Rou talent aan diep kant ingegooi
Rou talent aan diep kant ingegooi

Rou talent aan diep kant ingegooi

Die internasionale vensterperiode skep 'n kans vir nuwe spelers om provinsiale rugby te proe.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Afrigter Phil Davies het vandeesweek sy voorkeurkandidate vir die komende toer na Uruguay onttrek en eerder die presteerders in die premierliga betrek vir die Windhoek Draught Welwitschias wat môre die Luiperds in Windhoek aanpak.

'n Kommerwekkende beseringslys wat in die laaste week verder aangegroei het, het Davies basies gedwing om Namibië se nasionale span voor hul vertrek na Uruguay vir die Wêreldrugby Nasiesbeker in watte toe te draai.

Die SuperSport uitdaagreeks en spesifiek die Luiperds môre word dus vir 'n talentvolle, maar onervare groep klubspelers die afspringplek om hul kleim op hoër louere af te steek.

“Geen spelers vir die Nasiesbeker-toer is beskikbaar gestel om teen die Luiperds te speel nie,” het Davies gister in 'n nuusverklaring bekend gemaak.

Davies sê hy en die hoofafrigters van die premierligaklubs, onder leiding van Johan Diergaardt (FNB Unam), het 'n oefengroep van talentvolle spelers uit die klubwedstryde geïdentifiser wat nie net die Luiperds nie, maar ook die ander twee oorblywende wedstryde (Pumas weg en Valke tuis) sal aanpak.

“Oor die laaste maand het die Welwitschias se spelersgroep en bestuurspersoneel nouer met die premierligaklubs saamgewerk om die land se opbou na die Wêreldbeker te ondersteun.

“Die belangrike mikpunt van dié samewerking is om 'n gladde oorgang te bewerkstellig vir die laaste twee SuperSport-uitdaagwedstryde, wanneer die nasionale span weg is wat op Vrydag 31 Mei vertrek.

“As nasionale afrigter was my bedoeling nog deurgaans om die talentpoel te vergroot.

“Ek glo die vennootskap werk baie goed en ek het waardering vir die insette en bydrae van die klubs.

“Hierdie volgende paar weke is 'n fantastiese geleentheid vir alle betrokke spelers om hul hand op te steek, want Namibië se voorlopige Wêreldbeker-groep van vyftig spelers moet reeds binne die volgende vier weke ingedien word,” sê Davies.

Dit is verstaanbaar dat die Wallieser 'n positiewe prentjie skets, hoewel die omwenteling in sy Welwitschias-groep ook deur sy groeiende lys van beseerde spelers beïnvloed is.

Mahepisa Tjeriko (slot, knieligamente), die heelagter Chrysander Botha wat verlede week ná 'n gebreekte vinger geopereer is, asook die vleuel PJ Walters (gebreekte voorarm in die Griekwas-wedstryd twee naweke gelede) was reeds op die krukkelys, voordat nog drie spelers verlede naweek beseer is.

Vroeg in die Welwitschias se nederlaag Sondag op Rustenburg teen die Griffons het Chris Arries, wat as heelagter begin het, sy enkel gebreek. Arries is sedertdien geopereer en dit word nie verwag dat die ongelukkige Unam-speler vanjaar weer op die veld sal wees nie.

Die haker Louis van der Westhuizen het ook 'n kniebesering opgedoen wat gemonitor moet word, terwyl die vleuel Janry du Toit knieligamente beseer het kort nadat hy in sy klubspan FNB Wanderers se nederlaag teen Trustco United as 'n plaasvervanger opgestuur is.

Die uiteinde is dat net drie spelers – haker Roderique Victor, skrumskakel JC Winkler en vleuel Russell van Wyk – oorgebly het van die Griffons-wedstryd laas naweek om dalk môre weer betrokke te wees.

Die nuwe groep van 31 spelers uit wie Davies en sy afrigterspan gisteraand die beginspan teen die Luiperds sou saamstel, bevat elf spelers wat nog geen Namibiese trui op senior provinsiale vlak oor die kop getrek het nie.

In hierdie elftal is egter gewese nasionale o.20-uitblinkers soos Rheinhardt Carelse, Gilad Plaatjies, Jay-C Olivier, Hanreco van Zyl en Brandon Groenewald.

Feitlik sonder uitsondering blaas die aangewese spelersgroep in die nekke van Namibië se bestes en dit is heel moontlik dat uitblinkers môre teen die verwagtinge in hul stem kan dik maak.

Om egter te verwag dat die nuwe kombinasie sonder die leiding van ervaring Namibië se eerste oorwinning vanjaar moet behaal, is nogal baie gevra.

Die Windhoek Draught Welwitchias:

Stutte: Nian Berg (Wanderers), Simon Kanime (Unam), Calla Freygang (Rehoboth), Quintin Esterhuizen (Wanderers).

Hakers: Roderique Victor (Western Suburbs), Gerhard Thirion (United).

Slotte: Denzil van Wyk (Wanderers), Enzio Kotzee (Unam), Rheinhardt Carelse (Unam), Jandre Lamprecht (United).

Losvoorspelers: Peter Diergaardt (Wanderers), Gilad Plaatjies (Unam), Berry Gande (Unam), Driaan Vorster (Wanderers), Mogamat Emamdien (Western Suburbs), Stef Botha (Wanderers).

Skrumskakels: JC Winkler (Western Suburbs), Jay-C Olivier (Unam).

Losskakels: Henrique Olivier (Rehoboth), Justin Nel (Western Suburbs), Hanreco van Zyl (United).

Senters: Camlo Martin (Unam), Milaan van Wyk (UNAM), Brandon Groenewald (Wanderers), Jamie Joseph (Wanderers).

Vleuels: Russell van Wyk (Western Suburbs), Nikin Cloete (Western Suburbs), Tuna Amutenya (Wanderers).

Heelagters: Mahco Prinsloo (Wanderers), Lorenzo Louis (Unam), Ricardo Swartz (Western Suburbs).



LUIPERDS

Die besoekers onder afrigterskap van die gewese Bok-losskakel André Pretorius sal vuur en vlam wees om hulle teen die wenlose span in die noordelike groep as die boelie te vestig.

Die Noordwesters moes Sondag 'n nederlaag van 50-52 teen die Valke afsluk en kaptein Edmund Rheeder se beginspan bevat opnuut twee gevestigde Namibiese lede, naamlik die slot Johan Retief en stut Nelius Theron.

Die Luiperds: 15 Chuiner van Rooyen, 14 Lungelo Gosa, 13 Evardi Boshoff, 12 Tjaart Benade, 11 Eugene Hare, 10 Schalk Hugo, 9 Yuseph Abrahams, 8 Edmund Rheeder (kaptein), 7 Morné Moos, 6 Wandi Mazibuko, 5 Johan Retief, 4 Henro Swart, 3 Robert Hunt, 2 Gustav du Rand, 1 Nelius Theron. Reserwes: Ruan Groenewald, Matimu Manganyi, Wilmar Groenewald, Andre Fouche, Bradley Moolman, Akhona Nela, Keagan Tait.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!