Pandemie lê sommige medici lam
Die private gesondheidsektor het weens Covid-19 vanaf April tot September moeilike finansiële uitdagings beleef.
Henriette Lamprecht – Sommige private verskaffers van gesondheidsdienste in Namibië het 'n verlaging van tot 80% in hul inkomste tydens die Covid-19-pandemie ervaar (die tydperk April tot September vanjaar).
Drie persent van respondente in die private gesondheidsektor wat aan 'n onlangse opname deur die Namibië Private Praktisynsforum (NPPF) deelgeneem het, sê hul inkomste het weens die impak van die pandemie in Namibië met tot 80% afgeneem.
Sowat 30% van die respondente sê hul inkomste het met ongeveer 40% gedaal.
Volgens die opname het die private gesondheidsorgbedryf deur “moeilike finansiële omstandighede” tydens dié tydperk gegaan vergeleke met die vorige jaar. Weens 'n afname in dienste, kan aanvaar word dat eise teen mediese fondse ook in lyn met die afname in inkomste van diensverskaffers afgeneem het, veral in die lig van die beperkings op elektiewe of niedringende operasies by private hospitale.
Volgens mnr. Eben de Klerk van die NPPF lei dit tot die vraag of lede van mediese fondse voordeel uit die afname in eise sal trek en of premies weer sal verhoog en professionele fooie onder mediese inflasie onderdruk sal word soos die standaardpraktyk by die Vereniging vir Mediese Fondse in Namibië (Namaf) is.
Die opname het ook moontlike bedreigings vir die volhoubaarheid van private gesondheidsorg in die land aan die lig gebring.
Dit sluit in die toenemende onvermoë van die staat se mediese fonds (Psemas) om private gesondheidsdienste aan sy lede te betaal, beleidsrigtings van die regering wat die bedryf beïnvloed, die moontlikheid van die instelling van 'n nasionale skema vir gesondheidsversekering, sowel as die algemene agteruitgang van die Namibiese ekonomie.
Die opname verwys na mediese fondse en Psemas wat aan private diensverskaffers gebaseer op statistiese modelle voorskryf wat hul mag en nie mag doen nie.
Ook word die afname in die aantal Namibiërs wat private gesondheidsorg kan bekostig uitgesonder, sowel as die feit dat plaaslike diensverskaffers toenemend minder betaal word in vergeleke met hul eweknieë in ander lande.
Byna die helfte van respondente sê sou Namibië 'n nasionale gesondheidsversekeringskema (NHI) in die land instel, sal dit aansienlike skade aan die private gesondheidsektor berokken.
De Klerk sê so 'n skema sal 'n beduidende bedreiging vir die volhoubaarheid van die bedryf sowel as die voorsiening van hoëgehalte- gesondheidsdienste inhou.
“Ten beste sal dit die standaarde effens lig wat tans in openbare gesondheidsorg voorkom. Laasgenoemde sal egter gebeur deur beduidend die gehalte en standaarde te verlaag wat in private gesondheid heers,” sê De Klerk.
Volgens hom kom dit uiteindelik neer op 'n “Psemas-vir-almal-skema”, met geen of min alternatiewe keuses om beter gesondheidsorg te bekom as wat binne die regering se voorgeskrewe omvang van die skema beskikbaar is.
Byna 30% van respondente het aangedui hulle oorweeg om te emigreer. Sowat 36% sê hulle sou jong mense aanraai om in gesondheidsberoepe te gaan studeer, maar om nie in Namibië te praktiseer nie.
De Klerk sê die 20% van private diensverskaffers in die bedryf ouer as 60 en byna 'n derde van huidige verskaffers wat oorweeg om die land te verlaat, skets 'n donker prentjie vir die volhoubaarheid van die private gesondheidsektor.
“Namate gesondheidswerkers verminder, gaan koste verhoog en die beskikbaarheid en moontlik die gehalte van private gesondheidsorg afneem,” het hy gemaan.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie