Otjomuise stuur o.15-span na Durban

Sokker
’n Nuwe wêreld word geopen wanneer 25 sokkerspelertjies van die Otjomuise-sokkerakademie vandeesmaand aan ’n internasionale onder 15-toernooi in Durban gaan deelneem.

Die akademiespan, meestal seuns wat in Otjomuise en die omgewings van Sewende Laan en Agtste Laan woon, berei hom voor vir die kans van ’n leeftyd wat vir die week van 16 tot 22 Augustus sal afspeel.

Kompeterende wedstryde teen bekende akademiespanne soos Amazulu FC, Durban FC, Juventus Durban, Liverpool Durban en ander is in die vooruitsig.

Met laasgenoemde twee klubs se bande met hul beroemde naamgenote in Europa, is daar altyd ’n geleentheid dat ’n goeie vertoning groter kanse vir ’n speler kan beteken.

Sokker is egter gewis nie al waaroor die toer na KwaZulu-Natal gaan nie. Talle van die seuns was nog nooit buite Windhoek nie. Die toer bied dus ’n geleentheid om lewenservaring op te doen op ’n reis wat die meerderheid van die ouers nie kan bekostig nie.

Volgens spanbestuurder Sacky Elago het die akademie die uitnodiging uitgebrei om seuns in elke deel van Namibië in te sluit, wat in die kalenderjare 2003 tot 2005 gebore is. Teen gister was net drie plekke in die toerspan is nog oop, ongeag in watter posisie die seuns hul sokker speel.

“As daar enige barmhartige samaritaan is wat ons kan bystaan met die koste van vervoer, sportdrag en etes in Durban, sal ons dit voorwaar waardeer,” sê Elago.

Vir ouers wat belangstel om hul kinders vir die toer te registreer, is komende Vrydag die laaste dag vir moontlike registrasie. Elago kan by 081 668 4173 of by [email protected] vir nadere inligting bereik word.

Die toer na Durban dien ook as ’n opbou na volgende jaar Juliemaand se beoogde deelname aan die Ibercup-toernooi in Barcelona, Spanje, vir dieselfde ouderdomsgroep.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!