omawe-nedersetting naby Omuthiya ontplof het.
In Mei 2015 is berig dat meer as 300 mense sedert 2000 deur landmyne beseer is of gesterf het, die meeste in Kavango se grensgebied met Angola.
Volgens die Landmynmonitor is 14 mense in 2000 in landmynvoorvalle dood en 126 beseer. Teen 2002 het die syfer tot twee sterftes en 17 beserings afgeneem, maar tussen 1999 en Desember 2008 het minstens 145 burgerlikes gesterf en is 473 deur landmyne en ploftoestelle beseer.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie