Oorloopwater eis skoolseun (12) se lewe

Tanja Bause
Tanja Bause – “Hoe lyk hy? Is hy heel, is hy heel? Asseblief sê vir my die visse het hom nie gebyt en geëet nie,” het me. Miriam Simon gesê nadat die liggaam van David Sheya enkele minute vroeër uit die oorloop van die Goreangabdam gehaal is.

“Dank die Here hy is heel,” het sy gesê nadat sy ingelig is sy liggaam is ongeskonde.

Die 12-jarige Sheya het Maandag in die oorloop verdrink toe hy en twee vriende (beide 12 jaar oud) besluit het om te gaan swem. Hulle bly in 7de Laan in Otjomuise.

“Hy het 'n pienk dingetjie (opblaas-swemring) gehad en omdat dit syne was, het hy vir sy maats gesê hy sal eerste in die water gaan; hulle kan ná hom die dingetjie gebruik en ingaan.

“Hy het egter 'n paar meter van die oewer afgeval. Sy vriende het probeer om die dingetjie vir hom te gooi, maar hy kon dit nie vang nie. Hulle het daarna probeer om hul hande na hom toe uit te reik, maar hy was te ver. Hulle het gehardloop om 'n stok te gaan haal, maar die stok was te kort en hy het verdrink. Hulle het toe huis toe gehardloop om hulp te gaan soek.”

Sy beskryf hom as 'n baie stil seun wat in graad 6 in die Primêre Skool Otjomuise was.

“Sy ma verkoop lekkers en vetkoek om die familie te onderhou. Sy het vier kinders waarvan hy die enigste seun was. Sy is nie vandag hier nie, omdat sy geld moet maak sodat die res van die kinders kan eet. Ek het Dinsdag toe ek van die ongeluk hoor die polisie gebel en hulle het gesê hulle kan niks doen nie en die nommer van die duikman vir my gegee.”

Mnr. Percy Openshaw van Crisis Response International het gister na Sheya se liggaam in die oorloop gesoek. Ná 40 minute het hy die liggaam op 'n diepte van 39 meter opgespoor en uitgehaal.

“Die water was ontsettend koud en ek kon niks sien nie. Ek het ook verlede week Vrydag Ignatius Mathias (16) by die pyp in Goreangabdam uitgeduik wat ook die vorige namiddag verdrink het.”

Openshaw is die enigste duiker wat lyke uit die dam duik.

“Toe ek van die seun hoor, het ek al die duikers in die land gebel om te hoor of hulle my kan bystaan, aangesien die water so diep en donker is en almal het nee gesê.”

[email protected]

FOTO’s Tanja Bause
Percy Openshaw van Crisis Response International op soek na die liggaam van die 12-jarige drenkeling terwyl lede van die gemeenskap angstig toekyk.

Die gemeenskap draai geskok hulle rug toe Percy Openshaw die seun se liggaam gevind het.

Die “pienk dingetjie” (plastiek opblaasbare swemring) waarop David Sheya (12) in die water wou gaan.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!