Reserwebank peuter vir eers nie aan rentekoers
Reserwebank peuter vir eers nie aan rentekoers

Reserwebank peuter vir eers nie aan rentekoers

Jo-Mare Duddy Booysen
Hanlie Stadler - Die Suid-Afrikaanse Reserwebank het gistermiddag in Pretoria sy repokoers vir die vierde keer sedert Maart onveranderd gelaat op 7%. Dit beteken banke se prima koers bly 10,5%.

Die kans is dus goed dat die Bank of Namibia (BoN) volgende maand ook nie aan die plaaslike repokoers sal torring nie.

Druk op verbruikers is gistermiddag genoem as een van die redes vir die Reserwebank se besluit.

Lesetja Kganyago, president van die sentrale bank, sê al ses die lede van die monetêrebeleidskomitee het saamgestem. Hulle is egter baie bekommerd daaroor dat inflasie langer neem om te daal.

Die vorige siening dat die bank die boonste draaipunt van rentekoerse bereik het, is herhaal, maar Kganyago sê dit kan baie maklik hersien word, veral as die rand verswak.

Kganyago het herhaaldelik na wisselvalligheid en onsekerheid verwys wat deur wêreldgebeure veroorsaak word, maar ook gesê die rand is verstommend veerkragtig.

Kganyago sê die vooruitsigte vir inflasie op mediumtermyn het weer minimaal verbeter sedert September. Die bank verwag nou dat inflasie se boonste draaipunt voor die einde van die jaar 6,6% gaan wees (September: 6,7%).

Inflasie sal weer in die tweede kwartaal van 2017 binne die bank se teikenband van 3%-6% daal.

Die bank se verwagting vir gemiddelde inflasie vir 2016, 2017 en 2018 bly egter onveranderd sedert sy September-vooruitskouing op 6,4%, 5,8% en 5,5%.

Die Reserwebank sê egter dit gaan langer duur voordat kospryse stadiger begin styg – dit gaan nie meer in die eerste kwartaal van 2017 gebeur nie.

Veral vleispryse gaan al hoe skerper styg tot minstens vroeg 2018, sê Kganyago.

Die Reserwebank het nie verander aan sy vooruitsig vir ekonomiese groei nie. Groei van 0,4% word vir 2016 verwag, 1,2% vir 2017 en 1,6% vir 2016. Die 0,4% vir vanjaar is effens laer as die tesourie se Oktober-verwagting van 0,5%.

Kganyago het kommer uitgespreek oor die toename in proteksionisme ná die verkiesing van Donald Trump as Amerikaanse president en die Britse besluit om die Europese Unie te verlaat. Hy sê dit skep baie groter onsekerheid in die wêreldekonomie en veral ontluikende markte gaan die spit afbyt.

Hy sê die verswakking van geldeenhede ná Trump se verkiesing, ook van die rand, was dalk “oordrewe”, maar die vooruitsig bly baie onseker.

Die langtermyn-uitwerking en die onsekerheid van hoe en wanneer die VSA hom aan groot handelsooreenkomste gaan onttrek, is slegte nuus vir die rand.

“’n Meer proteksionistiese houding van die VSA kan die reeds trae groei in wêreldhandel verder aan bande lê.”

Die rand het met sowat 5,7% teenoor die dollar verswak en met 1,1% op ’n handelsgeweegde grondslag.

Die Reserwebank verwag ’n rentekoersverhoging in die VSA in Desember, maar sê dis waarskynlik al verreken in die rand se waarde. Van groter belang sal die Federale Reserweraad se boodskap wees oor hoe vinnig rentekoerse in die toekoms sal styg.

Kganyago is ook bekommerd oor kredietgradeerders se besluit oor die land se kredietstatus oor die volgende paar weke. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!