Potplesier!

As jy jou tuinmaaklus volmaak wil bevredig, maak ook tuin in potte – jy gaan baie minder water gebruik! Niks is so lekker as om na ’n bietjie “potjie krap”, die eindresultaat gade te slaan nie – ’n perfekte miniatuurtuin in ’n gemengde pot vol verskillende plante, of net een pragtige fokusplant in ’n elegante houer.

Twee eenvoudige filosofieë oor houertuinmaak om te onthou is:

In ’n pot kan jy groeitoestande perfek beheer, met goeie grond, genoeg water, gereelde voeding en die regte plek.Beplante potte is nie vir ewig nie, so jy kan hulle gereeld herplant of hernuwe, wat beteken die kans dat jy verveeld gaan raak, is dus klein.

Die regte grondmedium

Om grond uit die tuin op te grawe gaan nie vir sukses sorg nie en moet nooit gedoen word nie! Kommersiële potgrondmengsels is gemeng om onkruidvry en sonder grondoordraagbare patogene te wees. Dit bevat gekomposteerde fyn bas, organiese materiaal en skerp riviersand of ander byvoegings soos perliet of vermikuliet om met dreinering te help, en ook om vog eweredig om plante se wortelstelsels te behou. So, gebruik altyd net die beste gehalte potgrond.

Tuiswinkels en tuinsentrums hou ook spesialismengsels aan wat vir verskillende plante geformuleer is soos grinterige vetplantgrond, veen vir viooltjies, varings en ander fyn binnenshuise plante, roos- en struikmengsel wat swaarder is en ’n bietjie klei bevat, en ook spesiale grondmediums vir orgideë, vaasplante, bonsai en fynbossoorte. Ons sien deesdae ook voedingstof-verrykte mengsels vir sitrusboompies soos suurlemoene en azaleas wat ook in grond met ’n lae pH wil groei.

Die vraag ontstaan altyd of ’n mens die volume van duur potgrond ’n bietjie kan rek deur kompos (wat goedkoper is as potgrond) by te voeg. Daar is geen rede hoekom algemene potgrond nie soos volg gemeng kan word nie: Gebruik 2/3 potgrond en 1/3 kompos. Dit werk heel goed vir gemengde houers met plante wat geen spesiale grondvereistes het nie.

Blitswenk: Om die koste van grond wat nodig is om oorgroot potte te vul te verlaag, kan jy die onderste derde van die pot vul met ou 2 liter-plastiekkoeldrankbottels, of stukke polistereen (soos afkomstig van verpakkingsmateriaal), voordat die pot verder gevul word met grond. Dit geld veral as ’n mens plante

met vlak wortels soos mooi dwergaalwyntjies of grasse in hoë en slanke potte wil plant.

Ander byvoegings om saam met potgrond te meng:

· Voeg altyd ’n handvol organiese beenmeel by die mengsel – dit moedig sterk wortelgroei aan en brand nie die plante nie.

· Stadigvrystellende misstowwe is ook voordelig, veral as jy beplan om ’n meer permanente fokusplant soos ’n boomaalwyn (Aloe barberae), drakeboom of sikadee te plant.

· Twee ligte mediums wat soms ook by potgrond gevoeg word om dreinering en voghouvermoë te verbeter, is perliet en vermikuliet. Dit werk veral goed om die gewig van hangmandjies ligter te maak.

Kies jou houers

Omtrent enige houer wat genoeg grond kan hou, kan gebruik word. Maar die belangrikste faktor is dat daar dreineringsgate moet wees vir die water om weg te loop.

Afgesien van plante wat daarvan hou om in water te groei, haat die meeste ander nat voete en versuipte grond en sal op die lang duur vrek.

’n Laag klipgruis of groter klippe onderin die pot is nog ’n manier om dreinering aan te help. Omdat baie potte redelike groot dreineringsgate het, kan jy keer dat jou klipgruis en grond wegspoel deur stukke ou broekiekouse of skadudoek oor die gate te plaas voor jy die klippe en grond ingooi.

Plaas groot potte (voordat hulle beplant word) op potvoetjies, bakstene of sementblokke sodat die water vrylik kan wegloop – nog ’n wenk om slegte dreinering te vermy.

Potpierings of nie?

Mense kla soms dat lekkende potte duur stoepteëls vol modder maak en gebruik dan potpierings om die water op te vang. Dis goed so, maar geen plant gaan oorleef as die bodem van die pot vir dae in ’n piering water staan nie. Om dit te oorkom, gooi ’n dik laag klipgruis onder in die piering waarop die pot kan staan eerder as om in die water in die piering te wees.

Blitswenke:

· As jy groot en swaar potte kies om êrens in die tuin of by die voordeur as fokuspunte te gebruik, plaas hulle eers leeg op die plekke wat jy in gedagte het vir ’n dag of twee. Jy verander dalk van plan. Om swaar potte met plante in te verskuif is nie ’n maklike taak nie.

· Hou skaal in gedagte – ’n mens koop maklik ’n elegante en duur pot net om tuis agter te kom die ding pas nie in die plek nie, of is in die geval van ’n spesiale fokuspunt heeltemal te klein!

Watergebooie en voeding

Potte droog gou uit en moet in warm weer amper daagliks water kry, mits die grond nie droog voel as jy jou vinger diep daarin druk nie. Om die grond langer klam te hou, gebruik ’n deklaag van kompos of basstukkies om die plant. Maak net seker dat die grondoppervlak met deklaag en al, ten minste 5 cm onder die rand van die pot is, so nie sal die water nie insak nie en bloot bo-oor wegloop.

Maak ook gebruik van water­retensieprodukte (daar is baie op die mark) wat die potmedium vir langer vogtig hou.

Plante in potte is eintlik jou gevangenes en kan nie soos tuinplante hul wortels ver uitstoot om voedingstowwe te soek nie. Hulle maak staat op jou om hulle gereeld te bemes. Voed blaarplante elke maand met ’n vloeibare misstof, en gemengde potte met blomplante soos meerjariges en saailinge elke twee weke. - Netwerk24 verwerk

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!