PS'e binnekort niu00e9 permanent
PS'e binnekort niu00e9 permanent

PS'e binnekort nié permanent

Die dae van permanente sekretarisse (PS’e) wat op hul louere rus, is getel.
Denver Kisting
Denver Kisting - As beplande wetgewing deurgevoer word, is PS’e binnekort nie meer “permanent” in die tuig nie.

Hiernaas sal dié rekenpligtige beamptes van ministeries ook dalk die titel PS kwyt wees.

Die eerste minister, dr. Saara Kuugongelwa-Amadhila, het die afgelope week ’n wysigingswetsontwerp in die Nasionale Vergadering (NV) ter tafel gelê wat wysigings aan die staatsdienswet voorstel.

Sy het gesê die bestaande wet staar omvattende veranderinge in die gesig om professionaliteit binne die staatsdiens ’n hupstoot te probeer gee.

Kuugongelwa-Amadhila sê dié oefening sal Namibië se wetgewing, wat die werksaamhede van die staatsdiens reguleer, laat strook met internasionale neigings en verwikkelinge wat openbarediensbestuur betref.

Die huidige wet het in 1995 van krag geword.

Een van die vernaamste voorgenome wysigings lui dat PS’e voortaan op ’n vastetermynkontrak aangestel sal word.

As die nuwe wet in werking tree, gaan PS’e ook voortaan as uitvoerende direkteure bekend staan.

Die premier sê die regering probeer aan die hand van dié en ander leweringsmaatstawwe sy werknemers toerus om aan ontwikkelingsdoelwitte te voldoen.

“Een van die hulpmiddels is die merietebeoordelingsbeleid.”

Met die inwerkingstelling van dié beleid word staatsdienswerknemers se vordering en prestasie deur middel van vasgestelde teikens en uitkomste gemeet, sê die eerste minister.

Volgens haar is dit standaardpraktyk in ’n werkruimte om die prestasie van ’n instelling te koppel aan die instelling se leierskap om te verseker daar word aan ooreengekome verwagtinge voldoen.

Kuugongelwa-Amadhila sê voorts die wetsontwerp het ten doel om PS’e op ’n vastetermynkontrak aan te stel om ’n “prestasiekultuur op die hoogste vlak van die staatsdiens te bevorder”.

PS’e wat onlangs aangestel is, het reeds op ’n vastetermyngrondslag diens aanvaar, sê sy.

Maar, sê sy, die huidige wet maak so ’n kontrak nie verpligtend nie.

“Ek moet egter beklemtoon dat vyf jaar geen waarborg is van indiensneming tot die kontrak verstryk nie. Prestasie sal bestuur word en tugprosesse sal ingevolge die staatsdienswet en regulasies van krag bly.”

Die huidige PS’e wat op ’n kontrak met ’n onbepaalde termyn werk, sal binne 12 maande nadat die wet van krag word, moet besluit of hulle op dié ooreenkoms wil aanbly of ’n vastetermynkontrak wil sluit.

Kuugongelwa sê nie in haar motivering van die wetsontwerp wat die gevolge sal wees indien ’n PS verkies om nie na die nuwe wet se pype te dans nie.

’n Plaaslike prokureur, mnr. Norman Tjombe, sê dit is eenvoudig: Die arbeidswet maak voorsiening vir bemiddeling.

As die partye nie tot ’n vergelyk kom nie, kan die werknemer staak of die werkgewer kan die werknemers uitsluit.

Hy sê die nuwe wending is ’n welkome skuif.

“Dit maak voorsiening daarvoor dat die partye tot ’n kontrak verbind is. Hulle (die PS’e) sal wil presteer, want hul heraanstelling sal daarvan afhang.”

Aan die ander kant gee dit ook die regering en die PS die buigsaamheid om vir ’n bepaalde tydperk ’n diens te lewer en dan aan te beweeg, sê hy.

Mnr. Mbeuta Ua-Ndjarakana, die PS van inligting en kommunikasietegnologie, sê hy verwelkom ook die voorgenome wet.

“Om te dien, gaan nie oor titels nie. Solank jy jou werk doen, sal die publiek jou respekteer. Ek verwelkom dit en Namibiërs moenie tyd en energie mors om daaroor te baklei nie.”

Van dié titels is in elk van die vorige koloniale bedeling geërf, sê hy.

Dit kan ook wees dat ministers gegrief was deur die titel PS en op ’n naamverandering aangedring het “nadat PS’e vir hulle gesê het húlle is permanent terwyl ministers kom en gaan”, vermoed Ua-Ndajarakana.

Hy sou persoonlik graag ’n eg Namibiese posbenaming wou sien, sê hy.

Kuugongelwa-Amadhila sê die nuwe naam gaan wegdoen met die opvatting van “permanent”.

Oor die beplande dienstermyn van vyf jaar, sê Ua-Ndjarakana: “As mense het ons ’n kontrak met God. So, wanneer ons ’n werk het, moet ons ook ’n kontrak hê.”

’n Vastetermynkontrak sal PS’e verantwoordbaar hou, sê hy. “As jy nie daaraan voldoen nie, moet jy nie die geleentheid kry om aan te bly ten koste van die mense nie.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!