Rommel is almal se taak

Items moet soveel keer as moontlik hergebruik word en herwinbare materiaal moet afsonderlik weggegooi word sodat dit herwin kan word, vra me. Estelle Hein van die soliede afvalbestuur-afdeling.
Tanja Bause
Tanja Bause



Windhoek se munisipaliteit het ­verskeie maatreëls om afval te bestuur en daarvan ontslae te raak.

Alle huishoudelike afval wat nie ­herwinbaar is nie, word in woongebiede se groen ­asblikke gegooi.

Die munisipaliteit maak dié blikke leeg en vervoer die afval na die Kupferberg-stortingsterrein.

Volgens me. Estelle Hein, van die soliede afvalbestuur-afdeling, kan stukkende asblikke by die munisipaliteit aangemeld word.

Indien hul voorraad dit toelaat, sal 'n nuwe asblik afgelewer word.

“Ons vra net dat mense in gedagte hou die asblikke behoort aan die munisipaliteit en is nie private eiendom nie.

“Mense meng sement daarin of staan daarop om hul huise te verf en dan breek die asblik en ons moet dit vervang. Ons vra dat mense dit met respek hanteer en nie verniel nie,” het Hein gesê.

Me. Helena Augustinus, van die munisipaliteit, het gesê stukkende asblikke kan na die Kupferberg-stortingsterrein geneem word.

“Hier word dit in klein stukkies opgesnipper en na Plastic Packaging se herwinningsaanleg op Okahandja gestuur. Dan word dit herwin en plastieksakke of polivinielpype word daarvan gemaak,” het sy gesê.

Kontrakteurs sorteer alle herwinbare materiaal soos glasbottels, plastiek, papier, blikke, yster en bokse uit die rommel sodat dit na Rent-A-Drum se herwinningsaanleg geneem kan word.

Huishoudelike afval wat herwin kan word, word deur huiseienaars in deurskynende plastieksakke gepak en deur Rent-a-Drum afgehaal.

By hul aanleg word dit gesorteer en na Suid-Afrika of na Ohorongo Cement by Otavi gestuur.

Mnr. Abraham Reinhardt van Rent-a-Drum het gesê hulle hanteer tans 60 ton herwin­bare materiaal per dag.

“Ons stuur sowat 200 ton herwinbare materiaal per maand van ons aanlegte van Windhoek, Walvisbaai, Swakopmund en ­Oshakati na Suid-Afrika waar dit dan verder herwin word,” het Reinhardt gesê.

Tans haal Rent-a-Drum tussen 110 en 114 ton herwinbare materiaal van huishoudings in Windhoek af.



plastiek

'n Aanleg wat plastiek herbruikbaar maak, is al 'n jaar lank in werking.

Plastiek word hier fyn gesnipper en verpak. Dit word dan weekliks na Ohorongo Cement naby Otavi vervoer.

“Hulle gebruik dit as plaasvervanger vir houtskool of houtskaafsels om hul oond te verhit,” het Reinhardt gesê.

Tuinafval en bourommel kan in groot, oranje houers, beter bekend as skips, gegooi word vanwaar die munisipaliteit dit na sewe stortingsterreine vervoer.

Inwoners kan ook direk na die stortingsterreine op Okuryangava, Havana, Khomasdal, Otjomuise, Pionierspark, Eros, Ludwigsdorf en Kleine Kuppe gaan en verniet van hul afval ontslae raak. Geen ander vullis, hetsy herwinbaar of huishoudelik, mag in skips gegooi word nie. “Indien inwoners mense sien bou- of tuinrommel in 'n rivier of by 'n oop terrein weggooi, kan hulle ons kantoor gedurende kantoorure by 061 290 3110 skakel sodat ons verdere stappe kan doen.

“Dit sal help as hulle ons van die betrokke voertuig se registrasienommer of die asbliknommer wat gebruik is, kan voorsien. Dan kan ons die oortreder makliker opspoor,” het Hein gesê. Oortreders sal eers 'n oortredingskennisgewing ontvang.

Hulle sal ook tyd gegun word om die rommel te verwyder.

Indien dit nie gedoen word nie, sal hulle beboet word. Die munisipaliteit sal dan 'n span uitstuur om die rommel te verwyder en die koste hiervan sal by die oortreder se ­munisipale rekening gevoeg word.

“Inwoners wat by hul huise bou en nie 'n bakkie het om die rommel mee weg te ry nie kan ons kontak en ons sal dit vir hulle doen en die bedrag by hul munisipale rekening voeg,” het Hein gesê.

Gevaarlike afval word ook by die Kupferberg-stortingsterrein hanteer.

“Mense gooi egter steeds hul batterye in hul asblikke. Varta het houers by verskeie winkels uitgesit, insluitend Pick n Pay in die Auas Valley-winkelsentrum, die Eros- en ­MegaCentre-sentrums, Pupkewitz Megabuild en MegaCenter, en die Dagbreek-skool in Klein Windhoek. Ons versoek dat mense hul ou ­batterye daar weggooi sodat ons dit as gevaarlike afval by die Kupferberg-stortingsterrein kan hanteer,” het sy gesê.

Elektroniese afval kan in die houer by die Kleine Kuppe-stortingsterrein of die Kupferberg-stortingsterrein gegooi word.

“Alles wat met 'n kragprop of 'n battery werk, val in dié kategorie. Dit sluit huishoudelike items van 'n yskas tot 'n ketel in. Ons is nog aan die beginfase van onderhandelinge met Transworld E-Waste sodat hulle die afval bymekaar kan maak en Suid-Afrika toe stuur,” het Hein gesê.

Mediese afval word by die nuwe verbrandingsoond en outoklaaf-aanleg in die noorde­like nywerheidsgebied hanteer.

Hierdie fasiliteit sal van 2 Mei af ten volle in werking wees.

“Afval en die bestuur daarvan is ons almal se verantwoordelikheid. Dit begin by ons. Ons moet probeer om afval in ons huishoudings te verminder.

“Ons moet items soveel keer hergebruik as wat ons kan en ons moet herwinbare materiaal afsonderlik weggooi sodat dit herwin kan word.

“Laastens moet ons van die afval wat oorbly op 'n verantwoordelike manier ontslae raak. Ons moet ook na verpakkings ensovoorts kyk wanneer ons inkopies doen,” het Hein gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!