Proewe moet toekomspad wys

Skaars 'n jaar bly oor voordat die bepalende kwalifiserende veldtog vir die volgende Wêreldbeker aanbreek.
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Terwyl steeds vir 'n geruime tyd getalm kan word om die nuwe hoofafrigter van die Namibiese rugbyspan se aanstelling in oorleg met Wêreldrugby te bevestig, word môreoggend nietemin voortgegaan om met nasionale proewe die land se beste spelerstalent uit te sif.

Halfpad deur die Wêreldbeker-siklus tussen Japan 2019 en Frankryk 2023 is hierdie proewe 'n betekenisvolle mylpaal te midde van die grootskaalse ontwrigting wat Covid-19 op die sportkalender meegebring het.

Volgens mnr. Irvin Newman, spanbestuurder van Namibië, is die proewe oopgestel vir spelers van oral (selfs buite die landsgrense) wat hul kleim wil kom afsteek.

Registrasie word om 08:00 by die Hage Geingob-stadion gedoen, voordat proefwedstryde vanaf 09:00 tot omstreeks die middaguur geskeduleer is.

Die Namibië Rugby-unie het reeds laat blyk dat hy met sy buurland Zimbabwe ooreengekom het op vriendskaplike wedstryde op 12 Junie in Harare en op 19 Junie in Windhoek.

Dit sal dien ter opwarming vir die Rugby Afrika minitoernooi in Windhoek (1 tot 11 Julie), waarin Ivoorkus en Madagaskar van 1 tot 11 Julie die gasheerland kom uitdaag.

Met die tuisveld in sy guns sal daar geen verskoning wees vir Namibië om nie sy verreweg beter posisie op die wêreldranglys (tans 24ste) teen Zimbabwe (35ste), Ivoorkus (42ste) en Madagaskar (51ste) gestand te doen nie.

Die toptwee spanne van die Windhoek-toernooi sal deurdring na Rugby Afrika se topagt wat volgende jaar vir die vasteland se enkele plek by die 2023 Wêreldbeker in Frankryk sal meeding.



BAIE PLEKKE OOP

Vanweë Covid-19 voel dit soos 'n leeftyd gelede dat Namibië sy laaste toetsverskyning by die 2019 Wêreldbeker teen die All Blacks gemaak het.

Eugene Jantjies, Darryl de la Harpe en Rohan Kitshoff is die enigste drie lede van die 2019 WB-groep wat reeds bo twyfel hul uittrede bevestig het.

'n String Namibiërs (omtrent 18) het buitelandse kontrakte en die meeste van hulle sal onbe­skikbaar vir byvoorbeeld die Zimbabwe-wedstryde wees, wat buite die internasionale venterperiode gespeel word.

Plaaslike staatmakers soos die 29-jarige senter JC Greyling (21 drieë in 35 toetse), 32-jarige flank Thomasau Forbes (19 toetse), stut AJ de Klerk (29 jaar, 31 toetse) en Janry du Toit (24, drie toetse) speel nie tans rugby nie en is op hul familie-, sake- of boerderybelange ingestel.

Die 22-jarige stut André Rademeyer (ses toetse) boer ook nou voltyds en sy aansluiting by Grootfontein-rugbyklub beteken nie noodwendig dat hy weer vir die nasionale span beskikbaar sal wees nie.

Van Grootfontein gepraat, na verneem word beoog vier van sy invloedryke spelers om wel in Windhoek te kom proewe speel. Johan Luttig en Pieter Daan Kok (beide flank of slot), Louis Grobbelaar (senter of losskakel) en stut Amutenya Amutenya het almal tevore die Namibiese o.20-trui gedra.

Intussen is Trustco United se voorspelers Thomas Kali (slot) en Gerhard Thirion (haker) se tugverhoor ook afgelope Maandag afgehandel. Die tydsduur van hul skorsing is identies as FNB Unam se Simon Kanime en Bigman Kaura wat tydens dieselfde wed­stryd van 17 April rooi kaarte gekry het en tot einde Mei nie klubwedstryde mag speel nie.

Die genoemde viertal het wel vrystelling gekry om môre aan die proewe te mag deelneem en word ook toegelaat om oefensessies met hul klubmaats by te woon totdat hulle in Junie na die speelveld mag terugkeer.

In die NRU premierliga wat verlede maand afgeskop het, het voormalige toetsspelers soos Jason Benade (stut van Trustco United), Ruan Ludick (slot, FNB Wanderers) en ander intussen beserings opgedoen wat hulle steeds op die kantlyn hou.



PROSES MET AFRIGTER SLOER

Sover die aanstelling van die Namibiese afrigter betref, word verneem dat die NRU en Wêreld­rugby nog moet ooreenkom oor besonderhede van die prosedure, soos wie die kiespaneel sal vorm en waar die onderhoude met die buitelandse uitsoekkandidate moet geskied, wat volgens die NRU se voorkeur eerder in persoon as virtueel moet gebeur.

Nadat Phil Davies se termyn ná afloop van die 2019 Wêreldbeker verstryk het, is Johan Diergaardt aangestel, maar vanweë Covid-19 is geen toetse vir die duur van sy aanstelling gespeel nie, totdat hy kort voor Kersfees 2020 bedank het.

[email protected]


FOTO’s
FNB Unam se kaptein en agtsteman, Prince !Gaoseb, begin ’n beweging teen Trustco United in ronde 2 van die NRU premierliga. Regs is die flank Cameron Langenhoven. Foto Andrew Poolman

Thomas Kali (op grond) en Hanreco van Zyl (regs) van Trustco United op die verdediging in hul onlangse verloorwedstryd teen FNB Unam, vir wie Sunday Haitembu as baldraer deur Alcino Izaacs ondersteun word. Foto Andrew Poolman

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!