Rook as jy wil rook
Rook as jy wil rook

Rook as jy wil rook

Karin Eloff
As lid van die samelewing wat voortdurend daarna streef om my lewe vir myself effens makliker te maak, stel ek nogal belang in gesondheidsraad.

Hoe om meer energie te hê, hoe om nie kanker te kry nie, hoe om nie twee sitplekke op ’n vliegtuig vol te sit nie en hoe om nie in jou kar ’n hartaanval of beroerte te kry nie, maar eerder op ’n geleë plek, soos by die Grove, waar jy ten minste ’n katspoegie ver van die hospitaal af is (ons weet mos nou staatshospitale is eenvoudig nie ’n opsie nie; werk jou eerder dood sodat jy jou emmertjie darem in ’n private hospitaal kan skop).

Om al dié lelike goed te vermy, het ek opgehou om dwelms in my neus op te druk, ek rook lankal nie meer nie, en ek drink nou deesdae ook net per geleentheid.

Die veertigs bied reeds genoeg uitdagings. Rooi drankwange, ’n wynvatlyf en ’n benewelde nagrus gaan alles net honderd keer erger maak. Wyn laat my in elk geval huil.

Verder vreet ek nie meer elke dag ’n pakkie NikNaks nie, want my gemoed is bright genoeg. Ek glo nie dis nodig dat my insides ook nog so helder soos die kleurmiddels E110, E124 en E160 skitter nie. Ek probeer carbs vermy en ek werk daagliks ’n komkommertjie en ’n tamatietjie in. Ek het steeds nie ’n perdebylyfie nie, maar darem nou ook (nog nie) dié van ’n bran muffin nie. Erm . . . ja, julle, selfs bran muffins maak vet.

In fact, selfs suurstof maak vet as jy oor 40 is.



Maar nou’s ek verward.

Noorweë se nuwe minister van gesondheid, die populistiese Sylvi Listhaug, sê glo mense kan maar soveel eet, rook en drink soos hulle wil. Natuurlik juig die helfte van Noorweë, en die ander helfte sê die vrou is van haar kop af.

Maar sy sê sy wil nie ’n “morele polisieman” wees nie. Oukei, nou maak dit sin.

Daarvan hou ek baie.

Samelewings wat moreel gepolisieer word (soos waar pornografie, aborsie en selfdegeslaghuwelike onwettig is), staan inderwaarheid in morele kinderskoene en is gevaarlik. Só word mense geleer om nie (soos grootmense) verantwoordelikheid vir hulself te neem nie, of om vir hulself te dink nie.

Iets is “verkeerd”, want juffrou sê so, of die dominee sê so, of die Grondwet sê so, maar ek weet nie eintlik hoekom nie, ek stem maar net saam, want nounou kry ek pak. Dis bietjie graad eentjierig, is dit nie?

Los mense tog dat hulle hul eie besluite neem.

“Ek sal nie mense aansê oor hoe hulle hul lewe moet leef nie. Tog gaan ek mense help om inligting te kry wat die grondslag vir hul besluit kan vorm,” het Listhaug volgens Netwerk24 aan The Nordic Page gesê.

En dan gaan sy verder en sê sy dink rokers word onderdruk, voel of hulle moet wegkruip, en dít is net simpel.

“Hoewel rook nie goed is nie en skade veroorsaak, moet volwassenes self besluit wat hulle doen. Al wat ons as regering doen, is om inligting te gee. Dit is nie ’n politieke taak om mense te sê wat hulle moet doen en wat nie,” het sy verder aan die plaaslike koerant gesê.

Ek stem saam met haar – solank as wat jy niemand anders skade berokken nie, natuurlik, kan jy tog eet, rook en drink wat jy wil.

Miskien is dit tyd dat ons ophou om neus-in-die-lug oor ons eie gesonde gewoontes te wees.

Dis wonderlik om wonderlik te voel, maar kom ons los die oordeel.

“Gesonde” mense kry óók hartaanvalle en kanker.

Laat mense self besluit.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!