Reën vir Noorde voorspel

‘n Weerstelsel voed tans die lug in die noorde van Namibië met vog uit die Mosambiek-kanaal.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Die Namibiese weerkantoor sê ‘n kans op reën bestaan vandeesweek in die Noorde asook op plekke in die Suide.

Die weerkantoor se hoofweervoorspeller, mnr. Richard Nashikaku, het gister aan Republikein gesê hulle verwag dat tropiese vog nog vandag oor die sentrale noordelike asook die noordoostelike dele van die land sirkuleer. Enkele geïsoleerde donderdbuie word dus vir die gebied voorspel.

“Die tropiese vog sal na verwagting in sirkulasie oor dié Noorde-gebiede bly. Op Donderdag sal ‘n afsny-laedrukstelsel na verwagting oor die Atlantiese oseaan vorm, wat reën in die vorm van enkele reënbuie op plekke vir die suide van die land kan bring.

“Koue, arktiese lug sal die suide op Woensdag binnedring en die minimum en maksimum temperature beinvloed.

“Dus kan diegene wat in die Suide woon, koel tot warm temperature vanaf die middel van die week verwag,” het hy gesê.

Vir die binneland word daar ‘n vars tot sterk suidelike tot suidwestelike wind vir vandag voorspel, het Nashikaku gesê.

Weather Today - Southern Africa se weervoorspeller Mike Berridge het op Facebook verduidelik dat ‘n swak hoëdrukstelsel in die Mosambiek-kanaal asook twee laedrukstelsels, waarvan een tans oor Angola geleë is en die ander suidoos van die Afrika-vasteland, vir die vog oor Namibië asook Botswana verantwoordelik is.

“Die drie stelsels sorg vir ‘n goeie invloei van redelike vogtige lug van die Mosambiek-kanaal, wat op die beurt deur tropiese lug wes daarvan gevoed word.

“Die laedrukstelsel in die Noorde is besig om uit te brei, wat reën in die noorde van Namibië bring, asook vir stroke van reën in Botswana sorg,” het Berridge gesê.

Hy het bygevoeg dat die verwagte kouefront vandag reeds by die suidpunt van die vasteland sal aankom.

NOORDE IS NAT

Intussen het Namibiërs op die Facebook-groep Reën in Namibië laat weet dat die Noorde sopnat is.

Op Tsumeb is Sondag tussen 40 en 60 mm gemeet, nadat dit Saterdag 9 mm op die dorp gereën het.

Suid van Otjiwarongo het dit 9 mm gereën.

Jaun-louis Zaayman het laat weet hy het 115 mm reën gister op Groot Aub gemeet, terwyl Windhoekers in en rondom die stad tussen 5 mm en 19 mm gemeet het.

Op Omeya is tussen 10 en 25 mm gemeet en by Gocheganas 8 mm.

Lisa-Marie van der Merwe het Sondag gesê dit reën en hael op Gobabis, terwyk Eric Scheepers gesê het Ondangwa het 1,5 mm reën gehad.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!