Rand verswak met 13 sent
Rand verswak met 13 sent

Rand verswak met 13 sent

Beter balans op lopende rekening verwag
Ronelle Rademeyer
Nellie Brand-Jonker - Die rand het gisteroggend in ’n stadium met amper 13c tot R14,55 verswak.
Dit volg nadat die rand eers senuagtig tussen R14,46 en R14,38 rondgeswaai het.
Teen 10:25 het die rand egter omgeswaai en tot R14,55 verswak, wat 13c swakker as sy sluitingsprys van Vrydag was.
John Cairns, ’n valutastrateeg van RMB, het gesê die rand kan sterk in een van die twee rigtings getrek word.
“Verwag dat die rand senuagtig gaan bly,” het hy gesê. “Internasionaal was markte onder aansienlike stres.”
Hy het gesê bates wat as riskant deur internasionale beleggers beskou word, het Vrydag hul slegste dag sedert Brexit gehad. Dit sluit in die markte van ontluikende lande en hul geldeenhede.
Die aandeelmarkte en wisselkoerse het in Junie toe die Britte gestem het om die Europese Unie te verlaat, skerp geval en verswak.
Vrese het ook weer verhoog dat die Amerikaanse rentekoerse in September reeds verhoog gaan word, omdat amptenare van die Federale Reserwe­raad die waarskuwing aan beleggers gerig het.
Dit is vandag die laaste dag vir lede van die Fed wat mag stem oor rentekoersverhogings om in die openbaar iets daaroor te sê.
Die Fed vergader volgende week Dinsdag en Woensdag. Die mark gaan ander lede van die Fed se kommentaar dophou.
Die waarskynlikheid dat daar nou ’n rentekoersverhoging in ­September kom, het wesenlik toegeneem.
Hoewel dit steeds laag is, het die waarskynlikheid van ’n ­rentekoers­–verhoging in Desember van die Fed tot amper 60% verhoog, wat genoeg is om ­voortgesette ­wisselvalligheid in die mark te veroorsaak.
Cairns verwag daar kom darem vandag goeie nuus oor Suid-Afrika se balans op sy lopende rekening.
Handelsinligting en voorlopige syfers wat deur die Reserwebank ­uitgereik is, het duidelik getoon dat die tekort in die tweede kwartaal skerp verlaag het.
Hy verwag dat die tekort so gaan krimp dat dit die land voorlopig uit die gevaargebied en internasionale spekuleerders se visier gaan neem.
Of dit ’n permanente verandering gaan wees, glo hy nie.
Gordon Kerr, ’n ontleder van RMB, het gesê Vrydag is die eerste keer van Suid-Afrika se skuldbriewe afverkoop na ses dae wat dit amper ­deurlopende belangstelling gekry het.
Hy het gesê nieteenstaande het ­vertroue na die skuldmark ­teruggekeer. Inflasiegekoppelde staatseffekte het vir die eerste keer in drie veilings goed verkoop.
“Die vraag is of die hernude vertroue gaan voortduur, want die ondersoek na die minister van finansies gaan nie weggaan nie.”
CreditSuisse het in ’n markverslag gister gesê aandeelmarkte het geval en opbrengskoerse­ op effekte het Vrydag gestyg nadat lede van die Fed ­gesinspeel het op ’n ­rentekoersverhoging wat ­vandeesmaand in Amerika kan kom.
Die wisselvalligheid soos gemeet deur die VIX het met amper 40% van 12,5 tot 17,5 punte skerp gespring.
Die Amerikaanse aandeelmark het skerp laer gesluit, met die S&P ­500-indeks wat 2,5% laer gesluit het.
In Europa het die Stoxx-indeks van 50 grootste aandele 1% laer gesluit.
Volgens CreditSuisse plaas die mark die waarskynlikheid dat die ­rentekoers kan verhoog in ­September nou op 30%. Die Amerikaanse dollar het ook teen die meeste geldeen­hede versterk ná die kommentaar van sekere lede van die Fed.-Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!