Rampjaar vir voedselstelsels

Voedselstelsels is erg onder druk en in lande waar peste en natuurrampe met die Covid-19-pandemie saamval, kan hongersnood seëvier.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – Dit is geen geheim nie dat die Covid-19-pandemie ‘n verlammende impak op die wêreldekonomie het en die lewensmiddele en voedselsekuriteit van miljoene mense bedreig.

Die Wêreldbank het in Junie in sy ekonomiese vooruitskouing gesê die wêreldekonomie gaan met 5,2% inkrimp en die ergste wêreldwye resessies in dekades tot gevolg hê.

Na verwagting sal die uitwerking daarvan op voedselproduksie, -verbruik, - handel verwoestend wees.

Die Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) se hoofekonoom, mnr. Maximo Torero, sê dié organisasie stem saam met regerings dat mense se gesondheid eerste kom en stappe gedoen moet word om dit te beskerm.

“Ons glo egter die beskerming van voedselstelsels moet die wêreld se tweede prioriteit wees,” sê hy. “Ons sien reeds hoe die pandemie beide die voorsiening en die vraag na voedsel beïnvloed. Ons het beperkte tyd om die skade wat dit op mense se lewens en die beskikbaarheid van lewensmiddele gaan hê, te verminder,” het Torero gewaarsku.

Aan die voorsieningskant het maatreëls soos groter sosiale afstand tussen mense tot ontwrigtings in die produksie, verwerking en bemarking van voedsel gelei.

Dit het reeds tot wisselvalligheid in voedselpryse en selfs die onbeskikbaarheid van sekere produkte aanleiding gegee.

Siekte-uitbrekings soos die Ebola-krisis in 2014 in Wes-Afrika het getoon hoe die direkte en indirekte uitwerking daarvan op landbouproduksie, voedselsekuriteit kan bedreig.

Buiten die sluiting van vervoerroetes, het verminderde toegang tot markte en ‘n tekort aan arbeid tot groot afnames in voedselproduksie gelei.

Die FAO wys daarop dat 40% minder landbougrond weens die uitbreking van Ebola bewerk is, terwyl markontwrigting tot reuseprysstygings gelei het. Rys en kasava se pryse het onderskeidelik met meer as 30% en 150% gestyg.

Die Internasionale Arbeidsorganisasie (ILO) het gewaarsku die hudige ontwrigting in voedselstelsels kan meebring dat 451 miljoene mense hul werk verloor. Dit beteken 30% van werksgeleenthede in die internasionale voedselvoorsieningstelsel kan in die slag bly.

Dié organisasie se projeksies toon verder dat nagenoeg 1 miljard mense se lewensmiddele bedreig word. Werksverliese en ‘n afname in inkomste sal verder tot ’n daling in die vraag na sekere voedselprodukte lei.

Die FAO sê die verwoestende invloed van die pandemie kan die getal wangevoede mense in lande wat die grootste hoeveelheid van hul voedsel moet invoer, met tot soveel as 80,3 miljoen vermeerder.

WEER EN ANDER RAMPE

Wat 2020 so ’n uitdagende jaar maak, is dat die grootste gesondheidsramp in meer as ’n eeu saamval met snelveranderende klimaatspatrone, en die verwagting is dat 2020 die warmste jaar op rekord gaan wees.

Die FAO het op 13 Julie gewaarsku die groot waarskynlikheid van weeruiterstes in baie lande kan teen die agtergrond van die verswakte wêreldekonomie voedselsekuriteit verder bedreig.

Die eerste maande van 2020 was van die warmste op rekord en buitengewoon hoë temperature word saam met weeruiterstes soos orkane vir die res van die jaar voorspel, waarsku die FAO.

Lande in Sentraal Amerika en die Karibiese See kan tussen 15 en 24 tropiese storms verwag, en in Australië, dele van Indonesië, asook in Oos-Afrika en die Horing van Afrika word bo-normale reën voorspel.

In dié Afrikalande waar die woestynsprinkaan verwoesting saai, kan die swaar reën meebring dat hierdie plaag verder op die vasteland versprei.

Oor groot dele van Suid-Amerika word droogtetoestande in die reënmaande van Junie tot Oktober voorspel, wat voedselsekuriteit sal verminder.

“Teen hierdie agtergrond is die vraag nie of ‘n grootskaalse natuurramp saam met die Covid-19-pandemie gaan plaasvind nie, maar wanneer en waar dit dit gaan gebeur en hoe dit die beskikbaarheid van voedsel in die lig van die ekonomiese werklikhede gaan beïnvloed,” sê die FAO in dié 13 Julie-verslag.

Dit is teen hierdie agtergrond dat beleidsoptrede deur regering uiters noodsaaklik is. Enersyds om voorsiening te maak vir die impak van die Covid-19-pandemie op voedselstelsels en mense se onvermoë om koste te kan koop, asook vir die verdere bedreiging wat natuurrampe op landbouproduksie en die beskikbaarheid van kos gaan hê, sê die FAO.

NADER AAN DIE HUIS

Die minister van landbou, water en grondhervorming, mnr. Calle Schlettwein, het op 23 Julie tydens ‘n slypskool vir die bespreking van kaarte wat Namibië in agro-ekologiese sones verdeel en die produksievermoë van die onderskeie sone uitbeeld, ook na dié dilemma verwys.

“Hondersnood, siekte en oorlog is sedert die vroegste tye die uitdagings waarmee die mensdom te kampe het en die huidige onsekerheid in die wêreld wys dié bedreigings is steeds met ons,” het hy gesê.

“Dit is daarom uiters belangrik dat ons ons vermoë verbeter om die meeste te maak van ons skaars hulpbronne, en moderne en gepaste hulpmiddels ontwikkel wat ons in staat stel om dit volhoubaar te benut,” het Schlettwein gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!