Risa haal podium in 90 km 'Comrades'
Die Windhoekse langasem het die afstand in haar vinnigste tyd nóg afgelê.
Tielman van Lill – Agt brawe Namibiërs het Sondag in Windhoek die virtuele weergawe oor 90 kilometer gepak om in die gekanselleerde 2020 Comrades ultramarathon mee te ding.
Risa Dreyer van Windhoek het vroegoggend die koue hoofstad getrotseer om die Race the Comrades Legends ultramarathon in 7 ure 29 minute 37 sekondes kaf te draf.
Eindtye van 7 ure 30 minute of vinniger word by die Comrades met 'n silwermedalje beloon.
Dreyer het tevore die beroemde ultra-marathon tussen Pietermaritzburg en Durban vier keer suksesvol as die vinnigste Namibiër (man of vrou) voltooi.
Sondag het sy om 04:30 by Lolopark in Olympia saam met André Engelbrecht weggespring en het haar vorige beste tyd oor 90 km (7:48 in 2018) met 19 minute geklop.
Op die virtuele internasionale ranglys eindig sy algeheel derde van die vroue. Net Rohini Ramsunder en Jennifer Sinclair, beide Suid-Afrikaners, kon Dreyer se tyd oorskadu.
Dreyer, Engelbrecht, Nadine Agnew en Willem Schutz het saam in die pad geval, terwyl Maans Dreyer, Risa se pa, tot by die eindpunt haar op sy bergfiets ondersteun het.
Engelbrecht (45 tot 49 jaar) het ook die 90 km suksesvol in 10:37:19 voltooi, terwyl Agnew en Schutz (beide 50-54 jaar) die 45 km-afstand onderskeidelik in 3:57:43 en 3:40:06 voltooi het.
Dreyer sê sy het wel vanjaar 'n paar wedlope afgehandel, maar het nie spesifiek vir dié uitdaging geoefen nie. Sy het eers twee weke gelede besluit om dié wilde perd op te saal.
“Dit was Sondagoggend bitter koud! Hoewel ek nie 'n spesiale oefenprogram gevolg het nie, het ek darem in 2020 baie gedraf en geweet ek sal dit sekerlik kan doen. Dit het ook nie veel gehelp dat ek eers twee weke vooraf besluit het om te hardloop nie.
“'n Hele paar van my drafgroepie het saam met my gehardloop. Almal het 'n stukkie saam met my gedoen, party 45 km en party sommer net 5 km. Dit het beslis 'n groot verskil gemaak en só baie gehelp. My pa het ook heelpad saam my op sy fiets gery; twee jaar gelede het ons nog saam die Comrades voltooi! My broer Nick het ook die laaste paar kilometer saam met my gehardloop.” vertel Dreyer trots.
SEER LYF
Sy sê die feit dat daar in en om die hoofstad minder bulte as in die werklike Comrades-marathon is, kon haar gehelp het om dié persoonlike beste tyd te behaal.
Haar prestasie kan egter nie ligtelik opgeneem word nie, want die hoogte bo seevlak (1 655 m) tel as 'n beduidende faktor teen langafstandatlete.
“Ons sal later sertifikate en medaljes volgens prestasie ontvang. Dit was maar hard, want dis moeilik om op jou eie te hardloop eerder as saam met duisende ander op die pad.
“Op die ou end was dit 'n belewenis en 'n goeie toets! Ek is maar seerlyf soos ek altyd ná 'n Comrades is. Gewoonlik neem dit 'n paar dae om te herstel, maar ek glo ek sal oor 'n paar dae met ekstra slaap weer iets kan doen. Hoop ek!
“Ons het deur die dorp gehardloop en toe uit op die westelike verbypad. Daar het ons 'n paar rondtes gedoen en by die Elisenheim-gastehuis geëindig. Hulle was so vriendelik en het ons groot groep van meer as 20 mense maklik hanteer.
“Ek het 'n paar van die virtuele Ysterman-triathlons ook gedoen, wat heel goed afgeloop het. Indien dinge met die grendeltydperk in Suid-Afrika verbeter en die Ysterman word November in Port Elizabeth aangebied, gaan ek beslis daar wees.
“Ek kyk maar wat die hele Covid 19-ding oplewer en beplan nie te ver vooruit nie,” het Dreyer verduidelik.
Engelbrecht vertel trots: “Op 47 jaar was dit my eerste ultra-marathon! Ofskoon dit pynvol was, was dit 'n fantastiese ondervinding! Ek is bevoorreg en dankbaar dat ek dit kon voltooi.
“Die eerste 60 km is gangbaar, maar daarna word dit meer 'n sielkundige oorlog as jou liggaam wil stop, want dan begin jy moeg word en jou pyngrense word tot die uiterste getoets. As alles goed verloop, gaan ek beslis volgende jaar die regte Comrades hardloop.”
Sewe van die agt Namibiërs wat vir die 90 km ingeskryf het, het die wedloop voltooi. Hulle is: 1 Dreyer, 2 Frans Amakali (9:04:49), 3 Johan Bronkhorst (10:01:00), 4 Engelbrecht, 5 Julian Pretorius (11:28:16), 6 Johanna Sheehama (11:38:24), 7 Kirsty Brits (11:46:20).

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie