Ramp-oes op hande
Die landboubedryf steier onder die droogte en oesskattings wek groot kommer.
Elvira Hattingh
Vanjaar se nasionale graanoes sal na verwagting 53% kleiner as verlede jaar s'n wees. Terselfdertyd sal dit ook 42% laer as die afgelope 20 jaar se gemiddeld wees.
Boonop het sowat 30 876 beeste, 46 836 kleinvee asook meer as 500 donkies en bykans 300 perde landswyd sedert Oktober verlede jaar gevrek.
Dit is meer as 78 000 stuks vee.
Die ministerie van landbou, water en bosbou het gister 'n verslag oor gewasvooruitsigte, voedselsekuriteit en die droogtesituasie aan die media uitgereik waarin aangedui word al die grootste gewasproduserende streke in die land, kommunaal asook kommersieel, verwag “reuse-afnames” in oessyfers.
In die Zambezi-, Kavango-Oos- en Kavango–Wesstreek sal na verwagting tot 79% minder mielies as verlede jaar geoes word – dit is ook 78% laer as die gemiddelde produksie.
Afgesien van die droogte word die verlaagde oes ook aan 'n uitbreking van die herfskommandowurm in dié streke toegeskryf.
In kommersiële gebiede (droë land) word 'n 15% kleiner mielieoes as verlede jaar verwag, maar dié syfer is steeds 5% bó hul gemiddelde oessyfer.
Kommersiële gebiede sal na verwagting vanjaar 44 300 ton mielies oes, met 'n verwagte 1 400 ton wat in kommunale gebiede geoes sal word.
Nasionale mahangu-oeste sal ook 78% minder as verlede jaar s'n wees en 68% minder as die gemiddeld, terwyl sorghum-produksie die ergste geraak word. Sowat 75% minder as verlede jaar sal geoes word – dit is ook 86% minder as die gemiddeld.
“Dié verlagings word hoofsaaklik toegeskryf aan algemene swak reënneerslae tydens die 2018-'19-reënseisoen,” lui die verslag, wat deur twee van die ministerie se agri-besigheidsontleders, mnr. Matheus Ndjohi en me. Johanna Shapwa, onderteken is.
REËNSEISOEN UITERS SWAK
Volgens die verslag was die 2018-'19-reënseisoen “uiters swak”. Dit verwys dan na die laat aanvang van die reënseisoen, asook sporadiese en wisselvallige reënpatrone.
“Gereelde en lang droogtetydperke tussen reënbuie en die uiters hoë temperature wat daarmee gepaard gegaan het, het die verdamping van enige neerslae vererger,” lui die verslag.
Huishoudelike voedselsekuriteit is tans in die meeste streke van die land nog bevredigend, nadat goeie vordering met voedselproduksie tydens die afgelope twee reënseisoene gemaak is.
Die ministerie verwag die situasie sal ná Mei weens die rampspoedige 2018-'19-oesseisoen begin verswak.
Die ministerie erken ook sekere gebiede geniet reeds nie meer voedselsekuriteit nie, weens vloede en uitgerekte droogtetydperke tydens die 2017-'18-reënseisoen.
Dit sluit dele in die Kunene-, Khomas-, Omaheke-, Erongo-, ||Kharas-, Hardap- en Otjozondjupastreek in.
VEE EN WEIDING
“Weidingstoestande verswak voortdurend in die meeste dele van die land, midde baie swak en ondergemiddelde reënneerslae wat landswyd ervaar word,” lui die verslag, wat ook aandui die suidelike en noordwestelike dele van die land is die ergste hierdeur geraak.
Die verslag dui aan die meeste beesvrektes (6 055) sedert Oktober 2018 tot nou het waarskynlik in die noorde van die Kunenestreek voorgekom, gevolg deur die Erongostreek (5 845) en die Otjozondjupastreek (4 736). Die meeste skaap- en bokvrektes is in die ||Kharasstreek getel, onderskeidelik 14 022 en 13 575.
Toegang tot genoeg water vir beide mens en dier bly 'n probleem in sommige dele van die land weens die swak seisoen, lui die verslag.
Die ministerie se inligtingsdiens vir landbousake is verantwoordelik vir die nasionale vroeë waarskuwing- en voedselinligtingstelsel (Newfis).
Hiervolgens word 'n opname van die gewasproduksie en voedselsekuriteit in Namibië se noordelike kommunale gebiede jaarliks in Februarie doen, wat ook die grootste gewasverbouende streke is.
Die verslag stel onder meer voor droogtehulpmaatreëls moet sonder versuim toegepas word.
Intussen het die Namibië Landbou-unie, tesame met die Namibië Opkomende Kommersiële Boere-unie (Necfu) 'n dringende beroep op die minister van landbou, water en bosbou gedoen om die 2019-droogte tot 'n nasionale ramp te verklaar.
Sodoende kan vir internasionale steun gevra word.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie