• Tuisblad
  • Sport
  • Redelinghuys en Smith neem voortou ná eerste been

Redelinghuys en Smith neem voortou ná eerste been

Sestien spanne het Saterdagoggend vir die geskiedkundige 2019 Gobabis-tydren aangemeld.
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Die eerste been van die 2019 nasionale tydrenkampioenskap op Gobabis is Saterdag onderskeidelik deur Jaco Redelinghuys en Bertie Smith (Gobabis-motorklub, GMK) in die motor- en Off Road-afdeling (OR) gewen.

Redelinghuys en navigator Dries Booysen se S3-klas 4x4 Gobabis Toyota Yaris S2000 het met ‘n totale tyd van 1 uur 16 minute 42 sekondes in sy afdeling skoonskip gemaak en ook algeheel eerste in die motorafdeling geëindig.

Bertie Smith en navigator Dewald Venter se 4x2 BSCS V8 Magnum-bakkie (Bertie Smith Contractor Services) het volgens berigte behoorlik op al sy silinders gevuur. Smit het algeheel eerste in die Off Road-afdeling (OR) geëindig om ook die Klas C met ‘n tyd van 1:31:27 in te palm.

Hoewel goeie reën die afgelope tyd gesorg het vir minder stof in die supersneldele (SS), is die spanne soos verwag aan die genade van die harde padoppervlak oorgelaat wat plek-plek met ‘n modderige uitdaging vir die jaers gewag het. Maar die bul van dié beeskontrei was, soos in die verlede, alomteenwoordig om die karre goed te gaffel.

Van die 16 inskrywings kon net 10 die 10 supersneldele voltooi, wat goed deur die entoesiastiese plaaslike gemeenskap ondersteun is.

Johan Bergh en Herman Robberts (S1) se Toyota Corolla was die byeenkoms se eerste slagoffer, gevolg deur Etienne van den Heever en Willy van Wyk se Toyota Run-X (S2), wat die boonste enjinpakstuk deurgeblaas het.

Wilro Dippenaar en Riaan van der Westhuizen kon vier sneldele voltooi, maar ná SS4 het sy PZN Panelbeaters 4x4 Toyota Auris S2000 (S4) ‘n nukkerige ratkas ontwikkel, wat dié span in die kuipe laat staan het.

Pieter Greef en Nola Louwrens het goed met Mufasa (Toyota Corolla) in die S1-klas gevaar en was goed geplaas om die eerste plek in te neem.

Maar in SS10 slaan die noodlot op die paartjie toe. Hulle sit vir 58 minute vas en word weens ‘n tydboete gediskwalifiseer. Deelnemers het slegs 30 minute om ‘n sneldeel te voltooi.

In die OR-afdeling was Niekie Swarts en Piet Retief se Klas E VW Spaceframe Sandmaster ná SS3 die enigste onttrekking.

Die enigste ongeluk in die kompetisie was toe Richard Slamet en Cecil Koorts se 4x4 I-S Freight Services 2 liter Turbo Sti Subaru (S4) in SS8 ná ‘n reusesprong ‘n boom getref het. Die gevolg was dat die Subaru onbeheerbaar buite beheer getol het om ‘n kameelboom te tref, waarná die duo moes onttrek.

“Die tydren is baie goed aangebied en die mense van Gobabis was weer soos in die verlede daar om die spanne te ondersteun. Die bestuur van die Gobabis-motorklub het baie moeite gedoen en hulle gaan beslis net voortbou op hierdie eerste probeerslag wat uiters suksesvol was.

“My doelwit was om klaar te maak, want ek moet nog baie van die Subaru leer wat ek nog min mee gejaag het. Volgens die toeskouers kon hulle met die springslag met die Subaru in die lug sien die regterkanste voorste band is pap en basies heeltemal van die velling af. Toe ons grond vat, het die Subaru begin tol en ek was maar bloot net ‘n passasier om te sien hoe ons ‘n boom gaan tref. Gelukkig was dit nie die toeskouers nie.

“Daar is redelik skade, maar ek glo ons kan dit herstel. As dit die Here se wil is, sal ons met die volgende tydren gereed wees om hopelik die eerste plek in te neem,” het die voorsitter van die Windhoek-motorklub (WMK) aan Republikein gesê.

Allan Martin en sy seun Zachary (Walvisbaai-motorklub, WBMK) het geskiedenis gemaak deur onderskeidelik algeheel tweede en derde in die motorafdeling te eindig. Martin vertel die byeenkoms is in ‘n atmosfeer van kameradie gehou, maar sy grootste prestasie tot dusver in sy tydrenloopbaan is om ‘n plek op die podium met sy seun te deel.

Uitslae

Motors (algeheel): 1 Jaco Redelinghuys/Dries Booysen 1:16:42 (eerste S3-klas, GMK), 2 Allan Martin/Melvin Gous 1:20:44, 4x4 J & P Hydraulics VW Polo (eerste S4-klas, WBMK), 3 Zachary Martin/Michael Strydom 1:43:34, J & P Hydrailics MK1 VW Golf (eerste S1-klas, WBMK), 4 Welmie Kühn/René van Wyk 1:44:23, Toyota RunX (tweede S1-klas, GMK), 5 Johan Ooshuizen/Joe Oosthuizen 2:17:24, Ford Sapphire (eerste S2-klas, GMK).

OR (algeheel): 1 Bertie Smith/Dewald Venter 1:31:27 (ook eerste Klas D, GMK), 2 Stefan Labuschagne /Lappies Labuchagne 1:35:03, 4x4 Gobabis Auto Truck & Tractor V8 Land Rover (eerste Klas A, GMK), 3 Jacques Kruger/Roché Louw 1:46:01, Toyota Hilux (eerste Klas D), 4 Marius van Zyl/Jacky van Zyl 1:49:54, Isuzu (tweede Klas D), 5 Jandré Dippenaar/Giellie Visser 2:00:13, 4x4 PZN Panelbeaters V8 Ford Ranger (tweede Klas D, Redline-motorklub).

Die OR-afdeling wat ‘n aparte kampioenskap is, bestaan uit ‘n A-, B-, C- en ‘n D-afdeling vir 4x4- asook tweewieltrekvoertuie. Die kampioenskap vir sedanmotors bestaan uit die S1-, S2, S3- en S4-klasse. Die S1- en S2-klasse is vir 4x2-karre terwyl die S3- en S4-afdeling vir 4x4-manne gereserveer is.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!