Resepteboeke se geurige onthou
Resepteboeke se geurige onthou

Resepteboeke se geurige onthou

Henriette Lamprecht
Gunstelingprogramme in my huis is enigiets wat met kosmaak te doene het.

Voeg daarby ’n stophorlosie en net sekere bestanddele wat jy nie sommer saam sal gebruik nie om ’n spyskaart uit die boonste rakke op te tower en ek sit vasgenael.

Van my spesiaalste boeke is ook kookboeke met kosreise uit van Frankryk tot Brittanje tot ter plaatse boerekos.

Een van dié boeke is Ouma Vlam se Kook en Geniet waaruit verskeie opgevoude resepte in haar fyn, lopende skrif nog vertel van ’n resep wat sy oor die radio gehoor of by ’n vriendin gekry het.

My Kook en Geniet se buiteblad hang aan ’n stukkie vergeelde gom en van die bladsye is vol riffels en klou aan mekaar vas.

Deels van ’n meel-en-eierhand wat gesoek het waar is die pannekoekresep en deels van ’n opwasbak se water wat oor die rand geloop en hul weg na die blaaie gevind het.

Huisgenoot se Wenresepte is daar baie van en die gunstelingkookboeke is dié wat nie net ’n resep se bestanddele en mates deel nie, maar ook die storie van die gereg vertel.

Kookboeke en die resepte wat in hul blaaie skuil, dateer letterlik duisende jare terug en was geskik vir van koning tot kneg.

Een van die kookboeke wat uit argiewe gediep is, sluit ’n resepteboek in wat saamgestel is deur sjefs van Richard II en wat so ver terug as 1390 dateer.

Forme of Cury is in Middel-Engels geskryf en sluit geregte soos koringpap in met bestanddele soos bulgaarse koring, hoenderaftreksel en saffraan.

Die oudste kookboek in die wêreld wat op ’n kleitablet geskryf is, dateer so ver terug as die tweede millennium voor Christus (1700 vC), en het bestaan uit drie klein kleitablette met ingewikkelde tekens en kookinstruksies vir 35 Akkadiese geregte.

Dit is tydens die eerste Babiloniese koninkryk geskryf, iewers in die vrugbare vallei tussen die Tigris en die Eufrates in die hedendaagse Irak.

Die resepte vertel van ’n era tydens die heerskappy van koning Hammurabi in ’n tyd wat pragtige antieke stede hul verskyning gemaak het. Die gewildste geregte was vleisbredies en dun sop wat op oop vure gemaak is.

Die verkose bestanddeel was voël- en skaapvleis, met Babiloniese sjefs wat maklike toegang tot vleis gehad het, terwyl Mesopotamiese boere met skaap en hoenders geboer het.

Om die vleisgeregte ’n ekstra geur te gee, is aromatiese bestanddele soos dille en kruisement bygevoeg en is die gereg met vars groente en ander garnering opgedis.

Byna elke dis het gespog met uie of preie en natuurlik knoffel wat tydens die eerste fase van die kookproses bygevoeg is. Buiten bredies was daar ook ’n kuur vir ’n babelas en instruksies vir dekadente koeke.

Die immer gewilde vleispastei het ook in die vroegste tye haar verskyning gemaak en is byna 3 000 jaar gelede reeds opgedis.

Namibiërs is bekend vir hul liefde vir bier, waarvan die eerste resepte tot so ver terug as 3400 tot 2900 voor Christus dateer.

Argeoloë het broutoerusting op ’n perseel in China ontdek wat uit die vroeë Chinese geskiedenis dateer. Met die ontleding van die inhoud van kruike wat op die perseel gevind is, is ’n gemoute kombinasie van koring, gars, Chinese pêrelgars en knolle gevind.

Brittanje spog op sy beurt met die oudste poedingresep met brandnetels as die hoofbestanddeel, wat basies netels is wat saam met gort en water gekook is.

Wat ook al die resep of die tyd waarin ’n skaaptjoppie iewers oor kole gebraai is en ’n groentebredie die koue van ’n woeste winter moes verdryf, in elke resepteboek skuil onthou en ’n storie van die een wat die gereg voorberei het.

Of dit ’n Ouma Vlam was wat melksnysels maak, of ’n sjef wat ’n toentertydse koning se maag moes vul, in kookboeke skuil soveel meer as net bestanddele.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!