Plek vir een en almal in Cycle Challenge
'n Naweek vir die hele gesin is opnuut op 9 en 10 Februarie in die vooruitsig.
Andrew Poolman - Die Nedbank Cycle Challenge se plek in Februarie – die onbetwiste supermaand van fietsry in die land – is gister bevestig met die bekendstelling van die grootste byeenkoms op die sport se nasionale kalender.
Net meer as eenduisend ryers behoort weer op Sondag 10 Februarie vir die padresies se drie afstande (20 km, 30 km, 60 km of 100 km) in en om Windhoek aan te tree.
Verlede jaar het Dan Craven die 100 km titel met 'n breukdeel van 'n sekonde voor Drikus Coetzee gewen, terwyl Vera Adrian ook skaars 'n sekonde voor Michelle Vorster die vroueresies gewen het.
Twee Sondae later (24 Februarie) sal die Cycle Challenge se bergfietsbyeenkoms aangebied word, waarby die nasionale marathonkampioenskap oor 70 km ingesluit word en waar UCI-ranglyspunte verdien kan word. Afstande van 10 km of 20 km sal egter ook beskikbaar wees. Die bergfiets-weergawe lok jaarliks nagenoeg 700 ryers.
Nedbank Namibië se finansiële hoofbeampte, mnr. JG van Graan, het gister by die bekendstelling gesê entoesiasme vir die Cycle Challenge het 'n aansteeklike effek wat wyd uitkring.
“'n Jaar sonder weerga lê vir Namibiese fietsry voor. Dit is die gevolg van verskeie faktore, insluitend die baie opoffering en moeite om die saak van fietsry by alle rolspelers in die land te bevorder, tesame met die entoesiasme waarmee die hele fietsrygemeenskap die sport benader.
“Nedbank Namibië se geskiedenis is nóú verweef met fietsry, en net soos ons 2018 met die ikoniese Nedbank Desert Dash afgesluit het, so het ons 2019 met die Nedbank/Windhoek Pedal Power-reeks vir spanne afgeskop.
“Dit alles dien as 'n voorspel tot die Nedbank Cycle Challenge – ons land se bes ondersteunde fietsrybyeenkoms wat konstant die grootste getal deelnemers van enige resies in Namibië lok.
“Die Nedbank Cycle Challenge het oor die laaste drie dekades gewys dat hy gekom het om te bly. In sy 34ste bestaansjaar het hy reeds sy bynaam verdien, as die 'Greatest Ride Under The Sun'.”
Van Graan het gesê die bank is trots om die deurlopende ontwikkeling en groei in elke aspek van die sport te aanskou.
“Die gehalte van Namibiese fietsry word daarin weerspieël dat hy erkenning op beide kontinentale en wêreldwye vlak verdien. As bewys kan die wedrenne genoem word wat punte vir die UCI-wêreldranglyste tel – insluitend die Afrika kontinentale bergfietskampioenskap wat in April hier in ons eie agterplaas buite Windhoek aangebied gaan word.
“Nedbank Namibië is trots daarop dat hy 'n integrale rol in al dié gebeure gespeel het.”
Van Graan sê die talent van die land se jongelinge en die mentorskap wat hulle van die ouer ryers ontvang, is 'n bemoedigende teken dat die land op die kompeterende wêreldvlak steeds sy merk kan bly maak.
Op aanbeveling van die Namibiese Fietsryfederasie is ingestem dat die onderbreking nou twee weke, pleks van net een week, tussen die Nedbank Cycle Challenge se padresies en bergfietsresies sal wees.
Die 2019 Nedbank Cycle Challenge se padfietsresies op 10 Februarie sal soos gewoonlik voor die bank se hoofkantoor in Onafhanklikheidslaan wegspring.
Inskrywings kan aanlyn by www.today.com.na gedoen word, of by Nedbank-takke landwyd en selfs by Airtime City se outomatiese verkoopmasjiene.
“Die heel beste manier om in te skryf, is deur die PayToday-toepassing op jou foon af te laai, want dit bring jou in aanmerking vir afslag van vyftig persent op jou inskrywingsgeld,” het me. Tuna Brock van die Today-groep gesê.
BERGFIETSRY
Die Nedbank Kidz Challenge is vir Saterdag 23 Februarie by die Waldorf-skool in Avis geskeduleer. Die byeenkoms vir kinders het in 'n geleentheid van sy eie ontwikkel en nagenoeg 200 kleintjies word vir die pret op hul fietse verwag.
Sondag 24 Februarie se Nedbank MTB Challenge sal ook by die Waldorf-skool begin. Die roete beloof om die voorste avontuurryers in die 70 km aan 'n goeie tegniese toets te onderwerp.
Wenners in die hoofkategorieë sal vereer word met die gesogte nasionale trui wat in die marathon-bergfietskampioenskap van die Namibiese Fietsryfederasie (NCF) op die spel is.
Dit kan ook 'n gemaklike rit deur die veld wees vir diegene wat net vir die korter afstande (10 km of 20 km) kans sien.
Van Graan het gesê die “beste rit onder die son” sou bykans onmoontlik gewees het as dit nie was vir die steun van vennote soos die Fietsryfederasie, Windhoek Pedal Power, Rock & Rut bergfietsklub, Coca-Cola, Namibia Health Plan, die Today-groep en Events Unlimited, “asook elke enkele vrywilliger wat hul tyd so vrygewiglik opoffer” nie.
Die Windhoekse munisipaliteit en die stadspolisie is ook uitgesonder vir hul steun om 'n veilige byeenkoms te help verseker.
STUDIE
Wesley Pieters, die Rock & Rut bergfietsklub se beampte vir kommunikasie en borgskappe, het gesê 'n wetenskaplike studie sal vanjaar deel van die Cycle Challenge vorm.
“Ek is ook 'n dosent in bedryfsielkunde by die Universiteit van Namibië. Ons het besluit om vanjaar 'n studie oor die fisieke en sielkundige gesondheid van fietsryers in Namibië uit te voer.
“Die studie sal ondersoek hoedat hierdie twee faktore die sin van geluk en lewenstevredenheid van fietsryers beïnvloed. Met die steun van die NCF en Nedbank sal hierdie studie se data op 9 Februarie by die registrasiepunt versamel word.
“Hoekom behoort fietsryers aan die studie deel te neem? Die rede is dat ons die bevindinge wil gebruik vir die hersiening van beleid vir die ontwikkelaars van infrastruktuur – om dorpe en stede meer gebruiksvriendelik vir fietsryers te maak, deur fietsrybane by die beplanning in te sluit.
“Deur die studie wil ons ook die fisieke en sielkundige voordele van fietsry vir algehele welstand uitlig. Hierdeur wil ons beginners aanmoedig om fietsry as opsie te oorweeg en in die algemeen na 'n gesonde leefstyl oor te skakel.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie