Pers prag lewer suiwer goud vir saffraanboere
Pers prag lewer suiwer goud vir saffraanboere

Pers prag lewer suiwer goud vir saffraanboere

Suid-Afrikaanse boere kan nou op kontrak die perperduur spesery saffraan verbou.
Ronelle Rademeyer
Antoinette Slabbert - ’n Noord-Kaapse boer glo Suid-Afrika kan een van die wêreld se voorste produsente van die peperduur spesery saffraan word. Hy gee landgenote nou die geleentheid om te deel in die voordele wat die verbouing van dié pragtige pers blomme bied.

Bennie Engelbrecht, besturende direkteur van Saffricon, doen al sewe jaar navorsing en het die afgelope vier jaar proewe gedoen op sy plaas tussen Williston en Calvinia in die Noord-Kaap. Die saffraan wat hy tot dusver verbou het, is van hoë gehalte en die smaak en reuk oortref dié van ingevoerde saffraan, sê hy.

In Suid-Afrika is die kleinhandelprys vir saffraan sowat R250 000 per kg. Dít verg sowat 150 000 blomme waarvan die stempel met sy drie vertakkings versigtig met die hand tussen die stuifmeeldrade uitgepluk moet word om 1 kg saffraan te lewer, sê Corné Liebenberg van Laeveld Agrochem wat die projek steun.



Saffricon maak sy saffraanbolle nou beskikbaar vir boere om op kontrak vir die maatskappy te boer en inkomste te verdien uit die blomprodukte én die kweek van die bolle. Hulle gee opleiding aan voornemende saffraanboere.

Wanneer die produksie in die derde jaar sy hoogtepunt bereik, lewer ’n hektaar tussen 1 kg en 5 kg saffraan. Ná drie jaar kan elke enkele bolletjie tot 27 vermeerder en Saffricon vergoed die boer vir die saffraan én die bykomende bolle.

Volgens Engelbrecht kan boere tot R200 000/kg verwag vir hul saffraan, afhangend van die kwaliteit.

Hy sê die 150 000 bolle vir ’n kwart hektaar kan die boer sowat R450 000 kos.

Liebenberg sê saffraan kan in feitlik enige omstandighede verbou word. Hy sê die meeste gewasse het tussen 500 mm en 800 mm se besproeiing per seisoen nodig.

Saffraan het net sowat 250 mm tot 300 mm nodig en is boonop rypbestand. Die feit dat die bolle nie eetbaar is nie, verskans dit teen stropers wat gewasse steel om te eet.



Die wêreldwye vraag na saffraan oorskry die aanbod.

Iran is tans die grootste produsent en verskaf sowat 90% van die wêreld se saffraan. Ander produsente sluit in Kasjmir, Afganistan, Griekeland, Marokko en Indië.

Volgens ’n verslag deur Grand View Research was die grootte van die internasionale saffraanmark in 2019 R13,4 miljard. Die navorsers voorspel dat dit teen ’n saamgestelde tempo van 7,3% per jaar kan groei tot 2027. Dié siening is gegrond op groei in die voedselbedryf, verhoogde lewenspeil en ’n toename in besteebare inkomste.

Liebenberg meen daar is groot potensiaal vir kommersiële en opkomende boere in die verbouing van saffraan en dit kan help om werkgeleenthede te skep. “Die aanvanklike kapitaaluitleg is hanteerbaar, 15 000 bolle kan op so min soos 250 m² geplant word,” sê hy.

“Al lewer driekwart van al die boere in Suid-Afrika elkeen een hektaar se saffraan, sal die mark nog nie versadig wees nie,” sê Engelbrecht. -Netwerk24/Rapport

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!