Ouderdom, siekte red bejaarde van tronkstraf
Ouderdom, siekte red bejaarde van tronkstraf

Ouderdom, siekte red bejaarde van tronkstraf

’n Switserse burger (73) het Woensdag gevangenisstraf vrygespring.
Denver Kisting
Denver Kisting – Hans Peter Rothen (73) se ouderdom en sy bedenklike gesondheid het hom van ’n vonnis agter tralies gered.

Regter Naomi Shivute het Rothen Woensdag in die Windhoek-hoërhof ’n boete van N$100 000 opgelê.

Dít kom nadat Rothen aangedui het hy het N$25 000 om by sy borgtog van N$75 000 te voeg en dit as ’n boete in ruil vir die hof se genade aan te bied.

Regter Shivute was van mening elke saak berus op sy eie meriete, hoewel bedrog ’n baie ernstige oortreding is. Volgens haar vier dié oortreding hoogty in Namibië.

In Rothen se geval, sê sy, is al 11 oortredings nou verwant aan mekaar wat tyd, plek en omstandighede betref.

Hoewel dit wenslik is om ’n afsonderlike straf vir elke klag op te lê, het Shivute gereken die belang van geregtigheid sal gedien word as van die klagte vir die doeleindes van vonnisoplegging saamgevoeg word.

Die staat het aanbeveel dat Rothen tronk toe gestuur word.

Regter Naomi Shivute het hom op agt bedrogklagte ten bedrae van N$1103 490 ’n boete van N$40 000 of vier jaar tronkstraf opgelê.

Vir sy diefstal van N$150 000 moet Rothen N$15 000 opdok, of 18 maande agter tralies deurbring.

Rothen is deur ’n verdere boete van N$5 000 of een jaar gevangenisstraf in die gesig gestaar vir die 50%-belang wat hy onwettig in ’n beslote korporasie (BK) bekom het.

Die bejaarde man moes voorts N$40 000 opdok of vier jaar in aanhouding deurbring vir die bedrieglike oordrag van N$1 093 471.

Agtergrond

Rothen se skuldigbevinding en vonnisoplegging volg nadat ’n sakeverhouding tussen hom en mnr. Bernd Muller sowat 15 jaar gelede skeefgeloop het.

Die mans was lede van ’n BK waarin elkeen ’n 50%-belang gehad het, wat ten doel gehad het om eiendom op Swakopmund te ontwikkel.

Die staat het suksesvol aangevoer Rothen het tussen Januarie 2003 en Maart die daaropvolgende jaar verskeie tjeks van die ministerie van finansies onregmatig in die rekening van ’n ander BK betaal. Dié tjeks was terugbetalings van belasting op toegevoegde waarde (BTW).

Hy was die enigste lid van dié besigheid. Die bedrag het meer as N$1 miljoen beloop. Die geld was vir die gesamentlike besigheid bestem.

Wat die diefstalklag betref, het die hof bevind Rothen het N$150 000 van sy en Muller se besigheid gesteel en beweer dit is salarisbetalings wat Rothen en sy vrou toegekom het.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!