Padlangs met kommunikasietegnologie
Padlangs met kommunikasietegnologie

Padlangs met kommunikasietegnologie

Die Paaieowerheid ondersoek die moontlikheid van ’n landswye intelligente vervoermoniteringstelsel.
Augetto Graig
Augetto Graig - Die Paaieowerheid (RA) se verkeerspesialis, mnr. Teklu Adamu, het die owerheid se planne Maandag by die sesde nasionale inligting en kommunikasietegnologie(ICT)-beraad onthul.

Dié organisasie is in beheer van die land se uitgebreide en noodsaaklike padnetwerk en beoog om die insameling van onmiddellike inligting deur middel van tegnologie in werking te stel.

Adamu sê die RA se twee grootste uitdagings wat Namibië se paaie betref, is spoed en die oorlading van voertuie.

Spoed veroorsaak ongelukke, beserings en sterftes, terwyl die oorlading van voertuie ook betekenisvolle skade aan paaie aanrig, het hy by die beraad gesê.

Twee tegnologieë wat in antwoord op dié uitdagings voorgestel word, is toerusting om ’n voertuig se massa te bepaal sonder dat die motor tot stilstand moet kom, en toerusting om ’n voertuig se gemiddelde spoed oor ’n sekere afstand outomaties te lees.

Hierdie inligting sal onmiddellik aan die intelligente vervoerstelsel wat die RA voorstel, gestuur word.

eNatis sal danksy die outomatiese nommerplaatherkenningstelsel onmiddellike boetes kan uitreik, en verkeersbeamptes sal daarvan in kennis gestel word sodat wetstoepassing gedoen kan word.

Boonop kan die stelsel beeldmateriaal as bewyse van oortredings lewer.

Die RA besit reeds ’n verkeerswaarnemingstelsel wat volgens Adamu uitgebrei en opgegradeer sal word.

Bestaande moniteringsterreine sal herstel word, toerusting sal geïnstalleer word en sonkragbatterystelsels sal aangewend word.

Afstandbeheerde GPRS-tegnologie sal data-insameling vergemaklik voor ontledings gedoen word en verslae saamgestel word.

“Meer voordele kan uit die ontwikkeling van die bestaande kapasiteit met behulp van ICT verkry word,” het Adamu gesê.

Vir die RA sluit hierdie voordele in veiliger paaie, minder oorlading, die handhawing van vervoerwette, beter gehalte vervoerdata, onmiddellike toesig oor verkeer en ondersteuning van weegbrûe, het hy gesê.

Minder ongelukke sal ook tot die Namibiese Padongelukkefonds (MVAF) se voordeel strek, die oorsake van ongelukke sal makliker geïdentifiseer kan word, beter rekord van oortreders kan gehou word en reaksietye in noodgevalle kan gemonitor word.

Adamu het gesê die stelsel behoort ook die ernstigheidsgraad van ongelukke te verminder, dissipline in drywers te bevorder en die MVAF se uitgawes te verminder.

Volgens hom sal die Padfondsadministrasie (RFA) inkomste uit langafstandfooie, lisensiefooie en verkeersoortredingsboetes makliker kan insamel, terwyl die herstelkoste van paaie onder meer sal verminder.

Die polisie sal misdadigers danksy dié stelsel makliker kan opspoor, en beter besluite kan neem oor waar padblokkades opgerig moet word.

Die stelsel sal gedragsverandering bevorder en die publiek se aandag op padveiligheid vestig, het hy gesê.

Die RA doen eers konsultasies, beplanning en ’n lewensvatbaarheidstudie vir die stelsel voor toerusting en dienste aangeskaf sal word, wetgewing aangepas word en ’n toetsprogram uitgevoer sal word.

Daarná beoog die owerheid ’n volledige implementering van die stelsel landswyd, sê hy.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!