• Tuisblad
  • Afrika
  • Presidente van Wes-Afrika, Frankryk stel Sahel-mag bekend
Presidente van Wes-Afrika, Frankryk stel Sahel-mag bekend
Presidente van Wes-Afrika, Frankryk stel Sahel-mag bekend

Presidente van Wes-Afrika, Frankryk stel Sahel-mag bekend

'n Nuwe mag om terreur in Wes-Afrika te bekamp, is die naweek op die been gebring.
NAMPA
Afrikamagte het 'n nuwe multinasionale militêre mag bekend gestel om Islamitiese militante in die Sahel te beveg.
By die geleentheid het Frankryk se pres. Emmanuel Macron gesê die mag behoort teen die herfs ten volle operasioneel te wees ondanks die huidige begrotingstekort.
Sommige waarnemers sien die inisiatief van die G5 Sahel-blok, Mali, Mauritanië, Burkina Faso, Niger en Tjad as die moontlike grondslag vir 'n uiteindelike onttrekking van nagenoeg 4 000 Franse troepe aan die gebied. Macron het egter gesê Parys het geen planne om hulle te onttrek nie.
Islamitiese militante groepe, sommige met bande aan Al-Kaïda, het in 2012 beheer oor die woestyngebied in die noorde van Mali oorgeneem.
Al is hulle 'n jaar later deur 'n Fransgeleide militêre ingryping verdryf, gaan hulle voort om aanvalle op ­vredebewaarders van die Verenigde Nasies (VN), Malinese soldate en ­burgerlike teikens uit te voer met geweldpleging wat tot buite Mali se grense versprei het.
“Ons moet daagliks terroriste, boewe en moordenaars beveg wie se name en gesigte ons mag vergeet, maar wie ons met vasberadenheid in hul geheel moet uitwis,” het Macron tydens die spitsberaad in Mali se hoofstad, Bamako, gesê.
Tydens die vergadering het leiers van die G5 Sahel-lande formeel 'n nuwe mag tot stand gebring wat met Franse troepe en Minusma, Mali se sukkelende VN-vredesending, sal saamwerk.
Die mag sal na verwagting uit 5 000 troepe bestaan.
Met die militêre hoofkwartier in die noordelike Malinese dorp, Sevare, sal die G5 Sahel-mag op grenssones fokus - een tussen Niger en Mali, een tussen Mali en Mauritanië en 'n derde een wat die grense tussen Burkina Faso, Niger en Mali sal dek.
Parys beskou die Sahel as 'n broeiplek vir militante en mensehandelaars wat 'n bedreiging vir Europa inhou.
Laat Saterdag het JNIM, 'n groep met bande aan Al-Kaïda, 'n video vrygestel waarin ses Westerse gyselaars wat in onlangse jare in die streek ontvoer is, gewys word. Onder hulle was 'n Franse burger, Sophie Pétronin.
Die Europese Unie (EU) het reeds 50 miljoen euro (US$57 miljoen) vir die Sahel-mag bewillig en Macron sê Frankryk sal teen die einde van die jaar 8 miljoen euro vir die mag ­beskikbaar stel.
Elk van die G5 Sahel-lande sal 10 miljoen euro vir die mag bydra. – Nampa/Reuters

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!