Reddingstou, maar SA sal móét groei
Vida Booysen - Suid-Afrika het ’n reddingstou van die kredietgradeerder Moody’s gekry. Maar die land kan nie toelaat dat die pas van ekonomiese groei verlangsaam of fiskale beheer verslap nie.
Dít is die mening van ontleders nadat die graderingsagentskap die waarskynlikheid van ’n afgradering van Suid-Afrika se kredietstatus op sowat ’n derde geplaas het.
Zuzana Brixiova, Moody’s-ontleder, het aan verslaggewers in Johannesburg gesê fundamenteel verwag Moody’s dat die waarskynlikheid van ’n afgradering minder as 50% is. Sy sê dit is sowat ’n derde.
Maar ’n afgradering met een vlak is waarskynlik as ekonomiese groei minder sou wees as die verwagte 0,2% vanjaar, waarsku Kristin Lindow, nog ’n ontleder van Moody’s.
Dít is ’n taamlik lae standaard, sê Thabi Leoka, ekonomiese strateeg van Argon Asset Management. “Die boodskap van Moody’s is duidelik: Julle kry nou ’n kans om jul ekonomiese uitdagings te pak.”
Moody’s se huidige gradering vir Suid-Afrika is Baa2 met ’n negatiewe uitkyk. Hy het voorheen al gewaarsku dat politieke binnegevegte, swak ekonomiese groei en ’n groter wordende skuldlas bydra tot die afgraderingsrisiko.
Die graderingsagentskap sal nie net op groei konsentreer nie, hy sal politieke stabiliteit ook dophou, sê Abri du Plessis, uitvoerende hoof van Gryphon Batebestuur.
“Die regering sal ook moet wys dat hy fiskale beheer behou en Moody’s en die ander groot graderingsagentskappe sal die mediumtermynbegroting volgende maand noukeurig dophou om te sien watter politieke rigting ingeslaan word.”
Moody’s se volgende hersiening van Suid-Afrika se graderingsvlak word op 25 November verwag.
Moody’s is vandeesweek in Suid-Afrika vir sy jaarlikse konferensie en volgens die tesourie sal adj.pres. Cyril Ramaphosa en Pravin Gordhan, minister van finansies, met die kredietgradeerder vergader.
In Oktober sal ’n Suid-Afrikaanse afvaardiging onder leiding van Gordhan en Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, ook beleggers in die VSA gaan gerusstel dat Suid-Afrika steeds ’n goeie bestemming vir hul beleggings is.
- Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie