Psemas: 'Aansienlike risiko' vir dokters
Psemas: 'Aansienlike risiko' vir dokters

Psemas: 'Aansienlike risiko' vir dokters

Die beplande nuwe kontrak tussen die staat se mediese fonds en diensverskaffers is volgens 'n forum vir private praktisyns “'n eensydige voorskrif van regeringskant”.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



'n Forum vir private praktisyns sê volgens wet is kontrakte tussen mediese diensverskaffers en die ministerie van finansies en die staat se mediese fonds, Psemas, reeds op 1 Junie gekanselleer.

Daarmee saam kan die ministerie nie 'n skrywe “eensydig” uitstuur dat die kennisgewingtydperk wat op 31 Mei ten einde sou loop, nou weer met 'n maand verleng is nie.

Die Namibiese Private Praktisynsforum (NPPF) het gereageer op 'n besluit van die ministerie dat kon­trakte tussen Psemas en diensver­skaffers nou in stede van 1 Junie eers 'n maand later in werking tree.

Die nuwe gewysigde kontrak wat die oue vervang, is egter nog in die konsepfase met verwagtinge dat dit moontlik eers in Augustus die lig sal sien.

Die NPPF sê “al bring die regering Maandag 'n kontrak uit”, sal dit mediese diensverskaffers bitter min tyd gun om die terme en impak daarvan te oorweeg en hul regspraktisyns hieroor te konsulteer.

“Daar is verseker geen ruimte vir onderhandelinge soos wat in 'n normale bedingingsomgewing van toepassing sal wees nie.”

Volgens die NPPF sal dit eenvoudig 'n eensydige voorskrif van die kant van die regering wees wat diensver­skaffers “sal moet aanvaar of laat vaar”.

Die NPPF sê die moontlikheid dat Psemas-lede nou kontant vir mediese dienste sal moet opdok en self van Psemas moet eis, is 'n werklikheid.

Die permanente sekretaris van finansies, me. Erica Shafudah, het vroeër gesê geen gesondheidslui wat by Psemas ingekontrakteer is, sal van Psemas-lede vereis om vooraf te betaal nie.

Volgens die NPPF het mediese diensverskaffers egter “as deel van 'n vertrouensooreenkoms” steeds Psemas-lede se eise ingedien sonder om kontant te eis en voortgegaan asof die ou kontrak geld.

Dit is egter 'n situasie wat gaan verander omdat verskaffers reeds weens die agterstallige uitbetaling van Psemas-eise finansieel swaar trek.

“Sowat 99% van dokters is eerlik en eties en werk teen aansienlik verlaagde tariewe om die regering se werknemers van mediese dienste te voorsien.

“Dit in 'n omgewing wat aansienlike risiko inhou van laat- of selfs geen betaling.”

Volgens die NPPF dra hul lede steeds Psemas-skuld wat ouer as 90 dae is.

“Min besighede kan onder sulke omstandighede volhoubaar bly.”

Die organisasie is ook bewus van twee plattelandse praktyke wat op die punt staan om as gevolg van uitstaande Psemas-skuld hul deure te sluit.

“Talle dokters het reeds bevestig dat dié stap van Psemas (die beëindiging van die bestaande kontrak) gebruik gaan word om hul verhoudings met Psemas te beëindig omdat hulle nie verder met hierdie risiko kan praktiseer nie.”

Die NPPF sê as dokters op 1 Julie nie 'n nuwe kontrak het nie, beskik hulle slegs oor 'n “regsabsurde verlenging van kontrakopsegging wat in geen hof water sal dra nie”.

“Wat moet dokters nou op 1 Julie met Psemas-pasiënte doen? Tans en selfs onder die dekking van die ou kontrak word hulle nie behoorlik betaal nie, watter verwagting kan daar ná 1 Julie wees?”

Die ministerie van finansies het einde Maart vanjaar 'n kennisgewing aan mediese diensverskaffers uitgereik dat die ooreenkoms tussen Psemas en die diensverskaffers einde Mei ten einde loop.

“In terme van artikel 12.4 van die ooreenkoms stel die ministerie (Psemas) alle diensverskaffers in kennis dat die ooreenkoms beëindig gaan word en gee 60 dae kennisgewing soos van 1 April 2017 tot Mei 2017.”

Die gewysigde ooreenkoms sou slegs vanaf 1 Junie geldig wees, met geen nuwe ooreenkomste wat toegeken sal word tot dan nie.

Die nuwe ooreenkoms sou ook 1 Mei vir ondertekening beskikbaar wees.

Alle hernuwing van kontrakte wat vanaf 1 April moes geskied, is volgens die kennisgewing tot 31 Mei uitgestel en “alle eise sal onder die huidige reëls van Psemas uitbetaal word”.

Shafudah het toe die versekering gegee dat die fonds op 1 Julie steeds voortgaan soos gewoonlik.

Die ministerie het ook in 'n verklaring gesê “geen gesondheidslui wat by Psemas ingekontrakteer is, sal van Psemas-lede vereis om vooraf te betaal nie”.

Mnr. Godwin Tjavara, finansiële raadgewer in die ministerie van finansies en adjunkhoof van die Psemas-afdeling het verlede week erken die nuwe, gewysigde kontrak is nog by wetskrywers.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!