Rassie staan op nu00e1 Covid-19 hom plettervat
Rassie staan op nu00e1 Covid-19 hom plettervat

Rassie staan op ná Covid-19 hom plettervat

Rugby
Stephen Nell – Rassie Erasmus, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se direkteur van rugby en afrigter van die seëvierende Springbok-span in 2019 se Wêreldbeker-toernooi, het gister onthul dat hy ook Covid-19 gehad het.

Volgens Erasmus was sy hele gesin siek en het hy en sy vrou in 'n stadium begin swaar trek.

“Ek was nogal senuweeagtig toe ek hoor dat ek positief is. Ek het 'n onderliggende siekte, so ek was nogal senuweeagtig daaroor. Ons hele huisgesin het dit gehad, maar die kinders het nie baie simptome getoon nie. Net hul smaak was geaffekteer,” het hy op 'n aanlyn nuuskonferensie gesê

“Maar ek en my vrou (Nikki) het dit redelik gehad. Dit smokkel nogal met jou kop. So van die negende dag af en die daaropvolgende vyf dae het dit sleg gegaan. Hier teen dag 14, 15, 16 begin 'n ou stadig 'n bietjie beter voel.”

Gister was die 23ste dag sedert sy diagnose en hy kry steeds hoofpyne, maar voel andersins baie beter.

“Met my dik lyf het ek ook nou 'n baie lae hartklop. Die gemiddeld is tussen 48 en 50 kloppe (per minuut) wat hulle sê een van die newe-effekte is. Dit behoort nie die geval te wees in ag genome hoe vet ek tans is nie!”

Hy is veral kwesbaar vir die gevare van Covid-19 omdat hy aan mikroskopiese poliangiitis met granulomatose ly. Dit is 'n outo-immuunsiekte wat gewoonlik die sinusse, longe en niere aantas, en dikwels ook die lugpype.

Erasmus moes tydens 2019 se Wêreldbeker-toernooi chemoterapie hiervoor ontvang.

Hy het dit egter in perspektief geplaas teenoor diegene wat veel erger daardeur geraak word.

“John Dobson (die Stormers en Westelike Provinsie se afrigter) het sy pa (Paul) verloor. Kaunda Ntunja ('n oudspeler en geliefde Xhosa-kommentator) is oorlede. Daar is soveel mense naby aan jou wat baie sieker is,” het hy gesê.

“'n Goeie vriend, Rich Verster, wat haker gespeel het toe ek by die Cheetahs afgerig het, is tans baie siek.

“Myne was niks as jy dit met die ander ouens vergelyk nie. Ek en my vrou het vyf of ses dae regtig sleg gevoel en van toe af het dit net stadig beter gegaan. Dit gaan goed met ons.”

Erasmus sê Covid-19 het agter die skerms 'n yslike effek op spanne gehad, maar meen die integriteit van die Curriebeker-reeks het behoue gebly, gegewe dat slegs vyf wedstryde sedert die afskop van die Superrugby Unlocked-reeks afgelas moes word. Ligapunte is van die Superreeks na die CB-reeks oorgedra.

“Die Haaie het by geleentheid gespeel toe daar 15 positiewe gevalle by hulle was.

“Afrigters was siek en by tye drie of vier weke uit die prentjie. Van die WP se afrigters het Covid-19 gehad. Jake (White, die Bulle se afrigter) het dit gehad. Sean Everitt (die Haaie se afrigter) kon nie eens saam met sy span Bloemfontein toe reis nie.”

• Die Curriebeker-reeks se halfeindronde is weens Covid-19-gevalle by die Haaie tot Saterdag uitgestel. Dit sou aanvanklik die afgelope naweek beslis word.– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!