Oudpremier nie kandidaat vir Egiptiese president

Dié besluit sal waarskynlik die weg baan vir die dienende president om herkies te word.
NAMPA
Nadat hy etlike jare in ballingskap deurgebring het, het Egipte se voormalige eerste minister, Ahmed Shafiq, aangekondig hy sal nie 'n kandidaat in vanjaar se presidentsverkiesing wees nie.

Sy besluit sal waarskynlik die weg baan vir die dienende president, Abdel Fattah al-Sisi, om herkies te word.

Die Nasionale Verkiesingsowerheid sal na verwagting die verkiesingsdatum vandag bekend maak.

Shafiq se besluit volg nadat hy verlede maand uit die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) na Egipte teruggekeer het. Hy het sedert 2012 in ballingskap daar gewoon.

“Ek het gesien ek sal nie die beste persoon wees om die land in die komende tyd te lei nie,” het hy in 'n verklaring gesê.

Shafiq is as premier deur die voormalige Egiptiese president, Hosni Mubarak, aangestel kort voordat hy in 2011 ontsetel is.

Hy is as 'n belangrike teenstaander vir Sisi beskou, wat nog nie amptelik aangekondig het dat hy herverkiesbaar is nie.

Die algemene verwagting is egter dat hy maklik van 'n tweede termyn verseker sal wees.

“Shafiq se onttrekking aan die verkiesing kan 'n leemte laat vir enige ander sterk persoonlikheid wat pres. Abdel Fattah al-Sisi kan uitdaag,” sê Mustapha Kamel al-Sayyid, 'n professor in politieke wetenskap aan die Universiteit van Kaïro.

Shafiq het sy voorneme om 'n presidentskandidaat te wees op 29 November in 'n video aangekondig wat die VAE uitgereik het.

Hy het gesê Egipte het “nuwe bloed” nodig om die “vele probleme in alle aspekte van die lewe” die hoof te bied.

Nadat hy sy Emiraatse-gashere die harnas ingejaag het deur in die video, wat eerste deur Al-Jazeera uitgesaai is, te sê hy word verhinder om die land te verlaat, is hy op 2 Desember gedeporteer.

Ná sy aankoms in Egipte het Shafiq vir ongeveer 24 uur van die toneel af verdwyn voordat hy weer 'n ver­skyning gemaak het en die aanbieder van 'n geselsprogram meegedeel het dat hy sy aanslag op die presidentskap heroorweeg.

Uit Shafiq se aankondiging Sondag blyk dit dat hy sy siening oor die situasie in Egipte aansienlik gewysig het.

“Terwyl ek in ballingskap was mag dit my verhinder het om deeglik op hoogte te wees wat in die land aangaan; die vooruitgang en die prestasies,” het hy gesê.

Shafiq is in 2012 net-net nie tot president verkies nie. Hy is deur die Islamitiese president, Mohammed Morsi, verslaan.

Ná die verkiesing is hy in sy afwesigeid van korrupsie aangekla, maar is uiteindelik vrygespreek.

– Nampa/AFP

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!