• Tuisblad
  • Sake
  • Prys van medisyne plaas druk op fondse, pasiënte
Prys van medisyne plaas druk op fondse, pasiu00ebnte
Prys van medisyne plaas druk op fondse, pasiu00ebnte

Prys van medisyne plaas druk op fondse, pasiënte

Hanlie Stadler

Nuwe medisyne wat tot R1 miljoen per pasiënt per jaar kos, plaas onbillike druk op Suid-Afrika se mediese fondse. Dis dalk tyd om nuwe planne te maak om medisyne bekostigbaarder te maak, reken kenners.

Die onderwerp oor hoe medisynepryse gereguleer moet word, is aangeroer op die Wêrelgesondheidsorganisasie (WGO) se forum oor billike medisynepryse, wat verlede week tot Saterdag in Johannesburg gehou is. Dit het wêreldwye belanghebbendes – regering, reguleerders in die gesondheidsektor, nieregeringsorganisasies, mediese versekeraars en natuurlik farmaseutiese maatskappye – saamgetrek.

Dis die tweede forum oor billike pryse; die eerste is twee jaar gelede in Amsterdam, Nederland, gehou.

’n Ondersoek wat die WGO in 2017 laat doen het, wys dat die produksiekoste van die meeste noodsaaklike medisynes net ’n fraksie is van die finale prys wat regerings, pasiënte of mediese skemas betaal.

Meer as 100 miljoen mense wêreldwyd verval elke jaar in armoede omdat hulle uit hul eie sak vir lewensnoodsaaklike medisyne moet betaal, volgens ’n nuusverklaring wat WGO Saterdag met die afsluiting van die forum uitgereik het.

Selfs in welvarende lande met ’n nasionale gesondheidstelsel word pasiënte al hoe meer gerantsoeneer vir die behandeling van onder meer kanker, hepatitis C en rare siektes. Selfs ouer medisyne, waarvan die patent al verval het – soos insulien vir diabetes – is ook vir baie mense onbekostigbaar.

GEBREK AAN DEURSIGTIGHEID

Afgevaardigdes was bekommerd oor die gebrek aan deursigtigheid oor hoe farmaseutiese maatskappye hul pryse vasstel, luidens die verklaring.

Daar is die gevoel dat groter deursigtigheid oor die koste van navorsing en ontwikkeling, sowel as produksiekoste, grootmaat-aankopers van medisyne sal help om billiker pryse te beding.

“Mediese innovasie het weinig maatskaplike waarde as die meeste mense nie toegang het tot die voordele nie,” sê dr. Mariângela Simão, die WGO se assistentdirekteur-generaal vir medisyne en gesondheidsprodukte in ’n verklaring. “Dis ’n wêreldwye menseregte-vraagstuk – almal het die reg tot toegang tot goeie gesondheidsorg.”

Een ooglopende teenstrydigheid is dat medisynepryse wissel van land tot land.

Die forum het konsensus bereik dat regerings kan help om deursigtigheid oor medisynepryse te verhoog deur inligting te deel.

Daar is ook ’n voorstel dat buurlande saamwerk om medisyne as ’n groep aan te koop en danksy die groter volume wat hulle aankoop, afslag kan beding.

Die lidlande van die WGO het in 2001 die Doha-deklarasie onderteken wat lande toelaat om medisyne-patente te skend wanneer dit in die belang van openbare gesondheid is. Dit het by die forum geblyk lande is huiwerig om dit in te span.

Die WGO sal in die komende weke ’n aanlyn konsultasieproses begin om voorstelle en sienings te versamel oor wat beskou kan word as ’n “billike prys”.

Inez Naidu, hoof van Discovery Health se medisyne-eenheid, sê in dié stadium beskryf die WGO ’n billike prys een wat bekostigbaar is vir gesondheidstelsels en pasiënte, maar wat terselfdertyd genoeg aansporings vir die farmaseutiese bedryf bied om in innovasie en produksie te belê.

Medisyne het in 2018 18% van die uitgawes van die Discovery Health Medical Scheme verteenwoordig. Die mediese fonds het nagenoeg R10 miljard aan medisyne bestee.

Dis belangrik dat medisyne van meet af aan teen ’n billike prys geregistreer word.

Daarby onderhandel mediese fondse met farmaseutiese maatskappye oor medisynepryse. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!