Proteas kan op oorwinning voortbou

Krieket
Tinus van Staden – Wanneer een van die minder geroemde toetsspanne na Suid-Afrika toer, het die Proteas altyd min om te wen, maar baie om te verloor.
As hulle oortuigend wen, soos nou weer, sê mense bloot: Ja, maar selfs Potgietersrus se o.13-span kan dié lot klop.
Verloor Suid-Afrika, soos wat in 2019 gebeur het . . . o wee, dan is die eindtye weer hier. Wat daardie 2019-skoknederlaag teen Sri Lanka gewys het, is dat daar nie iets soos ’n maklike toets is nie. Elke toetsoorwinning is ’n prestasie.
Dieselfde geld hier ook met dié reeksoorwinning van 2-0, wat Suid-Afrika Dinsdag op die Wanderers beklink het. Ja, dit is nie die sterkte teenstanders nie en ja, hulle het baie beserings gehad, maar die Proteas moes steeds die lopies slaan en die paaltjies plattrek.
Natuurlik kan daar oor sekere aspekte kritiek wees. Byvoorbeeld: die boulwerk in die eerste beurt van die eerste toets; die kolfineenstorting op dag 2 van die tweede toets; en te gereelde onbestendige boulwerk.
Dit is geldige kritiek. ’n Mens moet wel in gedagte hou dat die Protea-snelboulaanval van Anrich Nortjé, Lungi Ngidi, Lutho Sipamla en Wiaan Mulder voor die eerste toets gesamentlik slegs 12 toetse se ervaring gehad het.
Al het hulle Sri Lanka toegelaat om in die eerste beurt van die eerste toets 396 lopies aan te teken, het hulle die eilandspan daarna vir 180, 157 en 211 uitgeboul. Dit is 29 paaltjies (Dhananjaya de Silva het nie in die tweede beurt van die eerste toets gekolf nie) vir 548 lopies – oftewel 18.89 lopies per paaltjie. Nie te versmaai vir ’n groen boulaanval nie, selfs al is dit in tuistoestande en teen ’n boulaanval sonder ’n Virat Kohli of ’n Steve Smith.
Dis ook bemoedigend dat elke naatbouler iewers in die reeks ’n bydrae gelewer het, net soos wat byna elke kolwer ’n bydrae gelewer het (maar ons kom nou daarby uit).

BOULVONDS
Lutho Sipamla het sy veggees in die eerste toets gewys deur sterk terug te slaan ná ’n vrotsige eerste dag.
Hy is die vonds van die reeks. Op die eerste dag van die eerste toets het hy in ’n stadium syfers van 0/66 in 12 boulbeurte gehad. Daarna het hy 10/101 in 27.5 boulbeurte platgetrek in die res van die reeks. Hy eindig dus met tien paaltjies teen ’n gemiddeld van 16.70 lopies per paaltjie, en spog met die naasmeeste slagoffers.
Anrich Nortjé was soms ’n bietjie wild, maar sy spoed en X-faktor het veral in die eerste beurt van die tweede toets ’n verskil gemaak. Hy het 11 paaltjies teen 23.18 platgetrek en is die voorste paaltjievraat.
Wiaan Mulder se boulwerk was ’n aangename verrassing en hy het in albei toetse groot deurbrake bewerkstellig. Sy bestendige, akkurate boulwerk het vir hom nege paaltjies teen 20.55 besorg.
Lungi Ngidi het goeie tekens gewys en daarna weer ’n paar swak aflewerings geboul in Sri Lanka se eerste drie kolfbeurte van die reeks, maar in die tweede beurt van die tweede toets was hy bestendig goed. Hy het met 4/44 in sy 15 beurte geëindig, wat hom beter sal laat voel oor sy reeks.
Keshav Maharaj se dienste is nie benodig in die tweede toets nie en in die eerste toets het hy ook nie juis ’n rol met die bal gespeel nie. Daar het hy darem 73 waardevolle lopies aangeteken in Suid-Afrika se enigste kolfbeurt.

KOLFVERTONINGS
Wat die kolwers betref, sal Mark Boucher, die Protea-afrigter, bly wees dat elke kolwer in die topses, buiten Quinton de Kock, ’n vyftigtal aangeteken het.
Dean Elgar (253) is die voorste lopiemaker. Hy het twee belangrike beurte gespeel, wat Suid-Afrika in albei toetse die kans gegee het om te wen.
Faf du Plessis se spogbeurt van 199 in Centurion was ook ’n hoogtepunt. Aiden Markram, Rassie van der Dussen en Temba Bavuma het elk ’n vyftigtal aangeteken, wat hulle graag in ’n honderdtal sou wou uitbou.
Dit was ook goed dat die Proteas ’n totale ineenstorting in die eerste toets afgeweer het nadat drie vinnige paaltjies geval het. Ongelukkig kon hulle nie dieselfde in die eerste beurt in Johannesburg doen nie.
De Kock se gebrek aan lopies is dalk ’n effense kommernis, maar agter die penne was hy betreklik goed en dit was immers sy eerste toetsreeks as kaptein.
In daardie verband het hy warm en koud geblaas. Van sy strategiese besluite – soos om met ’n betreklike nuwe bal in Sri Lanka se eerste beurt in Centurion met ’n kortbal-plan te volhard – kan bevraagteken word, maar sy span hét darem twee klinkende oorwinnings behaal.
Hy sal die span op die toer na Pakistan aan die einde van die maand ook aanvoer terwyl die Protea-breintrust besin oor ’n heeltydse kaptein.
Dit is Suid-Afrika se eerste toetsreeksoorwinning sedert die tuisreeks teen Pakistan aan die begin van 2019. Sedertdien was daar tuisnederlae teen Sri Lanka en Engeland en ’n wegnederlaag teen Indië. Dit is boonop behaal sonder die mees invloedryke speler in die span, Kagiso Rabada.
Dit kan maar gevier word, want volgende wag ’n groot uitdaging – die eerste toer na Pakistan sedert 2007.
– Netwerk24

Suid-Afrika tn Sri Lanka; 2de toets, Wanderers, dag 3
Sri Lanka (1ste beurt) 157
Suid-Afrika (1ste beurt) 302
Sri Lanka (2de beurt) 211
Suid-Afrika (2de beurt) 67/0
SA wen met 10 paaltjies

FOTO’S
Lutho Sipamla is die vonds van die toetsreeks teen Sri Lanka. Foto Gallo Images

Dean Elgar, voorste lopiemaker, was speler van die wedstryd en van die reeks teen Sri Lanka. Foto Nampa/AP

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!