Proaktiewe optrede teen droogtes nodig
Proaktiewe optrede teen droogtes nodig

Proaktiewe optrede teen droogtes nodig

Eerste Afrika Droogtekonferensie begin
Henriette Lamprecht
Elvira Hattingh - Vir droogtes kán beplan word. Afrika moet wegbeweeg van krisis- en rampbestuur en pogings ter versagting as dit by droogtes kom. Die toekoms sal ernstige politieke toewyding vereis, asook proaktiewe droogtebestuursbeleide en die instelling van vroeë waarksuwingstelsels.
Dit is die mening wat gister deur verskeie sprekers by die Afrika Droogtekonferensie in Windhoek gehuldig is. Van hulle was die Namibië Nasionale Boere-unie (NNFU) se uitvoerende direkteur, mnr. Mwilima Mushokobanji, mnr. Babagana Ahmadu van die Verenigde Nasies (VN) se Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) asook me. Kiki Gbeho, die VN-koördineerder vir Namibië.
Die adjunkpremier en minister van internasionale betrekkinge, me. Netumbo Nandi-Ndaitwah, het gister die amptelike opening van die konferensie namens die eerste minister behartig. Die tema van die konferensie is die verbetering van veerkragtig teen droogtegebeure in Afrika.
Ander sprekers tydens die opening sluit in die VN se dr. Daniel Tsegai vir die konvensie om verwoestyning te bekamp, mnr. Pohamba Shifeta, minister van die omgewing en toerisme en mnr. John Mutorwa, minister van water, landbou en bosbou.
Dit is die eerste konferensie van sy soort en vloei uit ‘n besluit wat in 2013 tydens die Verenigde Nasies se Konvensie vir die Bekamping van Verwoestyning (UNCCD) se Elfde Konferensie van Partye (COP11) gemaak is.
Me. Tumusiime Peace, die Afrikau-unie (AU) se kommisaris vir maatskaplike aangeleenthede, landelike ekonomie en landbou, het gesê Afrika kan toenemend meer gereelde en ernstige droogtes verwag.
“Ons kan nie langer op reaktiewe strategieë staatmaak wat dikwels te laat en met ‘n minimale impak kom nie. Ons kan nie toelaat dat elke droogte in ‘n katastrofe ontaard of ons miljoene kos nie,” het sy gesê.
Nandi-Ndaitwah het ‘n beroep gedoen op die kommisaris van die Afrika-unie, me. Tumusiime Peace, dat die uitkomste van dié droogtekonferensie voor die unie se internasionale vergadering dien vir dringende oorweging en moontlike aanvaarding deur Afrika-staatshoofde, sodat dit van krag kan word.
“Die hele Suider-Afrika is in ‘n droogte vasgevang en gevolglik is ‘n streekramp verklaar,” het sy gesê.
“Die impak van die droogte bedreig nie net ons landboubedryf en voedselsekerheid nie, maar beïnvloed ook die ekonomie van ons land, Afrika-substreke en die vasteland. Afrika moet meganismes ontwikkel hoe om droogte te hanteer, ten einde die Afrika Agenda 2063 te behaal.
“Voedselsekerheid is een van Afrika se prioriteite, soos vervat in die 2003 Maputo-ooreenkoms, waartydens Afrika-staatshoofde besluit het om minstens 10% van hul nasionale begrotings aan landbou af te staan.”
Volgens haar het elf lande in Afrika reeds in 2015 daarin geslaag om 10% of meer van hul begrotings aan landbou te bestee.
“Droogtehulp bly egter ‘n uitdaging. Namibië het meer as 11% van sy begroting toegestaan aan die kosproduksiebedryf asook ander sektore wat die produksie van kos steun,” het Nandi-Ndaitwah gesê.
Sy het gesê droogte raak ‘n al meer gereelde gas in ons land en sal na verwagting al meer sy opwagting maak.
“Gevolglik sal ons droogte in die toekoms nie as ‘n ramp kan beskou nie, maar ‘n risiko wat ons te alle tye te wagte moet wees en gereed moet wees om te hanteer.”
Nandi-Ndaitwah het gesê ‘n tekort aan gewasse en lewende hawe het sedert Maart tot ‘n drastiese verhoging in voedselpryse gelei. Tesame met ‘n swakker inkomste vir mense in die landbousektor, dra dit daartoe by dat al hoe meer mense na dorpsgebiede verhuis.
“Dit plaas meer weer groter druk op munisipale dienste. Terselfdertyd ervaar Namibië ‘n ernstige tekort aan water – beide vir menslike gebruik en nywerhede.
“In Namibië het die regering in 2014-’15 meer as 413 900 mense van kos voorsien. In 2015-’16 het dié getal verhoog na 556 447 en in die huidige boekjaar moet 595 839 mense tot in Maart 2017 van kos voorsien word, waarna mense hopelik weer gewasse sal kan oes.”
Sy het ook gesê geld en hulpbronne vir droogtebestuur is ‘n groot uitdaging. “Na raming moet die Namibiese regering vanjaar N$659 miljoen vir sy droogtehulpprogram insamel. In Suider-Afrika alleen word na raming N$3 miljard vir droogtehulp benodig,” het sy gesê
Volgens haar kan gereelde droogtes as gevolg van klimaatverandering eindelik tot die ondermyning van ontwikkelingsplanne soos Visie 2030, die Harambee-welvaartplan asook nasionale ontwikkelingsplanne lei, sou nie ingetree word nie.
“Die afwesigheid van droogtebestuursbeleide en vroeë waarksuwingstelsels in verskeie Afrika-lande, wek kommer. Dus moet die konferensie met werkbare planne ten opsigte hiervan vorendag kom.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!