PDM-jeug maak stem dik oor onderwys

Volgens die amptelike opposisie is Namibië se onderwysprioriteite misplaas.
Denver Kisting
Denver Kisting – Die Popular Democratic Movement (PDM) se jeugliga meen die land se onderwysstelsel is midde-in ’n krisis.

Volgens die liga sluimer die krisis reeds die afgelope 29 jaar sedert die land onafhanklik geword het.

Die PDM-jeugliga het gister by monde van sy woordvoerder, mnr. Maximalliant Katjimune, te velde getrek teen wat hulle beskou as misplaaste prioriteite, swak beplanning en die onderbefondsing van skole “deur die Swapo-regering”.

Die jeugleier sê die gebreke in die basiese onderwysstelsel dra regstreeks tot die uitdagings in hoër onderwys by.

Hy sê die land se onderwysstelsel word ook deur verskeie teenstrydighede gekenmerk.

Katjimune sê die PDM-jeugliga is teen die instel van Swahili in Namibiese skole gekant.

Volgens hom is hul teenkanting nie onpatrioties teenoor Afrika nie, “maar ons is eenvoudig van mening daar is tans belangriker kwessies waarmee ons onderwystelsel gekonfronteer is”.

Boonop, sê Katjimune, is dit skynheilig en onpatrioties om die Keniaanse taal deel te maak van Namibië se leerplan, terwyl “ons nog nie ons eie inheemse tale bemeester het nie”.

Hy vaar verder uit: “Dit moet die regering se doelwit wees om te verseker Namibiërs is patrioties en leer ’n mengsel van Namibiese tale in plaas van om ’n taal van ’n verafgeleë land bekend te stel wat van geen belang of toepassing vir die gewone Namibiër is nie.”

Die jeugliga het gister ook sy misnoë uitgespreek oor ’n aankondiging deur die adjunkminister van onderwys, kuns en kultuur, me. Ester Nghipondoka, dat gr.10’s wat hul opleiding deeltyds ontvang het, nie weer by die voltydse stelsel mag inskakel nie.

Volgens hom is dié leerlinge tans gestrand. Hy sê die PDM-jeugliga is veral ontsteld omdat die onderwysministerie dié besluit glo laat gekommunikeer het.

Daarnaas, sê Katjimune, gaan dit die leerlinge se ouers baie geld uit die sak jaag.

Nghipondoka het gister op ’n nuuskonferensie in Windhoek die ministerie se toegewing herhaal dat leerlinge wat verlede jaar gr.10 deeltyds gedoen het en wie se punte verbeter het, hulle tot ’n streekdirektoraat mag wend om vas stel of hulle by ’n skool gehuisves kan word.

“Andersins bly dit die ministerie se raad dat hierdie leerlinge liewer voortgaan om hul NSSCO-opleiding deur middel van deeltydse instellings in die ou leerplan oor ’n tydperk van twee jaar – drie vakke per jaar – te verwerf.”

Die adjunkminister moes verlede week bontstaan om gemoedere te kalmeer ná die ministerie se aankondiging oor deeltydse gr.10’s.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!