Polisieman sterf in aanval naby Egiptiese klooster

’n Betekenisvolle Christen-plek aan die voet van Berg Sinai is geteiken.
NAMPA
Gewapende mans het veiligheidsmagte naby die St. Catherine-klooster in Egipte se suidelike Sinai Dinsdag aangeval. Minstens een polisiebeampte is dood en vier ander gewond, het die ministerie van gesondheid gesê. Dit volg net ‘n week ná twee dodelike kerkbomaanvalle die lewens van 45 mense in die land geëis het.

Die Islamitiese Staat-groep (IS) het aanspreeklikheid vir die aanval by ‘n polisiedeursoekpunt, ongeveer 800 meter van die ingang van die klooster af, aanvaar.

Die klooster is een van die wêreld se mees betekenisvolle Christen-plekke.

Die aanval kom slegs 10 dae voor pous Franciscus Egipte besoek en net ‘n week ná twee dodelike selfmoordbomaanvalle op Chrstelike kerke, waarvoor IS ook aanspreeklikheid aanvaar het. Die aanvalle was een van die bloedigste dae vir die land se Christen-minderheid in dekades.

St. Catherine is in die sesde eeu gestig en is aan die voet van Berg Sinai geleë. Dit is een van die Christendom se oudste kloosters en ‘n Unesco-wêrelderfenisplek. Dit is deel van die Oostelike Ortodokse Kerk.

Egipte se Christen-minderheid, wat ongeveer 10 % van die land se 92 miljoen mense uitmaak, word toenemend deur IS geteiken met drie dodelike kerkaanvalle in die afgelope vier maande.

In Februarie het talle Christen-families en studente uit die Noord-Sinai-provinsie gevlug ná ‘n vlaag geteikende moorde.

‘n Geslaagde aanval op St. Catherine sou die jongste uitdaging vir pres. Abdel Fattah al-Sisi wees, wat belowe het om godsdienstige minderhede as deel van sy veldtog teen ekstremisme te beskerm.

Egipte is reeds jare lank in ‘n stryd gewikkel teen ‘n Islamitiese insurgensie in die onherbergsame en ylbevolkte noordelike Sinai. Die insurgensie is verskerp met die omverwerping van die bewind van pres. Mohamed Morsi van die Moslem Broederskap in 2013.

Aanvalle in Egipte se suidelike Sinai, ‘n gewilde bestemming vir toeriste wat besoek bring aan oorde aan die Rooisee, is, in teenstelling, redelik raar.

Veiligheidsbronne het aan Reuters gesê veiligheidsmaatreëls is op ‘n hoë gereedheidsgrondslag by toeristegeriewe in die suidelike Sinai ná die aanval geplaas.

Die aanval naby die klooster kom ten tyde van ‘n verwagte besluit van Rusland om moontlik vlugte na die Sharm el-Sheikh-oord weer in te stel nadat ‘n Russiese vliegtuig in 2015 in die gebied afgeskiet is en die toerismebedryf 'n gevoelige slag toegedien het. Al 224 mense aan boord die vliegtuig is dood.

Die gebied maak staat op groot getalle Russiese toeriste.

Egipte se toerismebedryf, ‘n noodsaaklike inkomstebron vir die land, is die afgelope jare ná die val van pres. Hosni Mubarak in 2011 onder kwaai druk.

Israel het ‘n ongewone stap vroeër die maand geneem en sy burgers verbied om die Sinai-skiereiland binne te gaan omdat die bedreiging van aanvalle wat deur IS en ander djihadistiese groepe geïnspireer word, net te groot is. - Nampa/Reuters

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!