Perspektief op SA se rekordmielie-oes
Perspektief op SA se rekordmielie-oes

Perspektief op SA se rekordmielie-oes

Uiters suksesvolle seisoen lewer meer as 16 miljoen ton
Kobus Laubscher
Dr. Kobus Laubscher



Die finale skatting van die 2017 mie­lie-oes in Suid-­Afrika dui op 'n rekordoes van meer as 16,77 miljoen ton.

Dit span die kroon op 'n uiters ­suksesvolle seisoen wat afgerond kon word met gunstige weer tydens die strooptyd. Die ­naasgrootste oes was in die 1980-'81-oes­jaar met 14,872 miljoen ton. Bykans 4,5 miljoen hektaar was onder produksie, met 'n gemiddelde opbrengs van 3,3 ton per ha. Die 2017-oes is op 2 628 600 ha of 41,4% minder ha geproduseer as in 1980-'81. Die gemiddelde opbrengs van 6,37 ton/ha in 2017 is dus meer as 92% beter. Indien dieselfde oppervlakte in 2017 beplant sou word, sou vanjaar se oes 28,6 miljoen ton beloop het! Die 2017-oes is dus ook indrukwekkend in terme van produktiwiteit.

In 2014 was die gemiddelde opbrengs 5,3 ton/ha met 'n totale oes van 14 294 950 ton, die tweede hoogste opbrengs per ha in die geskiedenis. Behalwe vir die ­geweldige toename in die totale oes, was daar inter-provinsiale verskille van betekenis, sowel as die proporsionele aandeel van wit en geel mielies onderskeidelik. Die Vrystaat was die belangrikste voorsiener in terme van aantal ha (44,13% van die totaal) en 43,78% van totale produksie.

Produksie van wit en geel mielies uit die Vrystaat was onderskeidelik 51,67% en 32,38%. Mpumalanga was die geel mielie-leier met 34,20%. Die gemiddelde opbrengs in die Vrystaat was 6,32 ton/ha, teenoor die 7 ton/ha van Mpumalanga. Hierdie statistiek toon die egaligheid van produksie omdat die ooste gewoonlik beter vaar per hektaar. Die Noordwes-provinsie se opbrengs was net kort van 5 ton/ha. Vergeleke met 2014, het opbrengste betekenisvol gestyg, met meer as 25% in die geval van Mpumalanga/Limpopo en meer as 20% in die geval van die Vrystaat.

Alhoewel die rekordoes baie meer produsente bevoordeel deur 'n verkoopbare oes te hê, is die negatiewe van so 'n groot oes lae pryse. Die bruto waarde van die 2016-oes van net meer as 7,5 miljoen ton, was byvoorbeeld amper 25% minder as wat in 2017 kan realiseer. Die 2017-oes se bruto inkomste kan minder as 3% meer wees as dié van 2014. In reële terme daal bruto inkomste sodanig dat die 2017-vlakke vergelyk met dié van 2012.

Die verdere verswarende impak is dat die mielie-ruilvoet as gevolg van inset inflasie betekenisvol verswak en verder sal verswak. Ondanks produktiwiteit en gunstige produksie-omstandighede, is volhoubaarheid en kredietwaardigheid van mielieprodusente ernstig in gedrang. Die anomalie van die tyd is die gebrek aan insig van die staat om te help. Enersyds wurg veeboere in die Wes- en Oos-Kaap, terwyl mielies teen verliese uitgevoer word. Dit is billik om te wonder hoekom die surplus mielies nie as veevoer aangewend kan word op 'n prysbasis êrens tussen in- en uitvoerpariteit nie. Skaapboere sal weet hoe om sulke mielies kundig aan te wend.

Graan SA se begrotings vir die nuwe seisoen beklemtoon die dilemma. Na raming sal totale produksiekoste per ton voor bemarkingskoste vir stapelgeen-mielies R2 803,47 beloop teen 3,5 ton/ha. Teen 'n begrote plaashek-prys van R1 729 per ton is dit onderdeur, sonder dat geskatte bemarkingskoste van R271 per ton verreken is.

Produktiwiteitverhoging bring produksiekoste per ton af, maar selfs teen 7 ton per ha wat R1 820,86 per ton kos voor bemarking, dui die begrote prys op slegs kosteverhaling.

Hierdie realiteit gaan 'n impak hê op kredietwaardigheid, en leners en produsente sal hul potlode moet skerp maak, want prysvooruitsigte is nie gunstig nie. Aanduidings is dat globale mielie-aanbod vraag oorskry en dit kan 'n paar seisoene duur om deur te werk. Dit is nou meer as ooit noodsaaklik dat die ekonomie aan die gang kom om vraag te stimuleer en meer mielies teen beter pryse vir produsente verbruik word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!