Rusland stel oud-Bokke aan die stuur

Dick Muir en Os du Randt neem die leisels van die Bere, ná Lyn Jones se bedanking.
Rusland bevind hom op die agtervoet in die uiters kompeterende kwalifiserende veldtog vir die 2023 Wêreldbeker-rugbytoernooi wat in die Europese streek afspeel.

Die Russiese Bere moet boonop by ’n nuwe afrigtingspan aanpas in die wedloop teen sy Europese mededingers.

Lyn Jones, die Wallieser wat tevore ook die Welwitschias van Namibië in die provinsiale reekse in Suid-Afrika afgerig het, het aan die einde van November 2021 uit die amp as hoofafrigter getree.

Jones (57) was vir drie jaar aan die stuur van Rusland en het lofprysing verwerf toe die land vir Japan 2019 as sy tweede deelname aan die Wêreldbeker deurgedring het.

Terwyl die beslissende deel van Europa se kwalifiserende wedloop erg deur uitstelle vanweë uitbrekings van Covid-19 geraak word en reise tussen Moskou en sy tuisland al hoe moeiliker geraak het, het Jones besluit om as afrigter van Rusland te bedank.

Igor Artemyev, voorsitter van die Russiese rugbyfederasie, het gesê hy het groot respek vir Jones se werk en die positiewe ommekeer wat hy vir die nasionale span bewerkstellig het. “Hierdie momentum kan in die toekoms goeie vrugte afwerp.”

In Jones se plek is die voormalige Springboksenter Dick Muir net voor Kersfees as Rusland se nasionale afrigter aangestel, terwyl die legendariese Springbokstut Os du Randt ook verlede week tot die afrigtingspan bygevoeg is.

Muir (56) het in 1997 in vyf toetse vir Suid-Afrika gespeel. Hy is ’n oud-afrigter van die Haaie en was ook ’n Bok-hulpafrigter toe Peter de Villiers die span tussen 2008 en 2011 gebrei het.

Du Randt (49) se ervaring as skrumafrigter sal vir die Russe ook ’n groot aanwins wees. Die destydse Cheetahs-loskopstut is een van net twee Springbokke wat twee keer lid van ’n Wêreldbeker-kampioenspan was (1995 en 2007). Die enigste ander speler met dié prestasie was Frans Steyn in 2007 en 2019.

Du Randt het tussen 1994 en 2007 in 80 toetse vir die Springbokke gespeel. Hy was in 2009 die Cheetahs se skrumafrigter en die Bokke se skrumkonsultant in 2010 en 2011.

Rusland se aartsvyand Georgië is egter tans die voorloper in die Europese kampioenskap. Ná vyf wedstryde elk is Georgië (24 punte) die voorloper teen Roemenië (14), Portugal (14), Spanje (12), Rusland (9) en Nederland (0).

Net twee Europese lande dring regstreeks tot die Wêreldbeker deur, terwyl span nommer drie nog ’n kans teen naaswenners van ander vastelande kry.

• In sewesrugby het Rusland verlede maand ook die dienste van Vuyo Zangqa, ’n voormalige Blitsbok wat ook kortstondig tot die Namibiese sewesspan bygedra het, as sy hoofafrigter vasgeknoop.

– Bygewerk van Netwerk24

Vandeesweek se top-30 lande op die ranglys van Wêreldrugby:

1 Suid-Afrika 90.61 punte

2 Nieu-Seeland 88.75

3 Engeland 87.83

4 Ierland 86.53

5 Frankryk 85.53

6 Australië 83.92

7 Skotland 83.05

8 Wallis 81.56

9 Argentinië 80.58

10 Japan 78.26

11 Fidji 76.62

12 Georgië 73.72

13 Samoa 73.59

14 Italië 70.51

15 Roemenië 67.91

16 Tonga 67.72

17 VSA 66.54

18 Uruguay 66.40

19 Spanje 66.20

20 Portugal 65.84

21 Kanada 61.80

22 Hongkong 61.23

23 Chili 59.88

24 Namibië 59.72

25 Rusland 58.60

26 Nederland 56.82

27 België 54.86

28 Pole 53.81

29 Brasilië 53.31

30 Duitsland 53.15

FOTO’s
Dick Muir, gewese Springboksenter, is die nuwe hoofafrigter van Rusland.
Os du Randt in ’n ligte luim by ’n oefensessie van die Springbokke in Dublin in November 2010. Foto Gallo Images/Getty Images
Os du Randt was in 2013 ’n afrigter van sy geliefde Toyota Cheetahs. Foto Gallo Images
Lyn Jones op die oefenveld met Rusland tydens die 2019 Wêreldbeker in Japan. Foto Nampa/AFP

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!