Opposisie rem gesondheidsdebat
Opposisie rem gesondheidsdebat

Opposisie rem gesondheidsdebat

’n Poging deur die gesondheidsminister, dr. Bernard Haufiku, om die ontslape Raad op Gesondheidsberoepe te laat herleef, sal langer moet wag.
Denver Kisting
Denver Kisting – Twee opposisiepartye het gistermiddag in die Nasionale Vergadering (NV) wal gegooi teen ’n debat oor gesondheidsrade.

Ingevolge die mosies vir gister se sitting, het dr. Bernard Haufiku, die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, die NV oor die voorgenome wysigings aan verskeie wette ingelig.

Dié wysigings sal ten doel hê om die ontslape Raad op Gesondheidsberoepe se funksies te herstel.

Sedert 31 Maart kan dokters, verpleegters, aptekers en ander kerngesondheidswerkers nie aangestel word nie, omdat die vorige raad se termyn toe verstryk het, het Haufiku opnuut benadruk.

Gisteroggend het ’n Namibiese pediatriese kardioloog, wat onlangs klaar gespesialiseer het, hom gekontak omdat sy nie kon registreer en werk nie, het hy gesê.

“Maar ons het ’n lang lys kinders met hartprobleme wat aandag benodig.”

Me. Jennifer van den Heever, hoofsweep van die Popular Democratic Movement (PDM), het gevra dat die debat tot vandag uitgestel word.

Sy het gesê hulle het nie genoeg tyd gehad om met alle belanghebbendes te beraadslaag nie.

Mnr. Jan van Wyk, van die United People’s Movement (UPM), het gesê die Huis loop die gevaar dat wetgewing weer eens gestoomroller word sonder dat dit deeglik bespreek is.

Hiernaas was die wetsontwerpe, wat met die rade verband hou, nie op die NV se agenda vir dié ronde sittings nie. “Hierdie situasie is reeds sewe jaar gelede geskep en nou wil hulle sê dit is dringend. Ek wil my teleurstelling te kenne gee met die tertafellegging van dié wetsontwerpe.”

Boonop, sê Van Wyk, “net ’n paar weke gelede het ons gehoor daar is geen geld nie. Waar kry ons nou die geld (om mense aan te stel)? En wanneer sal die poste geadverteer word?”

Die eerste minister, me. Saara Kuugongelwa-Amadhila, het gesê die kwessie is dringend.

Volgens haar staar die bedryf regshervorming in die gesig wat sal meebring dat die huidige gesondheidswette herroep sal word. Dít sal moontlike kopsere uit die weg ruim, sê sy.

Prof. Peter Katjavivi, die speaker van die NV, het die debat tot vanmiddag uitgestel.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!