Rommel bedreig robbe

Robwelpies is baie nuuskierig en speel graag met alles wat in die see dryf.
Tanja Bause
Tanja Bause - “Mense gooi rommel in die see in. Dit is óns rommel en robbe het nie gevra om in ons rommel verstrengel te raak nie. Dus moet óns hulle help.”

Só sê mnr. Naude Dreyer van Pelican Point ­Kayaking, wat verlede week weer eens moes help om robbe van vislyn, visnet en plastiek te bevry.

“Ek doen dit al die afgelope vyf of so jaar, maar die rommel in die see en robwelpies wat daarin verstrengel raak, raak 'n al groter probleem – veral hier by Pelican Point. Aan die begin het ek een rob per week bevry, nou vang ek en my kollega Schalk Louw so vier of vyf per dag,” sê hy.

Volgens Dreyer is robwelpies baie nuuskierig en speel hulle graag met alles wat in die see dryf, en raak só in die rommel verstrengel.

“Robbe groei verskriklik vinnig en hulle groei in die rommel in. Ons het al 'n rob bevry wat snywonde van 2 cm diep gehad het omdat die dier in vislyn ingegroei het.”

Dreyer sê die grootste sondaars is ou vislyn, stukke visnet en deurskynende plastiek wat vir visverpakking gebruik word.

“Robbe is baie opvlieënd en byt maklik. Ek moes al twee keer steke ontvang omdat een my gebyt het,” sê hy. Dreyer en Louw sal tot Oktober met hul reddingspogings voortgaan en dit daarná tot April volgende jaar staak omdat dit dan welpieseisoen is en hulle die kolonies nie wil versteur nie. Volgens Dreyer kom die meeste rommel van bote af.

“Daar is streng regulasies vir bote, maar hulle gooi alles wat hulle nie meer wil hê of kan gebruik nie eenvoudig in die see in. Die probleem en die gemors word al erger,” sê hy.

Die Namibiese Dolfynprojek (NDP) werk tans aan 'n ­projekvoorlegging vir finansiering om een of twee keer 'n week ­navorsing by Pelican Point te doen.

Me. Monique Loubscher van NDP sê die hoeveelheid rommel wat tans in die see by Pelican Point is, is skrikwekkend.

“Ons vat altyd sakke saam om skoon te maak, maar 'n paar dae later lyk dit weer presies so,” sê sy.

Loubscher beaam die robbe raak onder water in veral vislyn en visnet verstrengel.

Dit veroorsaak dat hulle sukkel om te swem of te vreet wanneer die lyn byvoorbeeld om hul bekke of vinne gedraai is.

“Die getal robbe wat ons bevry, is niks in vergelyking met hoeveel robbe daar buite in rommel ­verstrengel is en meestal ellendig vrek nie.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!